As jy van verhale oor die liefde en verhoudings hou, kan jy gerus lees wat Willie Burger oor die volgende boeke te sê het
TUISKOMS. STORIES OOR DIE LIEFDE
deur Irma Joubert, Tafelberg
Tuiskoms is ’n versameling van 16 verhale oor die liefde. Joubert is ’n geliefde skrywer van romans soos Tussen stasies, Anderkant Pontenilo en Pérsomi. Sy is egter ook ’n bedrewe kortverhaalskrywer. Hierdie verhale het gedurende die afgelope ses jaar in verskeie tydskrifte verskyn. Dit is nie slegs verhale oor liefde tussen man en vrou nie, maar ook oor die liefde tussen ouers en kinders en tussen broers en susters. Die bundel is ideaal vir diegene wat net kort tydjies vir lees tot hul beskikking het.
LEMOENSEISOEN
deur Kristel Loots, LAPA-Uitgewers
Kristel Loots se Lemoenbloeisels is ’n lekker dik liefdesroman van byna 400 bladsye. Suzy is baie ongelukkig as mevrou Dominee. Haar man stel nie veel in haar belang nie. Sy is egter nie ’n magtelose slagoffer wat op een of ander man moet wag om haar te kom red soos in die ouer liefdesverhale nie. Sy breek uiteindelik uit haar ongelukkige bestaan weg en haar lewe maak wye draaie, tot in Londen.
HOOGTY
deur E Kotze, Kwela
Kotze het met Toring se baai, ’n groot “Weskus-roman”, bekendheid verwerf. Hoogty is eweneens ’n roman wat teen die Weskus afspeel (hoewel groot dele in die Vrystaat afspeel). Helena Burger se storie is nie bloot ’n liefdesverhaal wat eintlik gaan om die soeke na ware liefde en dan uiteindelik daarby stop nie. Dit gaan veel verder. Daar is wel sprake van ’n ingewikkelde liefdesdriehoek (of eintlik vierhoek), maar uiteindelik gaan dit oor verhoudings, eerder as oor die opwindende weë van verliefdheid. Die skrywer steun meer op beskrywings en stemming as op vinnige intrige. Talle jonger lesers wat na “chick lit” op soek is, sal die roman stadig vind, maar daar is veel lewenswysheid oor verhoudings vir diegene wat aanhou lees.
MARGIE VAN DIE SEMINARY EN ANDER VERHALE
deur Winnie Rust, Human en Rousseau
Toe ek uiteindelik een keer vir ’n paar dae op Wellington moes oorbly, het Winnie Rust se roman Martha gedurig weer by my opgekom. Ek het telkens gewonder teen wattter heuwel buite die dorp almal gaan sit het om vir die einde van die wêreld te wag. Winnie het ’n deel van die geskiedenis van dié dorp en omgewing op boeiende manier laat lewe kry. In Margie word ses verhale van vroue vertel. Al ses vroue het in een of ander stadium op Wellington beland. Die verhale (behalwe een) is op die werklike ervarings van historiese figure geskoei. Sy kry dit reg om die verlede van die dorp, die eras van die Victoriaanse tyd en die hele 20ste eeu deur fyn besonderhede te rekonstrueer en om telkens die ervarings van liefde en die verlange na liefde in al die vrouens se lewens op roerende manier te vertel.
KLASSIEKE WERK
ANNA KARENINA
deur Leo Tolstoy
Italo Calvino beskryf ’n “klassieke boek” as ’n boek waarvan niemand ooit sê dat hulle besig is om dit te lees nie, maar altyd dat hulle dit onlangs herlees het of besig is om dit te herlees. Hiermee sê mense eintlik een van twee dinge: enersyds impliseer dit dat dit die moeite werd is om hierdie boek meer as een keer te lees en andersyds kan dit ook dui op skynheiligheid by die leser; dat die leser eintlik net te skaam is om te erken dat hy nou vir die eerste keer die boek lees. As die algemene opvatting is dat alle belese mense reeds hierdie “klassieke” roman gelees het, kan jy tog nie erken dat jy dit (nou eers!) vir die eerste keer lees nie.
Tolstoy se Anna Karenina is ’n klassieke werk wat ’n mens minstens een keer in jou lewe behoort te lees. (Deesdae is dit moontlik om die volledige werk van Tolstoy vir ongeveer R28 op jou Kindle af te laai!) Anna se liefde vir Vronsky, maar die onmoontlikheid van ’n normale verhouding tussen hulle weens hul sosiale posisies – sy is getroud en word weens haar verhouding met Vronsky uit die Moskouse sosiale lewe verstoot – lei uiteindelik tot agterdog, jaloesie en toenemende wrewel. Levin en Kitty se verhouding word gevolg deur al die moeilikhede wat ’n verhouding maar kan deurgaan: Levin se gesukkel om iemand naby aan hom toe te laat, om gepas op hul eersteling se geboorte te reageer, sy stryd met geloof …
Hierdie is maar net enkele aspekte
van hierdie roman van by die 900
bladsye wat al as “die perfekte roman”
beskryf is. Enigeen wat wil weet hoe
om oor mense te skryf, kan uit hierdie boek leer. Vk