Hoekom voel dit soms of ‘n karakter in ‘n verhaal ‘n rêrige mens soos ek en jy is? Hierdie inkmense speel dan ook ‘n belangrike rol in die sukses van ‘n verhaal
"Lemmer is terug. En dit is net die begin." Hierdie aankondiging staan op die buiteblad van Deon Meyer se jongste roman, Spoor. Die bemarkers weet dat die meeste Deon Meyer-aanhangers dadelik opgewonde sal word as hulle dit lees. Die lesers weet wie hierdie Lemmer is. Hulle het hom in Onsigbaar, Meyer se vorige roman, leer ken. Die kans om weer oor Lemmer te lees, is byna soos ’n herontmoeting met ’n ou vriend. Die bemarkers weet dat lesers nie kan wag om te lees wat hierdie keer met hom gaan gebeur nie.
Die bemarkers reken op een van die belangrikste ervarings wat ’n leser van ’n verhaal het, naamlik dat dit vir jou voel of jy met rêrige mense te doen het; dat jy die mense ken.
Hierdie ervaring, dat jy iemand goed leer ken, is vir ons baie natuurlik, maar dit is eintlik ook ’n baie vreemde ervaring, as ’n mens ’n bietjie daaroor nadink. Daar is immers nie regtig ’n mens soos Lemmer iewers op Loxton, wat wag vir ’n oproep van sy baas uit Kaapstad vir ’n nuwe avontuur nie. Ons weet dat Lemmer net in die ink op papier bestaan, dat ons verlei word om aan hom as ’n mens te dink deur die woorde waarin hy beskryf word en deur sy handelinge waarvan daar vertel word.
Al is Lemmer nie ’n regte mens nie, stem hy met ’n mens ooreen – tot so ’n mate dat ons kan voel asof ons ’n mens leer ken het as ons die boek klaar gelees het. Hierdie aspek van fiksie is vir baie lesers die heel belangrikste. Die meeste lesers wil juis mense leer ken en hulle geniet ’n roman in die mate waarin hulle in die karakters kan glo, die mate waarin die karakters die lesers daarvan kan oortuig dat hulle soos regte mense is.
Die feit dat ons so dikwels verhale noem na die name van die karakters uit die verhale, bevestig hoe belangrik hierdie aspek van verhale vir ons is: Hansie en Grietjie, Sneeuwitjie, Rooikappie, Bart Nel, Anna Karenina, Robinson Crusoe … As jy ’n kind sou vra om vir jou ’n paar stories uit die Bybel op te noem, sal jy waarskynlik die storie van Simson, Dawid of Noag hoor, eerder as die storie van Israel se verlossing uit die hand van die Filistyne, of die storie oor die groot vloed.
ingewikkeld en vol teenstrydighede is
In sommige romans is daar sommer ’n hele spul karakters en hulle kan uiteenlopende geaardhede hê. Dink byvoorbeeld aan al die karakters in Ingrid Winterbach se Die benederyk, aan die karakters in Charles Dickens se Great expectations of in Gabriél García Márquez se One hundred years of solitude. Dit wil byna lyk asof hierdie skrywers moeiteloos uiteenlopende karakters, elk met ’n eie geaardheid, skep; soms in enkele sinne.
Aan die ander kant is daar skrywers wie se karakters byna almal, in een boek na die ander, dieselfde is. Die verskillende karakters wat in Karel Schoeman se Die uur van die engel aan die woord kom, klink eintlik almal dieselfde. In nog ander romans, soos in Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, word sekere karakters herhaaldelik deur ’n enkele paar byvoeglike naamwoorde beskryf: "die slank Mrs Silberstein" of "die twee vaal Misses Silberstein". Deur telkens só uitdruklik die klem op hul voorkoms (onderskeidelik "slank" en "vaal") te plaas, word hierdie karakters as ‘t ware tot hierdie mededeling van die verteller gereduseer en word enige kans om hulle as "volledige mense" te leer ken, beperk.
Sommige karakters is eintlik net "tipes" (die slegte ou, die wreedaard, die verleidster, die dominee) wat vir die verhaal nodig is, terwyl ander ingewikkeld en vol teenstrydighede is. Nietemin vind ’n leser byna altyd iets in elke karakter wat daardie karakters vir hom ’n skyn van werklikheid gee – die gevoel dat hy van vlees en bloed is. As dit nie gebeur nie, kan ’n mens maar weet dat min lesers van die bepaalde boek sal hou.
In die volgende paar aflewerings word gefokus op die uiteenlopende maniere waarop karakters in romans aangebied word. Vk