Die Vriesenhof Vineyards buite Stellenbosch het rede om breëbors te wees: van vandeesmaand af word al hul wyne onder een etiket gebottel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en verskaf
Hierdie nuus is onlangs met gaste by Auslese in Kaapstad gedeel, waar al die wyne met kos gepasmaat is. Sjef Harald Bresselschmidt het elke wyn se verskillende oesjaar met ’n komplementerende happie gepasmaat en gaste kon op hul tyd deur die hele reeks proe.
Die nuwe voorkoms reeks bestaan uit sewe wyne, wat insluit: Unwooded Chardonnay, Barrel Fermented Chardonnay, Pinotage, Grenache/Shiraz/Mourvedre versnit, Pinot Noir, Kallista (Bordeaux-styl rooi versnit) en Grenache.
Die geskiedenis van Vriesenhof se Coetzee-familie dateer terug na 1679, toe die eerste Coetzee in Tafelbaai arriveer het. Hulle het hul eerste grond in Stellenbosch in 1682 bekom, waar Coetzenburg stadion vandag is en ook grond in die Jonkershoek-vallei gekoop.
Die familie het Stellenbosch aan die einde van die 1680’s verlaat om hul heil aan die Weskus te gaan soek. Jan ‘Boland’ Coetzee het in 1963 na Stellenbosch teruggekeer om sy studies in wingerdkunde by die Universiteit van Stellenbosch te voltooi.
Hy koop Vriesenhof in Desember 1980 en maak in 1981 sy eerste wyn onder die reuse akkerbome. Met sy aankoms op Vriesenhof, was die plaas beplant met Cabernet Sauvignon, Cinsaut en Pinotage en in 1983 begin hy met aanplantings Chardonnay, Merlot en Cabernet Franc. In die middel negentigs voeg hy ook Pinot Noir en in 2009, Grenache, by.
Die grootste gedeelte van die plaas in sedert 2006 met nuwe wingerde geplant, om die nuwe geslag-kultivars en style te akkommodeer.
Besoek www.vriesenhof.co.za vir meer inligting oor die volledige reeks.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.