Die derde kwartaal is in volle gang, maar jou kind kom lusteloos voor en glad nie gereed vir die laaste skof nie. Is jou kind se dagboek te vol?
Zerelda Esterhuizen
Mia* doen ballet, drama, gimnastiek, redenaars en sing in die koor. Sy speel ook netbal en hokkie. ’n Besige tiener? Nee, sy is slegs in graad 2.
Haar ma het nou halt geroep en besluit om van die aktiwiteite te staak. Dis nie net duur nie, maar haar kind geniet nie regtig als nie, sê sy.
Kinders se dagboeke raak toenemend voller, sê Susan du Plessis, Edublox se direkteur van opvoedkundige programme: “Daar is te veel kinders wat in die middag van een aktiwiteit na ’n ander spring. Hulle het skaars tyd om te speel of om hul huiswerk te doen.”
Susan sê ouers is trots op hul kinders se besige skedules en dink nie aan die gevolge daarvan nie.
“Ouers kry byvoorbeeld vir ’n kind private lesse by ’n sportafrigter, maar dink nie aan hul kind se akademiese sukses nie.”
Ine de Vries, voorligtingsielkundige en ouerskapskenner van Family Focus Therapy Centre in Bloemfontein, sê ouers moet hulself afvra of hul kind werklik al die aktiwiteite geniet. “Neem jou kind se unieke persoonlikheid, belangstellings, ouderdom en energievlakke by die keuse van aktiwiteite in ag. Sommige kinders floreer op ‘n vol buitemuurse program en om aan verskeie aktiwiteite deel te neem. Ander voel egter vinnig oorweldig en gespanne en sukkel om die pas vol te hou.
“Onverklaarbare klagtes van naarheid, hoof- en maagpyn en moegheid kan daarop dui dat jou kind oorlaai voel. Kyk na die manier waarop jou kinders ’n aktiwiteit benader – is hulle opgewonde en gereed om te begin of lusteloos, huilerig en geïrriteerd? Gesels met hulle en luister na hul mening oor waarvan hulle hou en nie hou nie.”
MENG DIT MET SKOOLWERK IN?
Die goue rëel bly dat skoolwerk altyd eerste kom, sê Ine. “Skooltake wat nie ingehandig word nie, afgerammelde of onvoltooide huiswerk en skoolpunte wat daal, is tekens dat kinders te veel hooi op hul vurk het. Gesels met jou kinders en besluit saam watter ekstra-kurrikulêre aktiwiteite afgeskaal moet word.”
Ine sê ouers moet daarop fokus om kinders met ’n volhoubare studieroetine te help sodat hul tyd doeltreffend bestuur kan word. As hul skoolwerk verbeter, kan julle saam besin oor verdere aktiwiteite,” is haar raad.
VRAE WAT OUERS MOET VRA
Ine sê ouers moet hulself die volgende oor buitemuurse aktiwiteite afvra:
Voeg dit waarde tot my kinders se menswees by?
Sport- en kultuuraktiwiteite is goeie en gesonde maniere om beginsels soos deursettingsvermoë, samewerking en selfdissipline te leer. Wanneer kinders gedwonge voel om deel te neem en meer bekommerd oor Pa, Ma of hul afrigter se verwagtinge as oor sy eie genieting daarvan is, word dit ‘n straf eerder as ‘n plesier. Gaan dit oor jou eie aansien of oor jou kind en wat hy of sy geniet?
Maak dit inbreuk op ons gesinstyd?
Draai jul gesinslewe oor naweke en vakansies om sporttoere, toernooie en afrigtingskampe? Kry die gesin genoeg tyd vir ontspanning? Baie ouers redeneer dat die reis na byeenkomste en toere die moeite (en kostes) werd is en dat hulle en hul kinders dan tyd saam bestee.
Dit mag wel so wees, maar gesinne het ook “af tyd” nodig om bymekaar te wees.
Ly my kind se sosiale lewe daaronder?
Kinders het tyd nodig om ook in ander situasies hul sosiale vaardighede te slyp. As ’n kind toenemend sosiale geleenthede misloop, kan hy of sy uitgesluit en afgesonderd voel.
Praktiese wenke vir ouers
1. Minder is meer aan die begin Dis veral in die grondslagfase wat dit belangrik is om ekstra aktiwiteite geleidelik by te voeg soos wat jou kind aan die eise van die skool gewoond raak, maan Ine.Een somersport, een wintersport en een kultuuraktiwiteit gee genoeg variasie en stimulasie om mee te begin.
2. Stel ’n realistiese proeftydperk in Gee die kind een kwartaal of een sportseisoen kans om ’n aktiwiteit te beproef. Dit leer jou kind om uithouvermoë te hê, maar is nie so lank dat hy of sy heeltemal ontmoedig word om aan iets deel te neem nie.
3. Moenie net als koop nie. Dink aan iets soos ’n toerusting-“bank” saam met vriende en familie. “Dis nie nodig om dadelik die duurste en beste toerusting vir ’n aktiwiteit te koop nie. Hokkiestokke, tennisrakette, ballet- en karateklere kan onder mekaar geleen word totdat die kinders meer vaardig raak (of die nuutjie oorgewaai het),” is Ina se raad.
4. Kyk na die kostes Maak seker oor wat alles by die maandelikse fooi ingesluit is. Inskrywingsgeld vir kompetisies en toernooie, spesiale spanklere, vervoerkostes en ekstra afrigting moet bygereken word wanneer daar keuses oor aktiwiteite gemaak word.
5. Maak seker jou kind het genoeg tyd om buite te speel, sê Susan.
6. Kyk na ’n suksesvolle leerintervensieprogram as daar probleme is en beloon jou kind se pogings om akademies te verbeter.
Kontak ons kenners
• Ine de Vries: 051 011 0082, 051 436 2150, [email protected]
• www.fftc.co.za
• Susan du Plessis: www.edublox.co.za