The West Side Story, die baie gewilde musiekblyspel deur Leonard Bernstein, Arthur Laurents en Stephen Sondheim, gegrond op die oorspronklike konsep van Jerome Robbins, is tans te sien by die Kunstekaap-teater in Kaapstad en kry staande ovasies vir die vlugtige voete, slim stelontwerp en uitstaande talent van ons voorste kunstenaars.
Die musiekblyspel word deur Eric Abraham en die wenspan van die Fugard-teater wat ook verantwoordelik is vir uitverkoopte seisoene van Kat and the Kings, The Rocky Horror Show, Orpheus in Africa en Cabaret, na die Kunstekaap gebring.
The West Side Story staan onder regie van Matthew Wild en Charl-Johan Lingenfelder behartig musiekregie en Louisa Talbot choreografie.
Sowat 40 van die room van die Suid-Afrikaanse teater is in hierdie epiese produksie te sien wat in 1957 vir die eerste keer op Broadway opgevoer is.
Voor die verhoog in die put, sit die Kaapse Filharmoniese Orkes wat deur Lingenfelder gedirigeer word. Die produksie is gewis vermaak vir die hele gesin. Die musiek is geliefd en bekend, met van Bernstein se bekendste liedjies soos Something’s Coming, Maria, I Feel Pretty en Tonight en ‘n mens moet jouself inhou om nie hardop saam te sing nie.
Die storie is deur Shakespeare se Romeo & Juliet geïnspireer en speel af in die Upper West Side-buurt in New York in die middel-1950’s. Dit ontgin die vete tussen twee straatbendes, die Jets en die Sharks, waarvan een Amerikaners is en die ander Puerto Rico- immigrante wat hulself ook as Amerikaners ag.
Tony (Jonathan Roxmouth), ’n jongman wat in die apteek werk en beste vriend van die Jets se leier, Riff, raak verlief op Maria (Lynelle Kenned), die suster van die Sharks-leier, Bernardo. Die stuk se musiek, indrukwekkende danspassies en kostuums, met die klem op sosiale konflik van mense wat almal glo die buurt behoort aan hulle, kan enige plek in die wêreld afspeel.
Jonathan sal onthou word vir sy rolle in Phantom of the Opera, Sunset Boulevard, A Handful of Keys en Grease en Lynelle vir Blood Brothers, Showboat en Orpheus in Africa. Bianca Le Grange (Blood Brothers) speel die rol van Anita, Bernardo (Christopher Jaftha wat in Dirty Dancing was) se meisie.
Ander lede van die indruwekkende rolverdeling sluit onder meer Daniel Buys, Stephen Jubber, Adrian Galley, Sven-Eric Müller, Matthew Berry, Michael Wallace, Cameron Botha, Angela Inglis, Delray Halgryn, Michèle La Trobe, Jenna Robinson Child, Claire Taylor, Daniel Richards, Sonwa Sakuba, Thami Njoko, Rory Marais, Sabelo Radebe, Kirsten Rossiter, Sarah Anne van der Merwe, Natasha Hess, Lee Piedt, Felipa van Eck, Chloe Perling, Oleksii Ischenko, Nurit Graff en Dominique Maher in.
The West Side Story speel nog tot 23 Augustus in die Kunstekaap se Operahuis. Vertonings is van Dinsdag tot Vrydag om 20:00, Saterdag om 16:00 en 20:00 en Sondag om 14:00 en 18:00.
Kaartjies kos R95 tot R400 deur Computicket of by die Kunstekaap- kaartjiekantoor by 021 421 7695.
• Orpheus in Africa keer op 22 September terug na die Fugard-teater op aandrang. En om dit te vier, is alle kaartjies vir die eerste week slegs R130 per kaartjie. Dit vertel die storie van die Amerikaanse impresario Orpheus McAdoo en sy Virginia Jubilee Singers, wat Suid-Afrika, Engeland en Australië in 1890’s besoek het en ’n oornag-ensasie was.