Willie Burger kyk na die nuutste werke van Schalk Schoombie en Lloyd Zandberg
Dit het al ’n cliché geword om te sê dat misdaadfiksie in ons tyd baie gewild geword het. En nog ’n cliché is om elke nuwe misdaadskrywer met Deon Meyer te vergelyk. Soms word skrywers op die buiteblad van ’n nuwe roman of in die reklamemateriaal daarvoor as die “nuwe Deon Meyer” beskryf. En meestal moet jy dan maar weet om by die oorspronklike een te hou. Want dikwels is die ritse speurverhale wat verskyn baie resepmatig. Dit voel sommer of die stories nie uitgedink is nie, maar iewers by ’n Amerikaanse TV-misdaadreeks afgekyk is en na Johannesburg of Kaapstad oorgeplant is.
Dikwels is die taalgebruik daarin taamlik vaal, en die karakters, ten spyte van pogings om aan hulle ’n paar interessante, teenstrydige eienskappe te gee, baie eensydig. Kortom: Byna elke nuwe misdaadroman bevestig dat dit baie moeilik is om iets vars op te dis. Tóg kry Schalk Schoombie dit met Rooi haring reg. Rooi haring is verrassend vars. Ja, Schoombie sluit by die meer tradisionele formule van die “genteel”-speurroman aan (soos in Agatha Christie se werk, eerder as ’n hardebaard-speurder in die donker onderwêreld), maar hy doen dit slim.
Hy gee, soos die titel aandui, vir die leser talle valse leidrade en hou ’n mens aan die raai oor die moord op die celebrity-sjef, Hartman Swiegers. Schoombie het ten minste op drie maniere die clichés van die talle vergeetlike misdaadromans vermy en hy hou die leser enduit geboei. Eerstens vertel hy op besonderse manier. Op ’n manier het die roman my selfs aan Orhan Pamuk se My name is Red herinner omdat die moordenaar se eie stem ook gehoor word, sommer al in die heel eerste hoofstuk, maar die leser weet nog nie wie praat nie. Tweedens sit Schoombie deur die moord in ’n restaurant te plaas, die vermoorde ’n bekende sjef te maak, en deur die gebruik van die glanswêreld van celebrity-sjefs, kosbloggers, spyskaarte en resepte in te sluit, ’n heerlike dis voor.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Boomkastele deur Schalk Schoombie
Die boek is in afdelings verdeel: Voorgereg, Palaatverfrisser, Hoofgereg, Rooi haring en Nagereg. Alles draai om kos en eetgewoontes. Daar is selfs ’n paar resepte in die roman, soos die Depressiepoeding vir agt mense. Maar die roman sal jou nie depressief maak nie. Dit sal veel eerder jou mond laat water. Derdens is die kinkels in die verhaal, al die “rooi harings”, buitengewoon slim deurdink. Die kleurryke karakters wat telkens om tafels aansit en hul kuiers om en oor kos, lewer baie leidrade vir die oplettende leser. Selfs belangriker as hierdie drie aspekte waardeur die roman werklik van die talle vergeetlike resepmatige speurverhale onderskei word, is die sprankelende taal.
Die dialoog is prettig, die beskrywings van kos en spyskaarte laat ’n mens se mond water en die ligte spel met woorde en met die leser maak van Rooi haring ’n heerlike leeservaring. Ten spyte van die gevoel van ligtheid en humoristiese vertellings van skreeusnaakse tonele en karakters, bly dit ’n spannende speurverhaal wat die leser ernstig aan die raai hou. Schoombie se debuutroman, Boomkastele, het reeds baie belofte getoon, maar hierdie tweede roman is nog veel vlotter geskryf. Die gebeurtenisse in die verhaal is slim aanmekaargesit en nog slimmer vertel.
Om die een of ander rede is stand-up comedy tans baie gewild. Enkele van die talle hoopvolle komediante behaal groot sukses. Sommige ander probeer net te hard om snaaks te wees en dink dikwels dat ’n klompie vloekwoorde of skunnige verwysings hul gehoor sal laat lag. (En dan is daar ook gehore wat daarvoor val!) Lloyd Zandberg se 17 kortverhale in sy debuutbundel, Per ongeluk, skep die indruk dat hulle geskryf is om deur ’n komediant op ’n verhoog voorgedra te word.
Elke paragraaf het ten minste een of twee pogings om die leser te laat lag met snaakse woordkeuses of beskrywings, soos hierdie een van die buurvrou wat een vakansie ’n man na haar huis saamgebring het: “Een Desember was daar ’n man by haar. Jy kon sien hy het te min geld en te veel planne. Niemand, maar niemand, hoef ’n swartpuntskoen by ’n oefenbroek te dra nie.” Hierdie soort beskrywings herinner aan daardie meesterverteller Dana Snyman se vermoë om ’n karakter of situasie in enkele sinne vas te vang. Maar nader aan die verhoogkomediant is Zandberg se beskrywings byna soos die humor van ’n Weskus-storieverteller op Spies en Plessis.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Misverstand
Die verhale probeer egter nie om meer as vermaak te wees nie. Hulle is vol fyn waarnemings, raak beskrywings en is plek-plek regtig snaaks. Stukkies lewenswysheid kom ook tussenin voor. Nie groot oorspronklike insigte wat jou lank laat nadink of nuut na die wêreld laat kyk nie, maar soos stand-up comedians se stories is hulle snaaks as jy nie te veel op een slag daaraan blootgestel word nie. Lees dit eeneen om van al die donker nuus te vergeet.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.