Geometric Drinks Company het onlangs die Geometric Gin en Symmetry Botanical Tonics by The Gin Bar in Kaapstad bekendgestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en verskaf
As daar van gin en tonic gepraat word en dit word boonop van fynbos gemaak word, is almal se ore gespits.
By Geometric Drinks Company was daar verskeie “stasies” waar gaste die tonikums en jenewers op hul eie, as martini, of as klassieke gin en tonic kon proe. Die gaste is toegespreek deur Geometric Drinks Company se medestigter, Jean-Baptiste Cristini (Tista).
Tista is verantwoordelik vir die maak van die drankies. Tista is reeds sedert sy vroeë tienerjare geïnteresseerd in wyn, waarna hy sy passie en herkoms na Boergondië en daarna Champagne gevolg het. Na ʼn dekade in Chablis en Epernay, keer hy terug om die kreatiwiteit en passie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te ontdek. Dit volg hy hoër teen die berg op waar die blomkoninkryk wild groei en hier begin hy grappa distilleer met enige plante wat hy in die hande kan kry.
Saam met hom is Andrea en Chris Mullineux, produsente van Suid-Afrika se beste wyn in samewerking met Analjit Singh (BAS), stigter van die gasvryheidsportefeulje, Leeu Collection. Hulle verleen ’n helpende hand en bring ook hul perspektiewe na die besigheid.
“Geometric Drinks” se naam is ontleen van beide struktuur en Moeder Natuur. Die plaaslike Geometriese Skilpad oorleef slegs in klein hoeveelhede in die fynbos en renosterveldgebied van die Wes-Kaap, ʼn gebied wat nou rigied bewaar word. Ons sien die Geometriese Skilpad as simbool van bewaring van die fauna en flora in hierdie gebied,” het Tista verduidelik.
LEES OOK: Nuwe pienk tonikum is perfekte pasmaat vir fynproewer jenewer
Geometric Gin is gemaak van vars jenewerbessie en nege klassieke en inheemse plante. Die Gin is jenewergedrewe met Kaapse blomagtigheid asook syagtige aromas van sitrus en kardemomsaad, gevolg deur fynbosgeure.
Die Symmetry Botanical Tonics is nie jou gewone tonikum nie – dit word in konsentraatvorm van heel plante, kinien-ekstrak van kinaboombas en ’n minimale hoeveelheid suiker gemaak. Dit bevat geen preserveermiddels nie en bevat slegs ’n kwart van die suiker van gewone tonikumwater. Die tonikum word met sodawater aangevul.
Tista het verduidelik dat die plantolies die aromatiese sout- en bittergeure na vore bring, sonder die nodigheid van groot hoeveelheid suiker om dit te balanseer. Hierdie tonikumwaters word gepasteuriseer sonder enige byvoeging van preserveermiddels.
Daar is tans drie geure in die Symmetry Tonics – Citrus, Spice en Floral – geïnspireer deur die maatskappy se visie van drie dominante profiele van jenewer: sitrus vir die hoogs aromatiese, volronde jenewer; blomagtig vir die Nuwe Wêreld jenewerbessie-skaam aromatiese jenewer; en spesery vir die meer tradisionele, aardse jenewerbessie-gedrewe jenewers.
Verdere botanies-geïnspireerde drankies word vir die res van 2018 beplan.
Symmetry Tonics is landwyd beskikbaar en Geometric Gin is van vandeesmaand beskikbaar.