“Vroue is die gom wat als byÂmeÂkaarÂhou,†sê Amore Bekker in haar gesprek met Rilette Meyer dié week, én voeg by, “dit [is] vir my hartseer wanneer ek hoor van vroue wat hulself nie na waarde ag nie.
“Vroue is die gom wat als bymekaarhou,” sê Amore Bekker in haar gesprek met Rilette Meyer dié week, én voeg by, “dit [is] vir my hartseer wanneer ek hoor van vroue wat hulself nie na waarde ag nie.”
Oprah Winfrey is geen onbekende nie. Of ons nou vasgenael voor die TV gesit het en na haar bekende geselsprogram gekyk het al dan nie, jy moes minstens al haar naam gehoor het. Dié program het ná 25 jaar ten einde geloop en dit was interessant om in dié tydperk joernaliste, veral manlike joernaliste, se menings oor haar in die media te lees. Daar is diegene wat laat blyk het dat hulle werklik bly is haar program is nie meer op die lug nie en hulle het allerlei redes aangevoer hoekom hulle dink sy is oorskat. Gelukkig is daar ook die wat haar na waarde ag.
Ek het nie smiddae huis toe gejaag om na haar program op TV te kyk nie, daarvoor het ek te veel hooi op my vurk, maar ek het wel ’n keer of wat na van haar programme gekyk. Tydens die afgelope universiteitsvakansie het my dogter vir ’n week by ons gekuier en omdat ek geweet het sy het gereelder na die Oprah Winfrey show gekyk, het ek my saam met haar vir ’n uur lank voor die TV tuisgemaak om na die heel laaste program te kyk. Ek moet sê, ek was aangenaam verras en beïndruk met dié besondere vrou.
In die uur lange program het sy die gehoor en kykers, dikwels ten koste van haarself en met ’n sin vir humor deur die afgelope 25 jaar se uitsendings geneem. Oprah het nooit in haar wildste drome gedink dié program gaan haar so bekend maak nie. Sy was ’n joernalis wat ’n kans gekry het om ’n geselsprogram aan te bied en met haar eerste uitsending was daar nie eers ’n gehoor nie. Niemand het regtig belanggestel om deel van die gehoor in die studio te wees nie. Hoe het sy dit dan reggekry dat ’n beskeie program so gegroei het dat sy vandag in ’n posisie is om onder meer haar eie tydskrif en netwerk te hê? As jy na haar laaste uitsending gekyk het, besef jy hoe sy dit reggekry het. Uiteraard het sy ’n fenomenale span mense wat saam met haar werk, maar dis haar ingesteldheid teenoor mense wat die knoop deurgehaak het.
Uit die duisende met wie sy onderhoude gevoer het, het sy agtergekom dat daar een iets is wat ons almal gemeen het – almal soek “validation” en op haar manier het sy haar program se verhoog gebruik om mense te “validate”. In Afrikaans kan die woord onder meer vertaal word as: “bevestiging, bekragtiging, geldigverklaring”. Dis sterker begrippe as om bloot as mense erken te word. Om “geldig” te wees, gee menswaardigheid.
In haar laaste boodskap vanaf die verhoog in die studio in Chicago, is dit ’n passievolle Oprah wat aan die kykers en die gehoor die belangrikheid van menswaardigheid probeer verduidelik. As ’n arm, swart dogtertjie uit die suide van Amerika, het sy in haar graad 4-klas die eerste keer “validated” gevoel. Haar onderwyseres het haar toegelaat om soms die godsdiens aan die einde van die klas te lei en koekies aan die klas uit te deel. Dié vrou was deel van die gehoor met die laaste program en Oprah het in die openbaar aan haar die erkenning gegee vir dit wat sy jare gelede gedoen het om haar menswaardigheid te versterk. Soos Oprah sê: Dit maak nie saak wie jy is, watter werk jy het, hoeveel geld jy het, watter posisie jy in die samelewing beklee, of hoe bekend jy is nie, elke mens het ’n doel in die lewe en maak nie saak van watter verhoog af jy dit doen nie, dit wat jy doen is belangrik en moet jou nie alleen selfwaarde gee nie, maar jy moet dit gebruik om menswaardigheid aan ander te gee.
Dit laat my dink aan die rolprent Avatar, waarin die blou wesens mekaar op ’n besondere wyse groet. Hulle sê nie bloot: “Hallo” of “Goeiedag” nie, hulle groet mekaar met dié woorde: “Ek sien jou”. Ek weet dis net ’n storie op ’n groot skerm, maar miskien moet ons as mense iets daaruit leer, dat ons mekaar moet raaksien en “validate”. Dalk maak ons die wêreld vir almal ’n beter plek as ons begin deur onsself na waarde te ag en ander menswaardig te behandel.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.