Die troukoek is bestel, die onthaal gereël, maar dan gooi koue voete die appelkar om. Wat nou? Vra Shanda Luyt
Shanda Luyt
Die afsênota in die badkamer … ’n SMS ’n week voor die troue om te sê jou toekomstige lewensmaat sien nie meer kans nie … ’n Bruid of bruidegom wat gou ry om sigarette te gaan koop en net nie terugkom nie. Dit was die harde werklikheid waarmee ’n paar mense al op die vooraand van ’n huwelik moes kennis maak.
Of jou voornemende huweliksmaat nou soos Maggie Carpenter in Runaway Bride reg voor die preekstoel omdraai en of sy of hy die verlowing ’n maand voor die troue verbreek, die uiteinde bly dieselfde: ’n gebroke hart, reëlings om te kanselleer, finansiële verpligtinge en op die koop toe dalk ’n spul trougaste wat nog opgewonde uitsien na die blye oomblik.
Koue voete voor die troue, veral as alles klaar gereël is, is vir geen van die betrokke partye maklik nie – nie eens vir die een wat kop uittrek nie. Boonop is daar, benewens die emosionele bagasie wat deurgewerk moet word, ’n rits praktiese, finansiële en regsimplikasies. Hoe kom ’n paartjie, en hul families, relatief ongeskonde uit so ’n proses?
Ek wil nie meer nie …
Die algemene rede vir die meeste verbreekte verlowings is dat een party besef het die liefde het die wyk geneem, of dat die huwelik tussen hulle nie sal werk nie. Soms kan iemand ook voel hy of sy is nog nie gereed vir so ’n groot stap nie.
Om ’n verlowing te verbreek, is selde maklik en die meeste mense sal hieroor wroeg voor hulle uiteindelik tot die finale besluit kom, sê dr Ilze van der Merwe, sielkundige van Table View. Volgens haar sal mense tipies emosies soos angs en skuldgevoelens ervaar wanneer hulle so iets oorweeg: “Angs, oor die ‘regte’ stap (veral as hulle nie gevoelens vir die ander persoon het nie, maar so voorgegee het), en skuldgevoelens, want hulle wil nie die ander persoon seermaak nie. Hoe nader aan die troudatum, hoe meer intens raak hul emosies en ook hul verwarring en twyfel.”
Maar hoekom wag mense soms tot op die nippertjie om kop uit te trek, soms so laat as die troudag self, wanneer daar reeds groot koste aangegaan is en die emosionele impak op die ander party nog soveel groter sal wees? ‘n Gebrek aan moed om die nuus te breek, is die eenvoudige verduideliking, sê Ilze, maar sy dink dis baie meer kompleks as dit.
“Daar is verskeie redes. Eerstens, die persoon wil waarskynlik nie sy of haar aanstaande seermaak nie en gaan dus voort met die verlowing tot hy of sy eenvoudig nie meer die ongemak, stres of angs kan verdra nie. Mense neig altyd na ‘n toestand van balans: Hoe groter die verskil tussen wat hulle werklik ervaar (die ware self) en dit wat hulle voorhou (die ideale self), hoe groter is die stres of angs wat hulle ervaar, want die persoon is nie opreg met ander of hom- of haarself nie.”
Ilze sê die persoon kan ook ‘n people pleaser wees. Sodra die wiele aan die rol is met die troubeplanning, raak dit al hoe moeiliker om kop uit te trek omdat daar soveel mense is wat teleurgestel kan word. “Hy of sy vrees dalk dat mense nie meer van hom of haar gaan hou nie en gaan dus voort met die klug. So iemand sal dalk eerder net nie opdaag vir die troue nie, want dis makliker om so uit die verhouding te tree as om die mense van aangesig tot aangesig in te lig.”
Sommige mense onderdruk ook hul vrese vir ‘n vaste verbintenis, maar uiteindelik kan hulle nie die stryd wen nie en oorheers hul vrese, vertel Ilze, en soms ervaar ‘n persoon soveel twyfel dat hy of sy die troue afstel as uitweg, eerder as om deur te druk en die feite en sy of haar vertwyfeling met die verloofde of iemand anders te bespreek.
Twyfel jy?
Hoe gemaak as jý die een is wat voor die huwelik onseker is? Hoe onderskei jy tussen normale senuweeagtigheid oor ‘n lewensveranderende verbintenis en ware twyfel of jy die regte besluit neem vir jou toekomstige lewensgeluk? En behoort jy enigsins die geld wat al uitgegee is en die reëlings wat reeds getref is in ag te neem in jou besluit?
Die geld en troukoek koop nie geluk nie, beklemtoon Ilze, en reëlings kan later uitsorteer word. Maak eerder seker dat jy die regte besluit vir jou lewe neem: “Gaan praat met iemand wat logies dink en objektief kan luister. Sit alles op die tafel en wees eerlik: Hoekom pla die verhouding of jou voornemende huwelik jou? Waarvoor is jy bang? Soms is jou vrese nie realisties nie en kan dit uitgepraat word. ‘n Sielkundige of berader kan leiding gee hiermee.”
Ilze sê jy behoort dit ook met jou verloofde te bespreek, maar eers nadat jy jou twyfel en verwarring met ‘n objektiewe persoon bespreek het sodat jou gedagtes georden is wanneer julle praat. “Nadat jy jou eie kop agtermekaar gekry het, praat eerlik met jou verloofde. Onthou, hierdie is jou bagasie en jy moet eienaarskap daarvan vat. Jou verloofde sal heel moontlik ontsteld wees. Moenie hom of haar blameer nie: Dit is normaal. Natuurlik is dit anders as jy iets oor jou verloofde uitgevind het wat voorheen aan jou onbekend was en wat jou opinie verander het.”
Ook nadat die verlowing verbreek is, kan jy ‘n mate van twyfel ervaar en met heelwat skuldgevoelens wroeg, sê Ilze. “Tipies verwyt mense hulself en dra hul voormalige maat se seer saam, asook die moontlike verwerping van die familie en vriende. Dis ook moontlik dat hulle ‘n mate van rou kan ervaar, want dit waarop hulle gehoop het, het skeefgeloop en daar was ‘n verlies aan aanvaarding en drome.”
Gelos voor die kansel
Dis een van daardie goed wat jy nie eers jou grootste vyand toewens nie, en dan gebeur dit met jou: Jou aanstaande laat staan jou voor die kansel. Hoe hanteer jy hierdie verwerping en seer?
Dit is nie maklik nie, vat dit dus een dag op ‘n slag, sê Ilze. “Probeer om nie jouself te verwyt nie en moenie allerhande verduidelikings by jouself probeer soek nie, veral as jy nie die regte rede(s) weet nie. Gaan praat liewer met iemand wat jou hierdeur kan bystaan. Omring jouself met mense wat omgee en jou kan ondersteun.”
Wie kanselleer als?
As die troue afgestel moet word, moet daar uiteraard reëlings getref word met die spyseniers, die predikant, en so meer, ook om die finansiële implikasies te beperk. (‘n Amerikaanse vrou het egter besluit om haar troue in ‘n partytjie te omskep en so geld in te samel vir liefdadigheid omdat sy in elk geval die meeste van haar geld sou verloor.)
Ilze beveel aan dat die paartjie of agterblywende party hiervoor hulp inroep omdat albei waarskynlik erg emosioneel sal wees, wat die uitsorteer van hierdie praktiese aspekte pynlik en moeilik sal maak. “As een van hulle voor die tyd iets gereël het, sal hulle waarskynlik weer daardie aspek moet hanteer, maar kan dan ‘n vriend of familielid vra om hulle by te staan. Dis ‘n baie emosionele proses en ondersteuning sal dus baie help.”
Wat sê die wet?
Die regsimplikasies van koue voete voor die huwelik het oor die tyd heen dramaties verander. Die mense wat voor 1838 van plan verander het, kon eenvoudig gedwing word om voort te gaan met die huwelik. En tot onlangs kon ‘n persoon wat sonder genoegsame rede voor die kansel gelos is, skadevergoeding eis, nie net vir finansiële verliese nie, maar ook vir emosionele skade soos die vernedering en pyn wat die verbreekte verlowing veroorsaak het.
Die regsituasie rondom troubreuk in Suid-Afrika het egter heelwat verander ná ‘n beslissing sowat drie jaar gelede in die regsaak tussen die sangeres Sunette Bridges en haar destydse verloofde, Deon Van Jaarsveld, waarin uiteindelik beslis is dat hy geen skadevergoeding hoef te betaal nie.
Regter Louis Harms het onder meer in dié uitspraak gesê: “Ek glo die tyd het aangebreek om te erken dat die historiese benadering tot verlowings verouderd is en nie die morele waardes van ons tyd erken nie. Openbare-beleid-oorwegings vereis dat ons howe die wet rakende troubreuk moet herbesin.”
Die familieregprokureur Bertus Preller van Kaapstad sê dit sal in die toekoms baie moeiliker wees om troubreukeise te laat slaag. “As iemand die verlowing kort voor die troue verbreek, kan hy kontraktueel gesproke steeds aanspreeklik gehou word vir byvoorbeeld van die koste van die troue, maar nie meer so maklik vir die verbreking van die verlowing as sodanig nie.”
Hy verduidelik dat net die feit dat iemand sleg of hartseer voel oor ‘n verbreekte verlowing nie meer genoeg rede vir ‘n eis is nie. “Dit moes ‘n stap verder gegaan het vir die skending van persoonlike regte.” Bertus verduidelik in sy boek Everyone’s Guide to Divorce and Separation dat troubreuk tot twee soorte regsaksies kan lei: Eerstens, wanneer die verlowing op ‘n besonder onbeskofte en arrogante manier beëindig is en die “skuldige” party doelbewus verkeerd opgetree het. “Dit maak nie saak of die verbreking van die verlowing geregverdig was nie; wat saak maak, is die manier waarop dit gedoen is.” Tweedens, as daar ‘n geldige rede vir die verbreking van die verlowing is. Dit verwys gewoonlik na enige gebeurtenis, toestand of aksie deur een party wat die kanse vir ‘n lang en gelukkige huwelik in gevaar sou stel en kan insluit enigiets van ontrouheid tot net die gebrek aan die begeerte om te trou.
Ná ‘n verbreekte verlowing kan twee soorte finansiële eise ook ingestel word: ‘n eis vir moontlike toekomstige verliese of ‘n eis vir werklike verliese. Bertus reken egter dit is baie moeilik om toekomstige verliese te rasionaliseer omdat verloofde paartjies nog nie ‘n huwelikskontrak het nie. Ware verliese, soos die koste wat vir die beplande troue aangegaan is, is makliker om te regverdig, sê hy. Hierdie verliese spruit gewoonlik uit “ooreenkomste” wat die verloofdes met mekaar aangegaan in die verwagting van hul troue, en die idee is dat so ‘n eis die “onskuldige” party se finansiële posisie weer herstel na wat dit was voor die ooreenkomste aangegaan is.
Bertus raai paartjies in so situasie aan om met mekaar te praat en self ‘n ooreenkoms te bereik oor die finansiële aspek van die verbreekte verlowing, aangesien die regskoste litigasie belaglik maak. “As hulle byvoorbeeld saam sou instaan vir die koste van die huwelik, behoort hulle steeds om die helfte daarvoor te betaal. Maar as jy voel dat jy te na gekom is, kan jy natuurlik dagvaar.”