Dit was ontsettend hartseer om my ma kort voor haar dood met ‘n kupiepop te sien rondloop asof dit ‘n babatjie is. Sy het ons nie meer herken nie en was verdwaal in die huis waarin sy 25 jaar gebly het. Dit is die tragiese uiteinde van alzheimersiekte.
Deur: Christa Swanepoel
Alzheimersiekte, ook demensie genoem, is ‘n progressiewe siekte wat ongeneeslik is en affekteer byna ‘n miljoen mense in Suid-Afrika. Dit raak normaalweg mense van 65 jaar en ouer en lyers het voltydse versorging nodig as die siekte sy finale stadiums bereik.
10 potensiële gevaartekens
1. Geheueverlies Een van die algemeenste vroeë tekens van demensie is om onlangse inligting te vergeet. Dit is normaal om afsprake, name en nommers te vergeet, maar lyers sal meer dikwels vergeet.
2. ’n Gesukkel om alledaagse take te verrig Lyers sal byvoorbeeld vergeet hoe om ’n ete te maak of ’n bekende stokperdjie te beoefen.
3. Probleme met taal Mense met demensie vergeet eenvoudige woorde en vervang dit met onvanpaste woorde, wat dit moeilik maak om hulle te verstaan.
4. Disoriëntasie wat tyd en plek betref ’n Lyer sal in sy eie straat verdwaal, vergeet waar hy is of hoe hy daar gekom het.
5. Swak oordeel Lyers sal byvoorbeeld verkeerd aantrek vir die weer of geld weggee of uitgee op goed wat hulle nie nodig het nie.
6. Probleme met abstrakte denke Iemand met alzheimersiekte sal byvoorbeeld nie ’n begroting kan opstel soos tevore nie, nie weet waarvoor die bedrae staan en wat om daarmee te doen nie.
LEES OOK: Parkinson se siekte
7. Verlê dinge Dit doen ons almal, maar iemand met alzheimersiekte sal goed op snaakse plekke bêre, soos ’n beursie in die yskas.
8. Verandering in gemoed en gedrag Hoewel enige mens soms buierig is, sal ’n lyer sonder enige rede skielike gemoedsveranderinge beleef.
9. Persoonlikheidsverandering Ons persoonlikhede verander dikwels soos ons ouer word, maar ’n alzheimerlyer se persoonlikheid kan drasties verander. Hy kan byvoorbeeld erg verward, wantrouig of bang word.
10. Verlies aan inisiatief So iemand sal baie passief raak, vir ure voor die TV kan sit, meer as gewoonlik slaap en geen belangstelling toon om aktief te raak of sosiaal te verkeer nie.
Kan jy dit voorkom?
Navorsing toon gene speel ’n rol, maar dat jou omgewing en lewenstyl beslis ’n verskil maak. Soos diabetes en hartsiektes ontwikkel alzheimersiekte oor baie jare. Daar is ’n genetiese skakel, maar nie almal met ’n familiegeskiedenis van alzheimersiekte ontwikkel die siekte nie.
Ons kan nie ons ouderdom en familiegeskiedenis beheer nie, maar ons kan ons gesondheid, lewenstyl en omgewingsfaktore beheer. Navorsing toon ‘n aktiewe, gesonde lewenstyl kan wel jou kans om alzheimersiekte te ontwikkel, verminder, net soos dit vir diabetes en hartsiektes help.
1. Oefen jou brein Daag voortdurend jou brein uit. Mense wat verstandelik aktief bly se risiko is kleiner om alzheimersiekte te ontwikkel. Die volgende kan help: Lees koerante, boeke en tydskrifte, speel kaart of ander speletjies, vul blokraaie in, speel ’n musiekinstrument, besoek museums en vertonings, kyk interessante TV-programme of luister radio, dans of kuier saam met ander.
2. Oefen jou liggaam Dis nie net jou hart en lyf wat by fisieke oefening baat vind nie, maar ook jou brein. Daar is al bevind aërobiese fiksheid hou jou brein in goeie werkende toestand. Die bloedvloei na die brein verbeter en kan dus beter funksioneer. Dit gee breinselaktiwiteite ook ’n hupstoot. Oefening hou gewig, bloeddruk en cholesterol in toom en beheer daarom diabetes, wat ’n risikofaktor vir alzheimersiekte is. Jy hoef jou nie morsdood te oefen nie. Oefen drie keer per week vir minstens 15 minute per keer. ’n Vinnige stappie, fietsry, swem en aërobiese oefeninge is voldoende.
LEES OOK: Sleg vir die hart?
3. Eet reg Studies toon die antioksidante in kos – soos helderkleurige vrugte en groente, sampioene, tee, donkersjokolade en rooiwyn – beskerm die breinselle teen skade van daaglikse oksidasiestres. Vitamien E in neute, sade en koringkiem word ook met die verlaging van jou risiko om alzheimersiekte te kry, verbind. Kouewatervis soos salm, haring en sardiens, en vlassaad, is ryk aan omega-3-vetsure, wat die brein teen skadelike inflammasie sal beskerm. Veselkosse help weer vir gesonde bloedvloei na die brein. Peulgroente verskaf brandstof aan die brein en hou bloedsuikervlakke in bedwang – wat die kanse vir alzheimersiekte verminder.
Kies ook dié kos Bloubessies, granaatsap, appels, lemoene, okkerneute, amandels, grondbone, sonneblomsade, avokado’s, spinasie, broccoli, kool, wortels, patat, geel pampoen, knoop-, portabella- of shiitake-sampioene, hawermout, volgraanbrood, bruinrys, bone, ertjies, lensies, groen of swart tee, donkersjokolade, rooiwyn, vrugte- en groentesap.
4. Maak vriende of raak betrokke
‘n Goeie sosiale netwerk kan help om die brein jonk te hou. Dit keer dat jy alleen en depressief raak, wat beter vir jou brein is. Dis ook intellektueel stimulerend, wat kognitiewe agteruitgang stuit. Raak betrokke by gemeenskapsprojekte – dit hou jou en jou brein aan die gang.