Oor nasionalisering in Suid-Afrika waaroor Carla van der Spuy vir ons hierdie week met kenners gepraat het, kan ’n mens ‘n vurige debat voer, maar ek het gewoon nie dié keer lus om weer oor ‘n politieke tameletjie te skryf nie
Oor nasionalisering in Suid-Afrika waaroor Carla van der Spuy vir ons hierdie week met kenners gepraat het, kan ’n mens ’n vurige debat voer, maar ek het gewoon nie dié keer lus om weer oor ’n politieke tameletjie te skryf nie. Dis te kort op die hakke van laas week se ernstige skrywe. Boonop het Luisa van der Linde se artikel oor die media my net weer laat besef dat, hoewel ons nie soos volstruise met ons kop in die sand deur die lewe moet gaan nie, ons soms ook net dinge wat ons vreugde bring, of oor die ligte kant van die lewe wil lees.
Sommer met die intrapslag gee Antoinette Kellerman in haar gemaklike gesprek met Hannes van Wyk dié week ’n eerlike beskrywing van haarself as sy sê: “Ek dink mense sien my as beneuk, moeilik, plofbaar en iemand wat sê wat sy dink.” In dieselfde asem sê sy egter ook dat sy nie wrokke koester nie, maklik vergeet en ná konflik spyt het. Dis heerlik om te lees wat dié formidabele vrou als te sê het en ek wil nie die storie hier weggee nie, maar die kykie wat sy ons in haar gelukkige verhouding met haar man van die afgelope paar jaar gee, het my laat dink aan die gesprekke onder, ons vroue in die kantoor ’n tyd gelede, ná ’n meningsverskil tussen my en my geliefde een aand.
Ek weet nie wat mans doen as hulle van hul vroue verskil nie, en ek weet nie of hulle dit weet nie maar vroue praat as hulle bly, opgewonde en gelukkig is, maar ook as hulle omgekrap, ontsteld en die joos in is – les nommer 1 vir mans. So stap ek die oggend in die kantoor in en laat my uit oor die kompleksiteit van verhoudings. Waarop my gemoedstoestand met ’n luide applous beaam word, want duidelik is ek nie die enigste een wat daardie oggend kriewelrig voel oor ek nie aldag die manlike spesie se optrede verstaan nie. Oor stomende bekers koffie en al werkende voor ons rekenaars draai die gesprek oor die wel en wee van verhoudings, want onthou, vroue kan tegelykertyd praat en werk.
In ligte luim laat een van my kollegas haar uit oor ’n geërfde skottelgoedwasser wat nou al 18 maande in haar kombuis staan. Dié masjien werk nie, omdat dit nie gekoppel is nie. Die storie het ’n lang geskiedenis waarop ek nie sal ingaan nie, maar die kort en die lank daarvan is dat drie mans, insluitend haar geliefde, dit in dié tydperk om die een of ander rede nie suksesvol kon koppel nie. Die pyp was blykbaar nie reg nie, die kraan se stopskroef sou kwansuis nie werk nie, of die regte gereedskap was nie byderhand nie.
Juis die aand van my meningsverskil, kuier sy by haar ma en besluit tot hiertoe en nie verder nie. Sy soek ’n bobbejaansleutel, waarop haar ma terstond een te voorskyn bring. Gewapen met dié stuk gereedskap is sy huis toe op haar nou-doen-ek-dit-vrou-alleen-missie om die stopskroef aan die kraan onder die werkblad los te draai en die pyp eiehandig te koppel. Die bobbejaansleutel doen sy werk, maar die laaste millimeter wil net nie losdraai nie en sy wonder of sy nie tog moet wag tot haar geliefde later met sy sterk arms die laaste draai kan gee nie. Maar as ’n vrou ’n ding in die huis gedoen wil hê, wil sy dit nóú gedoen hê – les nommer 2 vir mans. Dis toe wat sy die bottel olyfolie gryp en die stopskroef ’n goeie skeut olie gee. En siedaar, dit draai die laaste millimeter en tien minute later werk die skottelgoedwasser, wat drie mans in 18 maande nie aan die gang kon kry nie, soos ’n droom.
Wat is die “moral of the story”? Ons vroue in die kantoor voel oor ons wederhelftes soos Antoinette Kellerman oor haar geliefde man. Hulle gee diepte en betekenis aan ons lewens. Al verstaan ons hulle nie aldag nie, kan gesprekke met vriendinne, ’n bobbejaansleutel en ’n bottel olyfolie menige meningsverskil en onderonsie met ons geliefdes uit die weg ruim. En formidabele vroue sê wat hulle dink, is soms plofbaar, maar vergeet ook maklik, koester nie wrokke nie en het gewoonlik ná konflik spyt – les nommer 3 vir mans.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.