Willie Burger kyk na James Wood se nuutste boek, The Nearest Thing to Life, wat ’n boeiende mengsel van literêre kritiek en outobiografiese herinnerings is
Week ná week skryf ek op hierdie blad oor boeke. Soms is my doel om bloot nuwe boeke onder lesers se aandag te bring. Ander kere probeer ek om my opwinding en insigte oor sekere leeservarings met lesers te deel. Dikwels probeer ek verduidelik hoe sekere boeke inmekaarsteek en hoe hulle met ander boeke en met die omstandighede waarin hulle verskyn, verband hou.
Maar wat ek eintlik die graagste wil regkry, is om iets verhelderends, nie net oor boeke nie, maar oor die lewe kwyt te raak. Ek skryf immers oor boeke waarin daar telkens ervarings van die lewe uitgedruk word en as hierdie ervarings nie vir ons iets oor ons eie lewens sê nie, waarom lees ons dan? Een skrywer wat na aanleiding van sy fyn lees van romans verhelderend oor die lewe skryf, is James Wood. Wood woon sedert 1995 in die VSA en hy gee klas in literêre kritiek aan die Harvard-universiteit terwyl hy ook vir die New Yorker skryf, maar hy kom oorspronklik uit Engeland.
Hoewel hy in die letterkunde en literatuurteorie aan Cambridge studeer het, was hy nie gelukkig met die manier waarop letterkunde aan universiteite ondersoek word nie en hy het besluit om sy lewe met die skryf van resensies en essays oor die literatuur te maak, eerder as om die akademie te betree. Wood se boek How Fiction Works (2008) is ’n uitstekende gids tot die lees van fiksie. Sonder om vas te val in ’n snuiftrappery van hoe tekste “werk”, terwyl die konteks van tekste en hul betekenis verlore gaan, is How Fiction Works ’n praktiese gids vir lesers, terwyl dit deurentyd die implikasies van lees vir die lewe oopmaak. In The Broken Estate (1999) word meer as 20 opstelle oor die werk van verskillende skrywers saamgebundel.
LEES OOK:Kies ‘n boek: My First SA Atlas, Reisigers, Leliemoordenaar
Telkens slaag hy daarin om in hierdie essays (juis “essays” want hulle is veel meer as boekbesprekings of resensies) aspekte van ons ervaring van die wêreld te belig. Wood se nuutste boek is The Nearest Thing to Life. Die titel kom uit ’n aanhaling van George Eliot wat lui: “Art is the nearest thing to life; it is a mode of amplifying experience and extending our contact with our fellow-men beyond the bounds of our personal lot.” Die boek bestaan uit vier essays waarvan die eerste drie as voordragte by die Brandeis-universiteit gelewer is en die vierde as lesing by die Britse Museum aangebied is. The Nearest Thing to Life is ’n boeiende mengsel van literêre kritiek en outobiografiese herinnerings.
Veral die eerste essay is indrukwekkend. Die titel daarvan is “Why?” en die vraag gaan eintlik oor die groot vraag na lewensin? Waarom is ons hier? Om ’n roman te lees, redeneer Wood, is om voortdurend tussen die sekulêre en die religieuse te beweeg, tussen die spesifieke voorbeeld (sekulêre) en die groter patroon (religieuse). Wat hy hiermee bedoel, is dat die romankuns aan die een kant gemoeid is met die alledaagse, die fyn besonderhede wat oor ’n spesifieke situasie of gebeurtenis meegedeel word. Hierdie opstapeling van detail, die volledige beskrywings, gee aan ’n roman die gevoel van lewe – dit bied aan die leser die ervaring dat hy ’n oomblik van die lewe ervaar. Die fyn besonderhede, die klem op ’n verduideliking van ’n enkele gebeurtenis wat soms bladsye kan beslaan, is juis dit wat “lifeness”, die gevoel van lewendigheid aan ’n roman gee.
LEES OOK:Kies ‘n boek: Confluence
Die enkele gebeurtenis word daardeur tot iets groots uitgebrei. In enkele woorde of sinne word die leser van die lewe bewus gemaak. Teenoor hierdie “sekulêre” aspek van die roman, wat die leser van die lewe bewus maak, wat ’n mens die lewe in die fyn besonderhede laat raaksien, staan dit wat Wood die “religieuse” of “ewige” aspek van romans noem. Hiermee bedoel hy dat die romankuns nie slegs aan die lewe herinner nie, maar ook aan die dood. Die lewe word altyd deur die dood ingebind.
Dit is eers met die dood, aan die einde van ’n lewe, wat al daardie oomblikke en gebeurtenisse in ’n mens se lewe hul betekenis kry. ’n Mens se lewe is immers ’n versameling van gebeurtenisse waarvan die laaste ’n mens se dood is. Hierdie laaste gebeurtenis bepaal die betekenis van al die voorafgaande gebeurtenisse; kan bepaal watter van daardie gebeurtenisse eintlik belangrik is en watter nie en hoedat hulle aaneenskakel. Die romankuns is vir Wood geskik om die “Hoekom?”-vraag oor ons lewens te beantwoord omdat die gewone voorbeelde van lewe enersyds so helder opgeroep word dat ’n mens werklik van die lewe bewus word, terwyl dit andersyds ook ’n voltooide patroon van ’n lewe as ’n geheel aanbied.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.