So sit ek my breiwerk Saterdag traag neer en sit af mall toe. As daar een ding is wat vir my erger as ’n koek in my wol is, is dit ’n mall.
Christa Swanepoel
Die doen-dinge by die mall het opgehoop, weens bogenoemde rede, en ek beplan om als op een slag af te handel.
Eerste aan die beurt is die bank. Die jong man wat my belasting doen, kort inligting wat ek net op daardie jaar se bankstate gaan opspoor. Ek kry ‘n nommer en gaan sit. Ek lees al die advertensies vir dienste teen die mure, bekyk al die medewagtendes en is later spyt ek het nie tog maar my breiwerk ingepak nie … Uiteindelik word my nommer geroep en sit ek af na toonbank nommer soveel.
Ja, ek kan my bankstate kry, maar dit sal R40 per bladsy kos! Ek maak seker en nog ‘n keer seker ek het reg gehoor. Ek probeer juis geld van die ontvanger af terugkry. Dit help nie ek gee dit als voor die tyd uit nie. Nee dankie, sê ek, en stap uit, sonder ‘n plan van aksie hoe om die inligting andersins in die hande te kry.
In by die selfoonplek. Ons troetelhaas het my tablet se kabel met een vinnige beweging netjies in die helfte gebyt – as sy nie so oulik was nie …
Ek soek net die konneksie dat ek dit sommer met my selfoonherlaaier kan herlaai. Baie geduldig en hulpvaardig soek sy rak vir rak en ry vir ry deur. Elk sien sy weet nie eintlik waarvan ek praat nie. Nou nie dat ek soveel weet nie, maar my rekenaarslim seun het vir my ‘n kiekie daarvan gewys, daarom weet ek daar is so iets. My nerwe raak dun.
Die volgende oomblik is daar ‘n helse slag in die winkel. Ma’s gryp hul kinders vas, party skree, ander wil-wil platval. Ek swaai om om te sien of daar ongevalle is. In die middel van die winkel staan ‘n beteuterde seuntjie met die oorblyfsels van sy gebarste ballon in die hand. Mense begin senuweeagtig giggel. En ons soek verder …
Ag nee wat, ek sal my seun stuur, sê ek oplaas en beweeg deur die skares na my volgende bestemming.
Ek dreig al heel winter om ‘n prutpot te koop nadat my ou een se keramiekbak gebreek het, maar wat ek weens redes heel bo, nog nie gekoop het nie. Ek soek eers gang op en gang af na die spesifieke fênsie winkel wat hul ewe fênsie prutpot op ‘n “special” het.
Ek vra later en moet amper weer terugloop na waar ek die mall binnegekom het, maar uiteindelik is ek daar. Sowaar, by die ingang word dit verkondig: was R700, nou R400. Ek weet vir ‘n feit dit was nie R700 nie, maar nou ja, dit is darem afgemerk. Ek soek en spoor uiteindelik een hoog op ‘n rak op. Ek sukkel daarmee na die betaalpunt toe.
Sy vat dit ewe vriendelik aan, neem die strepieskode af en hou haar hand uit vir my kaart: R570 please!
Nee, beduie ek, julle het dit afgemerk na R400!
Nee, sê sy, dit rekenaar sê dis R570!
Ek beduie na die ingang toe. Dit staan daar by jul ingang.
‘n Helper slenter teen slakkepas soontoe. Die ry agter my word langer. Ja, dit is afgemerk sê hy minute later. Dis R510.
Ek erg my en sleep hom saam ingang toe. Beduie met my vinger met die lyntjie langs: Was R700. Less R300. Now R400.
Hy gaan bevestig die prys by die geduldige klerk en die ongeduldige mense in die ry.
Uiteindelik is ek met die yslike sak daar uit. Somer of nie somer nie, ek sál dit nou gebruik om bredies en ander disse op te tower, stoom ek terwyl die boks my enkel met elke tree kap.
Die res van die goed sal moet wag tot ek weer moed bymekaargeskraap kry om mall toe te kom.
By die huis gooi ek vir my ‘n koppie koffie in, sak op die bank neer en trek my breiwerk nader. Dis mos die lewe …
OUMABLOKKIE
Met A, maak 6 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks (tel as lb), 3 lb in ring, 3 ks, (4 lb, 3 ks) nog 3 keer, gs in 3de ks aan beg.
2de rdte: heg B in 3 ks-sp, 3 ks, 1 lb, in dies ks-sp, 1 lb in elk van vlg 4 lb, *(2 lb, 1 drieslag in ring aan beg, 2 lb) in 3 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 4 lb, herh van * en eindig met 2 lb, 1 driesl in 3 ks-sp, gs in 3de ks aan beg.
3de rdte: heg C in 1ste lb ná driesl, 3 ks, 1 lb in dies st, 1 lb in elk van vlg 6 lb, *2 lb in vlg lb, 3 ks, slaan driesl oor, 2 lb in vlg lb, 1 lb in elk van vlg 6 lb, herh van * 2 lb in laaste lb, 3 ks, gs in 3de ks aan beg.
4de rdte: heg B in 3 ks-sp, 3 ks, 1 lb in dies ks-sp, 1 lb in elk van vlg 10 lb, *(2 lb, 1 driesl om balkie van drieslg van 2de rdte, 2 lb) in 3 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 10 lb, herh van * en eindig met 2 lb, 1 driesl om balkei van 2de rdte, gs in 3de ks aan beg.
5de rdte: heg A in 1ste lb na driesl, 1 ks, 1 kb in dies lb, *1 kb in elke st tot in driesl, 2 ks, herh van * rondom en eindig met 2 ks en gs in ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …