Wys dis Kersfees met dié vrolike vlaggies. Hang dit sommer op enige plek waar almal dit kan sien
Marlo Kitshoff-Carstens
Houtvlaggies
BENODIGDHEDE
wit papier
ongeveer 50 cm hardebord (hardboard)
liniaal
potlood
figuursaag of handsaag
medium growwe skuurpapier
elektriese boor
klein kwassie
swart bordverf
6 m natuurlike tou
Metode
1 Begin met ‘n hoofletter T op ‘n skoon papier. Dis die begin van die driehoek.
2 Trek ‘n 15 cm-lyn horisontaal op die bokant van die T; 7,5 cm na die een kant en 7,5 cm na die ander kant.
3 Trek die lyn wat afloop van die T tot 16,5 cm lank.
4 Verbind die sykante van T sodat dit ‘n driehoek vorm. Knip die driehoek uit.
5 Dis is die templaat wat gebruik word vir die sny van vlaggies. Plaas die templaat op die hout en trek met die liniaal en potlood die lyne na. Plaas die vlaggies so dat die een se punt na bo wys en die ander se punt na onder. Die sykante se lyne gaan dan gedeel word.
6 Sny op die potloodlyne met ‘n figuur- of handsaag.
7 Skuur die kante van die klaar gesnyde vlaggies met skuurpapier glad.
8 Merk met die potlood 1 cm van die kant en bokant van boonste 2 hoekies van vlaggies. Boor gaatjies aan die bokant van vlaggies met ‘n elektriese boor.
9 Verf die voor- en agterkant van vlaggies met swart bordverf. Laat dit goed droog word.
10 Ryg ‘n tou deur die vlaggies en hang op.
As jy die swartbordvlaggies wil skoonmaak, kan jy spiritus op ‘n skoon lappie gebruik om enige merke van swartbordverf af te haal, soos die wit bordkrytmerke.
Die vlaggies kan ook by Clyde Trading 021 854 8486 of 076 909 8057 bestel word as jy dit nie self wil maak nie
SOURCES
Andrea Caldwell