Nie tyd vir tuinmaak nie? Jaarlinge is die antwoord!
Connall Oosterbroek
Die meeste beddingplantspesies is vandag nog net so gewild as wat hulle 15 jaar gelede was. Wat wel verander het, is die ongelooflike hoeveelheid nuwe variëteite binne elke spesie.
As jou tyd vir tuinmaak beperk is, is jaarlinge ideaal vir jou. Met ’n paar plantlaaie van die kwekery kan jy enige agterplaas in ’n japtrap soos ’n skoutuin laat lyk. Dit lyk of moderne tuiniers se behoefte na nuwe kleure nooit opraak nie. Dieselfde geld vir groeigewoontes en geure en plantkwekers is maar te gelukkig om aan die vraag te voldoen.
Maar hoe besluit ’n mens wat om te plant met so ’n groot keuse? Jy kan hou by die plante wat in die verlede goed in jou tuin gevaar het, maar daar is geen rede hoekom jy nie met iets nuuts kan eksperimenteer nie. As jy kleur soek, is jaarlinge net die ding, maak nie saak of dit is om die gate tussen jou struike op te vul, of jy ’n hele bedding vol wil plant vir onmiddellike effek, of dit in houers wil gebruik nie. Beddingplante is baie veelsydig – daar is soorte wat in enige deel van jou tuin, sonnig of in die skadu, mooi sal groei.
SKOONHEDE VIR DIE SKADU
Wat presies is ’n skadugedeelte in tuinterme? As ’n reël sal blomjaarlinge net goed doen in ’n gedeeltelike spikkelskadu of as hulle ’n paar uur se son in die oggend kry. Gelukkig is daar sekere plante wat in relatiewe donker skadu, soos dié onder ’n boom of aan die suidekant van die huis of muur hul kleur in hul blare sal wys. Coleus (josefskleed) en Hypoestes is twee uitstekende kandidate.
In die verlede het tuiniers tradisioneel impatiëns gebruik om kleur aan die skadugedeeltes van hul tuin te gee, maar ’n verwoestende soort donsige meeldou het ’n paar jaar gelede ons land bereik. Dit het amper al die plante in privaat tuine sowel as kwekerye verwoes. Selfs al kan jy impatiëns in die hande kry, sal die meeste mense dit nie waag om hulle te plant nie. Gelukkig kan ons nog staatmaak op die groot verskeidenheid ander eenjariges wat kleur en diversiteit aan die donker kolle in jou tuin sal gee.
Begonias
Beddingbegonias (Begonia semperflorens-hibride) is die beste alternatief.
• Hulle bied hope helder kleur wat lank hou en is ideaal om enige donker kol op te dollie.
• Begonias is baie selde sonder blomme en is bekend vir die feit dat hulle maklik is om te kweek.
• Hulle werk perfek as jy baie op een slag wil plant, danksy die eenvormigheid van hul grootte en vorm.
• Hulle is ook heel gelukkig in houers om ‘n vervelige hoekie interessanter te maak.
• Boonop is hulle waterwyse plante, bestand teen donsige meeldou en het min aandag nodig. Wees net versigtig om nie te veel water te gee nie.
En jy sal nie glo in hoeveel kleure hulle beskikbaar is nie – rooi, pienk en wit teen die agtergrond van heldergroen blare. Daar is selfs ‘n pragtige pienk-en-wit tweekleurige soort. Begonias werk goed om ‘n bedding te omraam, om spesifieke gedeeltes te beklemtoon of om ‘n blomrivier te skep wat deur jou tuin loop.
Daar is ook ‘n lekker mengsel van ander beddingvariëteite wat lewe in vaal kolle sal blaas. Gebruik hierdie plante om ooptes in skadugedeeltes te vul:
• Delfiniums, vingerhoedjies (Digitalis), en rooi salie sal hoogte en diepte aan donker areas gee, en lobelia, aapblom (Mimulus) en Hypoestes phyllostachya (polkadot-plant) is ideaal vir ’n randakker, potte of hangmandjies.
SONSKYNDAE
Helderkleurige jaarlinge word dikwels met warm, sonnige somerdae geassosieer en geen tuin, groot of klein, behoort sonder so ’n kombers van kleur reg deur die jaar te wees nie. Ons tuinsentrums en kwekerye dink dieselfde oor die saak en daarom het hulle dié tyd van die jaar rakke op rakke van die allermooiste blomvariëteite.
Dianthus
Jou beste keuses vir die sonnige gedeelte van jou tuin is petunias, salie, Ageratum, Dianthus, alyssum, jakobregop (Zinnias), anthirium, Gazania, Nicotiana, Portulaca en Vinca. Afrikaners (Calendula-spesies) is ook weer deesdae in die mode. En hulle bied jou meer as net mooi blomme: Hulle is bestand teen droogte en help om peste van jou plante weg te hou. In die regtig warm streke van Suid-Afrika sal hulle selfs ‘n bietjie skadu kan hanteer.
Wenwenke
• Maak die plantlaaie nat voordat jy die saailinge uitplant.
• Moenie die plantjies aan hul stingels of blare uittrek nie. Druk hulle eerder van onder af uit.
• Moenie die saailinge begrawe nie. Hou hulle op dieselfde diepte as wat hulle in die plantlaai gegroei het.
• Wees op die uitkyk na slakke wanneer die plante nog klein is.
• Knip groeipunte af om die plant aan te moedig om meer bosserig te groei.
Bron: Inligting verskaf deur die vereniging van beddingplantkwekers. Gaan loer by www.lifeisagarden.co.za vir meer inligting
SOURCES
Connall Oosterbroek Vertaling Beatri Kotzé