Kyk, vir Mathys Roets is niks onmoontlik nie. Die man is nie bang om te gaan ski nie, hy doen ÂÂ
10 km-padwedlope en hy wil sowaar ook nou Afrika gaan verken
Kyk, vir Mathys Roets is niks onmoontlik nie. Die man is nie bang om te gaan ski nie, hy doen
10 km-padwedlope en hy wil sowaar ook nou Afrika gaan verken. En dit in ’n rolstoel. Jinne, ek kán loop en skrik vir 10 km en vir ’n ekspedisie in Afrika sien ek nie heeltemal kans nie. Dié wat my ken, weet ook ek en die Oostenrykse skihellings is nie maats nie – ek het al eiehandig ’n hele ry toeriste amper uitgewis omdat ek nie remme kon aanslaan nie! Dit bly vir my goed om te lees hoe Mathys die lewe aangryp en die beste van elke oomblik maak.
Ek het jare gelede, jonk en onervare, saam met ’n vriendin langs die hospitaalbed van een van haar kollegas gestaan wat in ’n motorongeluk was. My vriendin het my gevra om saam met haar te gaan, omdat sy nie bekend met die omgewing was nie en ek dink omdat sy nie kans gesien het om alleen vir haar vriendin te gaan kuier nie. Die vrou was in die spinale eenheid van ’n hospitaal in Pretoria. Sy was as gevolg van haar beserings in haar onderlyf verlam en, soos ek en my vriendin, ook in haar twintigerjare.
Dit was ook die eerste keer in my lewe dat ek met so ’n radikale omkeer van ’n lewe gekonfronteer is. En ek het die verkeerde ding gesê. Nie omdat ek wou nie, maar omdat ek nie van beter geweet het nie. Met ’n paar gebreekte ribbes op die koop toe, was die vrou in pyn en die impak van haar situasie het haar emosies laat wipplank ry. Dit was die eerste dag wat sy haar rolstoel getoets het en sy was vasberade om self uit die bed daarin te klim. Dit het lank geneem en sy wou nie hê ons moes haar help nie. Ná ’n lang gesukkel, het sy dit reggekry, maar sy was na aan trane. Sy’t verskoning gemaak en die eerste onbeholpe ding wat ek aan kon dink om te sê was: “Moenie worry nie, ek verstaan hoe moeilik dit vir jou moet wees.” Wel, toe’s die gort gaar. Sy het my behoorlik die kop gewas. “Jy’t geen idee hoe dit is nie,” het sy deur haar trane gesê. Sy was doodreg. Hoe kan ek weet wat dit beteken om nooit weer sonder om te dink, vinnig uit die bed te spring en onder die stort die waterdruppels oor jou hele lyf te voel nie?
Sy’t my daardie dag twee waardevolle lesse geleer. Eerstens dat ’n mens moet dink wat jy sê, en tweedens, dat jy nie die alledaagse in die lewe as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Dit het my soveel keer in my lewe al in moeilike situasies gehelp. Nes ek myself wil begin jammer kry, dink ek terug en besef dat ek die opdraande voor my kan uitkom en dat niks onmoontlik is nie.
Ek bewonder mense soos Mathys Roets en my vriendin se kollega van destyds. Vir hulle staan ek dié week op aandag én ek haal my hoed vir hulle af. Dis by hulle wat ons kan leer wat dit is om voluit te leef en die lewe te waardeer, ten spyte van dit wat met ons gebeur.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.