Hoe gemaak met sulke lang stukkies muur waar deure ingebreek is, of ou mure uitgebreek is, wat net nie groot genoeg is vir ’n kunswerk nie? Mariëtte du Toit-Helmbold het op haar stukkie muur vier outydse wieldoppe opgehang.
Maryke Roberts
As jy in jou pa of oupa se motorhuis gaan krap, gaan jy dalk ook sulke oulike wieldoppe kry, maar tweedehandse winkels of markte het ook oulike “weggooi-goed” wat net sulke treffende muurbehangsels kan maak.
Hier is ander idees vir sulke lang, regaf stukkies muur
• As daar baie houtwerk in jou huis is, snuffel rond vir twee of drie ou houtskawe. Hoe verweerder en kleurvoller, hoe beter. Hang hulle regaf onder mekaar teen die muur. Dit bring sommer hulde aan die vakmanne en skrynwerkers van weleer.
• Oorweeg van jou ouma se fyn porselein koekbordjies of pierings. Kry daardie oulike outydse wit rekhake vir die agterkant en groepeer drie of vyf onder mekaar teen die muur. Dit is heel gepas in die waskamer, kombuis of eetkamer. As jy iets met fyn detail het, kan dit ook in die slaapkamer werk.
• As jy van oudhede hou, gaan grawe by die rommel trommels in jou omgewing vir ou kombuis-gereedskap. Veral die rollertjies, roomyslepels en lepeltjies waarmee jy spanspek balletjies rol, is gewoonlik in oulike retro-kleure soos pienk, rooi, groen, geel of “budjieblou.” Hang vier of vyf van hulle aan klein hakies onder mekaar.
• As die muur nie in ’n deurgang is nie en jy iets kan hang wat effe uitstaan en nie afgeloop sal word nie, gebruik oulike hake wat almal verskillende groottes en ontwerpe het en hang drie onder mekaar. Hang oulike harte of woorde daaraan of knoop Franse linte in verskillende kleure daarom.
SOURCES
Jac Kritzinger