Dié buitengewone papierpoppatroon is ietwat ongewoon en gee ’n speelsheid aan hierdie sak. Jy kan ook die ontwerp raam
Karen Adenhorff
Moeilikheidsgraad: **
Ontwerpgrootte: 30 cm x 28 cm
Benodigdhede
75 cm katoenmateriaal
14-telling sandkleurige Aida-gaas – 70 cm indien gaas 110 cm wyd is
Algemene naaldwerkbenodigdhede
Aanwysings
Knip die volgende van die katoenmateriaal: 2 x (45 cm x 43 cm), 2 x (67,5 x 12 cm) en ’n strokie van 52 cm x 6 cm.
Knip uit die gaas: 2 x (45 cm x 43 cm), 1 strook van 131 cm x 12 cm (of dan twee stroke van 67,5 cm x 12 cm), 2 bande van 45 cm x 6 cm.
Borduur die voorste pant van die sak.
Werk die 131 cm x 12 cm-strook om die voorste deel van die geborduurde sak (regte kante op mekaar). Gee die strook ’n knippie op die hoeke. Werk dan die agterpant ook aan die strook vas (regte kante op mekaar).
Doen dieselfde met die katoen soos in stap 4. (Las net eers die twee stroke).
Vou die bande in die lengte en werk vas. Dop om en pars.
Plaas die voering in die sak met verkeerde kante op mekaar en steek bo rondom vas.
Steek die bande aan die binnekant van die sak, aan die voor- en agterkant, 12 cm van die synate af, vas.
Werk die twee stroke van 52 cm x 6 cm aan mekaar vas. (Dit vorm ’n sirkel).
Plaas die strook aan die bokant en aan die binnekant van die sak, met die regte kante van die strook op die sak en werk vas.
Vou die strook na die buitekant om, vou ’n soompie om en stik op die regte kant van die sak vas.
Vou die bande opwaarts en stik dit aan die strokie vas