Wat is dit aan ’n braaivleisvuur wat Suid-Afrikaners gelukkig maak?
Eet is vir my iets wat ek doen wanneer ek honger is, die ritueel en roetine daaraan verbonde is iets waarsonder ek kan klaarkom. ’n Vars rolletjie met sterk kaas en ’n glas wyn is vir my ’n lieflike aandete. Bygesê, as ek honger is, moet ek eet, anders raak ek onplesierig.
My geliefde dink anders oor kos. Hy dink soos die meeste mense – die ritueel en roetine is juis vir hom belangrik. Trouens om kos te maak, is vir hom terapeuties. En hy hou van braai, veral op ’n houtvuur. Met ’n G&T in my hand, die twee katte by ons en musiek op die agtergrond verdwyn my eie probleme en kwellings oor die chaos in die wêreld vir ’n wyle wanneer hy die vuur aansteek om te braai. Die reuk van ’n houtvuur maak my gelukkig en kalm.
En vir ’n gebraaide tjoppie met ’n krakerige vetrandjie en ’n glas rooiwyn sal ek nie nee sê nie. Ons almal weet almal in hierdie land sit nie om dieselfde vuur nie. Elkeen dink sy of haar mening, taal, kultuur, godsdiens, poltieke siening – die lys is lank – is hoe dit moet wees. Selfs binne groepe wat hulle by mekaar skaar, is daar dikwels groot verskille. Hoe lui die grappie nou weer? As jy nie saamstem met die mense in die kerk nie, stig jy af en vorm ’n nuwe kerk.
Wat is dit aan ’n braaivleisvuur wat Suid-Afrikaners gelukkig maak? Ek dink Jan Braai het die antwoord 13 jaar gelede gekry toe hy Nasionale Braaidag saam met Erfenisdag laat val het. Want jou erfenis en my erfenis is nie noodwendig dieselfde erfenis nie – wat vir jou belangrik is, is nie noodwendig vir my belangrik nie. Maar ons almal hou van braai (wel die meeste van ons, dink ek). Dis nie eksklusief tot een groep mense in Suid-Afrika nie. Jan Braai het dit reggekry om op dié dag iets wat ons saamsnoer, te vier en om ons verskille vir ’n wyle te laat verdwyn. Dalk moet ons meer braaidae en minder onthoudae in hierdie land hê – dan kom ons dalk agter dat ons verskille eintlik onbenullig is. En dalk sit ons dan makliker om dieselfde vuur.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.