Kan jy 100 jaar oud raak? Kom vind uit en leer sommer bietjie meer oor hoekom jy hik ook
Christa Swanepoel
Omtrent 1 uit 100 000 mense word stadiger ouer, selfs al leef hulle ongesond, soos om te rook en nie te oefen nie. Lees meer daaroor op MSN Health se webwerf. Volgens studies is die volgende glo die sleutel tot ‘n hoë ouderdom:
1 As jy ou familielede in jou stamboom het, het jy dalk ook die langlewegene.
2 As jy vinnig en ver kan stap, is jou kanse glo goed dat jy lank sal kan uithou.
3 As jy sosiaal baie besig is, kan dit ook veroorsaak dat jy langer lewe
4 As jy vrou is, het jy klaar ‘n voordeel omdat vroue ouer as mans word.
5 As jy ná 35 ‘n kind gehad het, is dit ‘n aanduiding dat jy stadiger oud word.
6 As jy nou nog jonk is, is jou kanse beter omdat mense al hoe ouer word.
7 As jy jou nie te veel bekommer nie (jy moet glo net ‘n bietjie stres), sal jy ou bene maak.
8 As jy jou gewig in toom hou, het jy glo ‘n groter kans as jou oorgewig-suster om 100 te haal.
9 Dit hang af hoe lank jou telomeres is. (Dit is die beskermende DNA-sekwensie aan die einde van chromosome wat geleidelik korter word soos selle verdeel.) Baie mense wat 100 word, het ‘n hiperaktiewe ensiem wat telomeres opbou.
10 As jy positief is, is jy goed op pad, want emosies beïnvloed jou gesondheid, wat jou ouderdom beïnvloed.
RAAD WAT JY NIÉ MOET PROBEER NIE
As ‘n kwaai hond jou byt, sny van sy hare af en sit dit op die bytplek. Dit trek dan al die kwaad uit.
(Dis nou seker as jy dit gaan waag om naby genoeg te kom om van sy hare af te sny.)
Bron: Ouma en oupa se boererate
HOEKOM HIK JY?
Jy hik as jou diafragma en larinks terselfdertyd skielik en onwillekeurig saamtrek en die glottis (die opening tussen die stembande)toegaan en die doeltreffende lugvloei afsluit. Medies word daar na hik as singultis verwys.
Interessant Volgens die Guiness World Records hou Charles Osborne van Iowa in die VSA die rekord van 68 jaar se gehik.
WAT MENSE AL PROBEER HET OM OP TE HOU HIK
· Haal in ’n bruin papiersak asem.
· Sit ’n glas water neer, buig oor hom en drink van die ander kant van die glas af.
· Gorrel met yswater.
· Gooi ’n paar druppels asyn in jou mond.
· Hou suiker in jou mond tot dit smelt en sluk dit in.
· Suig aan ’n skyfie suurlemoen.
· Drink gaskoeldrank en breek ’n wind op.
· Trek jou tong.
· Druk die bors inmekaar deur die knieë op te trek of vooroor te buig.
· Kou en sluk droë brood.
· Kielie jou verhemelte met ‘n wattepluisie waar die sagte en harde verhemelte bymekaarkom.
Bron: Medical News Today