Die mens soek steeds na romanse en hunker na ’n spesiale verhouding met iemand wat sy/haar hart vinniger laat klop, sê Maretta Bellingan
Maretta Bellingan
Hoe meer vooruitgang daar in die lewe is, hoe meer ingewikkeld raak emosionele kwessies. Die speelveld het verander en daar is nuwe neigings wat beslis ’n rol speel in hoe jy die liefde moet benader.
Dinge werk eenvoudig nie meer soos in Oupa en Ouma se dae nie en in ’n wêreld wat al hoe minder grense het, waar al hoe minder dinge taboe is en waar baie mense ’n kitsantwoord op elke probleem soek, is niks meer voor die hand liggend nie.
Daar is steeds geen towerwoord wat die prinses op ’n padda sal verlief maak of ’n geheime kode wat die prins kan intik om die meisie van sy drome uit die niet sal laat verskyn nie.
Daar is wel ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou, meen liefdesgids Lu-Anne. Sy glo selfvertroue, uithouvermoë en ’n vars perspektief kan ’n reusebydrae maak om nuwe woema in ’n moedelose liefdeslewe te blaas. Maretta het haar ’n paar vrae gevra.
Het die liefdesdans oor die laaste paar jaar verander en in watter opsig?
Tradisionele rolle het verander. Mans verwag dat vroue gewillig moet wees om soms die eerste stap te neem – dus om hulle uit te vra. Ek dink mans het lui geraak. Die eerste stap is die een plek waar ‘n man moet leiding neem. As hy nie genoeg belangstel om jou te benader nie, dan is hy nie jou tyd werd nie.
Mense gaan op romantiese afsprake met meer as een persoon. Mans en vroue sal verskeie mense in dieselfde tydperk sien voor hulle hulle eksklusief tot een persoon verbind. In ons era van inligtingoorvloed het ons baie meer keuses as ons ouers dekades gelede en dus kies mense hul lewensmaats met meer omsigtigheid.
Mense begin vroeër na romanse soek, maar kies om later te trou, eers in hul middeldertigs of selfs -veertigs. Juis omdat ons almal gedruk is vir tyd en sukses, kies mense om eers hul loopbane te vestig en baie seker te wees oor die een met wie hulle hul lewe wil deel.
Ons lewe in die hoogste rat. Mense is eenlopend omdat hul werk die meeste van hul tyd in beslag neem. Baie mense ontmoet eers in die digitale dimensie voordat hulle mekaar van aangesig tot aangesig leer ken. Langafstandverhoudings is moontlik omdat die internet die wêreld na jou selfoon, tablet of skootrekenaar bring.
Watter uitwerking het sosiale netwerke op ons liefdeslewe?
Sosiale media is die nuwe plek waar ons mense ontmoet en mee interaksie het, soos maatsoekerswebwerwe, Facebook, Skype, BBM, en vele meer. Net soos as jy werk soek, kan mense se aanlynteenwoordigheid tot jou nadeel of voordeel wees in jou soeke vir romanse. Dus moet jy versigtig wees met die foto’s asook inligting wat jy die wêreld instuur.
Wanneer jy iemand ontmoet, gaan kyk jy immers na hul Facebook-profiel om meer oor sy of haar karakter uit te vind en die indruk wat jy daar kry, is meestal deurslaggewend. Sosiale netwerke het daartoe gelei dat mense vroeër persoonlike vrae vra aangesien hulle agter ’n skerm skuil. Dis ook vir mense makliker om iemand via die kuberruimte uit te vra as wat dit is as hulle voor mekaar staan.
Wat is die algemeenste foute wat mense op hul eerste afspraak maak?
- Hulle bespreek vorige verhoudings. Slegte idee!
- Hulle is aan hul selfoon vasgesweis. As jy gedurende ’n afspraak oproepe beantwoord of op teksboodskappe reageer, kan dit voorkom asof jy eerder êrens anders wil wees.
- Hulle drink te veel omdat hulle senuweeagtig is.
- Hulle praat heeltemal te vinnig en te veel. Gesels sinvol en interessant.
- Hulle praat te veel oor hulself. Toon belangstelling in die ander persoon. Moenie bang wees om oningelig te klink nie – jy kan nie ’n kenner in elke veld wees nie.
- Hulle kla te veel. ’n Vreemdeling wil nie dadelik alles omtrent jou persoonlike probleme hoor nie.
Wat se rol speel die ouderdom in hoe jy ’n romantiese afspraak benader?
In haar twintigerjare weet ’n vrou dat die kêrel van haar ouderdom nie sommer aan trou dink nie, daarom moet sy die tyd gebruik om haar ou te geniet en nie sommer ’n verloofring verwag nie.
Vrouens in hul dertigs is baie keer eerder op soek na ’n lewensmaat. Gevolglik moet hierdie vroue realisties na ’n man kyk. Is hierdie man troumateriaal? Is hy bang vir vastigheid? Wat kan hy tot jou lewenstandaard bydra?
Vroue in hul veertigs en ouer was dalk al voorheen getroud of in ’n lang verhouding. Hulle soek dalk geselskap en intimiteit met iemand wat alles is wat haar eks nie was nie en met wie sy haar lewe kan deel. Hierdie vrou is gewoonlik meer onafhanklik, weet waarvan sy hou en nie hou nie en kan gou sien of iemand by haar lewenstyl gaan inpas. Maar moet ook nie onbuigsaam wees om verandering in jou lewe aan te bring om iemand ’n kans te gee wat potensiaal het nie.
Hoe belangrik is persoonlike voorkoms?
Dit is altyd belangrik. Om goed versorg te wees beteken nie jy hoef in die jongste modes uitgevat te wees, die laagste halslyn of die kortste rokkie te dra nie. Doen dieselfde moeite met jou voorkoms as wanneer jy vir ’n werk aansoek doen en onthou dat niemand perfek is nie. Skoon hare en naels is baie belangrik en iemand wat gemaklik lyk, maak ’n beter indruk as iemand wat daarop uit is om ’n indruk te maak.
Wanneer moet ek weer kontak maak?
Ná ’n eerste afspraak kan jy SMS om dankie te sê as jy dit geniet het en veral as hy betaal het. As julle nog nie uitgegaan het nie, maar dit lyk asof hy in jou belangstel en julle al gesels het, is dit aanvaarbaar om vir hom ’n vriendskapsversoek op Facebook te stuur. Daarna is die onus op hom. As ’n man werklik belangstel, sal hy moeite doen om met jou te praat of te sien. As julle reeds in ’n verhouding is, wag vir hom om die groot L-woord te sê voor jy jou hart uitstort.
Wat weet ons nie van mans nie?
Hulle is nie so oppervlakkig as wat sommige vroue dink nie. Die eerste ding waarna hulle kyk, is of ’n vrou selfvertroue en grasie het. Hulle kyk na jou glimlag en of jy aandag aan jouself gee. Is jou klere, hare en naels netjies? Hulle kyk selfs na jou skoene. As julle gaan uiteet, behandel die kelner met respek, want om minagtend te wees teenoor die mense wat jou bedien, is baie onaantreklik. En hulle hou van goeie maniere. Vroue onderskat hoe belangrik etiket vir mans is. Wees vriendelik en toon belangstelling in wat hy doen.
Sodra hy jou ontmoet, luister hy of jy avontuurlustig is en ’n sin vir humor het. Die indruk dat jy iemand is wat klouerig word in ’n verhouding, sal die moontlikheid van ’n volgende afspraak beperk.
Wat se raad het jy vir ouer vroue wat graag iemand wil ontmoet?
Sluit aan by klubs of probeer internet dating. Of dit nou ’n kerkklub, wynklub, boekklub of stapgroep is. Enige plek kan die geleentheid wees om iemand te ontmoet. Net deur nuwe vriende te maak, verbeter jou kans om ’n maat te vind aangesien daardie vriende jou aan iemand kan voorstel.
Wat is die beste manier om van ’n gebroke hart te herstel?
Nie deur te eet of hom op Facebook te stalk nie. Bestee tyd saam met vriendinne. Kyk objektief na jou eks – jy sal begin om irriterende gewoontes of sy lelike tone te onthou. Om dadelik in ’n volgende verhouding te spring, is nie ’n gesonde manier om jou vorige of nuwe verhouding te hanteer nie.
Hoe hanteer ek dit as ’n man ’n irriterende gewoonte het?
Jy het gewis ook irriterende gewoontes! So onthou, as jy kritiek wil uitdeel, moet jy bereid wees om dit te vat. As jy dit wil aanspreek, hou in gedagte dat dit gaan dikwels meer oor hoe jy iets sê as wat jy sê. Probeer iets soos: “Ek sien jy byt jou naels. Jy kan sulke mooi hande hê – miskien moet jy probeer om dit minder te doen.”
Hoe wys ek vir hom dat ek werklik omgee?
Luister na wat hy sê, waarvan hy hou, wat hy geniet en gebruik dit as idees wanneer julle ’n mylpaal vier. Let op na die klein dingetjies wat hy vir jou doen en sê dankie. Iets so eenvoudigs as om dankie te sê, maak ’n groot verskil. Bemoedig hom wanneer hy deur ’n moeilike tyd gaan en ondersteun hom. Moenie sy keuses altyd bevraagteken nie. Selfs al lyk dit nie so nie, smag ’n man na bevestiging dat hy goed genoeg is.
Meer inligting
Kontak Lu-Anne by [email protected] of besoek www.lu-anne.co.za of www.facebook.com/LuAnneDatingCoach