Maak besonderse lekkerruikgoed vir jou badkamer van seep tot ‘n kers
Marlo Kitshoff-Carstens
Roossepies
BENODIGDHEDE
1 emmer gekoopte plaasseep
1 bos rose
gedroogde kruie en blomme
Metode
1 Keer seep uit emmer en sny met skerp gladdelemmes in 5 cm-stukke.
2 Sit gesnyde skywe op plat oppervlak en sny seep se rondings af sodat jy vierkant het.
3 Sny seepvierkant in kleiner blokkies sodat seepblokkies 5 cm x 5 cm is.
4 Steek gaatjie in elke seepblokkie met sosatiestokkie.
5 Rol seepblokkies in gedroogde kruie of gedroogde blomme van jou keuse, soos laventel, roosmaryn, rooibos of jasmyn.
6 Druk gedroogde rosie in bokant van elke gaatjie op blokkieseep.
7 Verpak soos verkies, hetsy in plastiekboksie of stukkie chiffon wat toegeknoop word.
8 Hoe om rose te droog Trek rose se blare af, hou ongeveer 10 cm lengte van steel, bind saam in bossie en hang vir tien dae onderstebo tot droog.
9 As jy rose met korter stele gebruik, kan jy hoenderdraad bo-oor ‘n bak buig en rose deur gaatjies steek sodat dit kan droog word. Wag ook tien dae voor gebruik.
WENK Sit gedroogde rose tussen jou klere om dit lekker te laat ruik
Rooibos-en-bessie-badsout in teesakkies
BENODIGDHEDE
250 g (1 pakkie) rooibostee
250 g (1 pakkie) bessietee (Berries of the Forest tea)
250 ml (1 k) seesout
paar druppels aromatiese olie
gekoopte teesakkies (ongebruiktes)
Metode
1 Meng rooibostee, bessietee, seesout en druppels olie in glasbak.
2 Meng rooibosmengsel baie goed.
3 Skep 10 ml (2 t) van rooibosmengsel in elke teesakkie en verseël teesakkie.
4 Verpak badsoutteesakkies in glashouertjie of in mooi boksie.
WENK Laat die badsoutteesakkie in die badwater onder lopende warm water lê sodat die heerlike geure na vore kan kom
Jelkers
BENODIGDHEDE
1 groot glasvaas met regop kante
(12 cm in deursnee en 26 cm in lengte)
1 kg jelwas (wax)
375 ml (1½ k) wit kerswas
gekoopte kerspit
metaalgewiggie (vir kerspit)
sosatiestokkie
stukkie Prestik
2 pakkies kaneelstokkies
8 gedroogde lemoenskyfies
klompie lemoenskilblommetjies met gedroogde naeltjies
Metode
1 Sny kerspit bietjie langer as glasvaas wat gebruik gaan word.
2 Sit jelwas in ou kastrol op stoofplaat. Verhit oor lae hitte tot gesmelt. Dit sal soos water lyk as dit gesmelt is.
3 Doop gesnyde kerspit in jelwas en hou dit regop vas sodat kerspit reguit kan verhard.
4 Heg metaalgewiggie aan kerspit.
5 Gebruik klein stukkie Prestik aan onderkant van metaalgewiggie en druk dit in middel op bodem van glasvaas vas.
6 Knoop kerspit aan sosatiestokkie vas en laat sosatiestokkie dwarsoor bokant van glasvaas lê. Dit help kerspit reguit bly wanneer lae van jelwas ingegooi word.
7 Gooi glasvaas 1/5 vol met gesmelte jelwas en laat stol.
8 Plaas kaneelstokkies teen kant van glasvaas en giet weer warm jelwas totdat kaneelstokkies bedek is. Laat jelwas eers weer stol.
9 Posisioneer lemoenskyfies of enige ander gedroogde artikels. Gooi volgende laag jelwas en laat weer stol.
10 Hou so aan tot glasvaas met verskillende lae gevul is. Stop ongeveer 3 cm vanaf bokant van glasvaas.
11 Smelt wit kerswas in kastrol oor lae hitte op stoof.
12 Giet gesmelte witkerswas oor kersjel en laat tot gestol.
13 Die wit kerswas sal gaatjie vorm om kerspitgedeelte. Wit kerswas krimp as dit stol, so dis die rede hoekom dit gebeur. Smelt net weer wit kerswas en vul gaatjie rondom kerspitgedeelte. Wanneer die kers gebrand word, sal dit die geur afgee wat in daardie laag gebruik is, soos die kaneelreuk.
Alle produkte by Soap Barn, Johannesburg beskikbaar of besoek www.soapbarn.co.za
SOURCES
Elmarie Knapton