Martjie Malan, van Koekedoor-faam, gesels met Maryke Roberts
Maryke Roberts
Martjie Malan was tweede in die pas afgelope Koekedoor-kompetisie. Week ná week het duisende Suid-Afrikaners voor die kassie vasgenael gesit om te sien wie die titel van die land se eerste Koekedoor gaan dra. Martjie was ’n gunsteling, veral haar fyn oog vir die mooiste koekversiering, haar kenmerkende stringetjie pêrels om haar nek – ’n huldeblyk aan haar ma – en haar natuurlike aanslag vir fyngebak.
• RESEP Ons deel Martjie se sprietuie-en-roomkaas-muffins-resep
Anders as wat mens verwag, sien hierdie eienaar van M.Pâtisserie in Andringastraat, Stellenbosch nie haar naaswenner-titel nie as ’n teleurstelling nie, maar is eerder trots om só ver te kon vorder. Sy droom daarvan om eendag haar eie bakboek op die rakke te laat verskyn en sy sal ook graag meer televisiewerk wil doen.
Sy vertel dat hulle in haar ouerhuis altyd rondom kos gekuier het. Haar ma en pa was lief vir kos en haar ma het bakwerk baie geniet en haar pa was die meester van braai en mosselsop. Hulle het die saadjie geplant wat haar belangstelling in kos laat groei het. Sy was van altyd af lief daarvoor om in kookboeke en tydskrifte rond te blaai en deur resepte te lees. Haar oumas het baie van bak gehou, veral ouma Martjie. Sy het rye en rye koekies gebak, van gewone soetkoekies tot vlakoekies en heerlike anysbeskuit met haar eie aartappelgis.
Sy is ’n opgeleide onderwyseres en dit kom handig te pas, want sy doen graag bakklasse vir kinders en volwassenes. M Pâtisserie word by die dag besiger en sy sê dit is wonderlik om te sien hoe die besigheid groei. Die winkel is op hierdie stadium haar hooffokus.
Loer by www.mpatisserie.co.za vir meer inligting.
Wat het jy studeer?
Deel van my wese is opvoeding, en ek het onderwys vir die intermediêre fase aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Onderwys bly deel van my lewe; ek leer graag kinders en volwassenes om te bak en kos te maak. Dit is ook vir my belangrik om die mense wat in my besigheid kom werk tot hul volle potensiaal te help ontwikkel.
Wat was die kosbaarste maaltyd wat jy nog geniet het?
My kosbaarste maaltyd was op Heroldsbaai se stoep, dit was my ma se laaste Kersfees. Op dié dag het ons vier kinders die heerlikste fyntee vir ons familie en vriende bedien. Van suurlemoen-meringue en sjokolade-ganache, tot terte en southappies. Dit was ’n helder somersdag wat my vir altyd sal bybly.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet bak?
’n Dis wat vir my maklik is om vinnig op te tower, is ’n sjokolade-ganache-tert: die tertkors neem glad nie lank nie en die vulsel is eenvoudig, dit laat ook altyd bruin sjokolade-glimlaggies agter.
Het enige gebak vir jou nostalgiese waarde?
Ek het soet herinneringe aan my ma se beskuit, karringmelkbeskuit met regte botter. Ons gesin is baie lief vir tee, ons drink oggend, middag en aand en sommer nog ’n paar keer daarby ook tee. Tee en beskuit is onoortreflik. Dit is my herinnering aan vroegoggende op my ma-hulle se bed, waar ons saam die dag met tee en beskuit begin.
Wat is die een gebak wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?
Vars vye-frangipanitert kom al baie jare met my gesin saam.
Hoe het jy besluit om M Pâtisserie te open en is dit alles wat jy gehoop het dit sou wees?
M Pâtisserie is die plek waar ek my liefde vir bak kan uitleef. My filosofie oor bak en waaroor my loopbaan gaan, is om vir mense geleenthede te skep waar hulle herinneringe kan opbou. My winkel is ’n plek waar dit kan gebeur. Al is dit ’n vinnige koffie saam met ’n vriendin of ’n fyntee vir ’n 60ste verjaardag. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word om die winkel te kry soos ek dit graag wil hê; party dae voel dit of dit baie ver is en ander dae voel dit of ek alreeds iets daarvan regkry.
Watter bakreuk herinner jou aan jou ouma?
Anysbeskuit, by my ouma-hulle se huis in die Vrystaat het ek baie hierdie reuk geruik. Ek sien my ouma wat in die kombuis staan en suikerstroop oor die goudbruin hobbeltjies van die beskuit smeer. Die eerste warm sny met botter is onvergeetlik.
Wat was jou familie se reaksie op jou eerste bakpoging?
My eerste koek het ek warm versier; dit het glad nie goed gewerk nie. Smeltende versiersel op ’n vanieljekoek is nou nie juis aanskoulik nie.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir ‘n spesiale tee en hoekom?
Ek sal graag vir Nataniël, Donna Hay en Martelize Brink wil nooi. Dit sal ’n interessante ervaring wees om al die stories rondom die tafel te hoor. Hulle almal inspireer my.
Wat sal op die spyskaart wees en waar sal jy dit hou?
Regte komkommertoebroodjies met wolksagte witbrood, klassieke petit fours, perfekte snytjies koek, suurlemoentertjies en forelrosies op röstis sal op die spyskaart wees. Ek sal dit graag by my sussie se pragtige, ou huis in Kaapstad hou.
Wat is trooskos vir jou en hoekom?
Franse pannekoek, crêpes met gesmelte kaas en ham en natuurlik ’n koppie tee daarby, want tee maak alles beter!
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou bakwerk en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie?
Ek gebruik graag kaneel in my gebak, dit werk wonderlik saam met baie ander geure. Daar is baie natuurlike Kaapse fynboskruie wat nie aan Suid-Afrikaners bekend is nie.
Wat is jou lewensleuse?
Daar is baie bevrediging daarin om aan te hou en doelwitte te bereik. “Leef voluit”, is niksseggend as daar nie iets gedoen word nie. So ’n leuse sou dalk eerder wees: “Leef voluit deur te doen wat vir jou energie gee”.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Suurlemoen
Wat is jou gunstelingkookboek?
Daar is natuurlik verskeie, maar ’n boek waaruit ek die meeste geleer het, is Tartine deur Elisabeth Prueitt en Chad Robertson.
Kyk jy graag kookprogramme op televisie?
Ons het nie ’n TV nie, maar as ons een gehad het, sou ek graag meer kosprogramme wou kyk.
Watter wyne stel jy voor gebruik mens met soet nagereg?
Natuurlike soetwyn, soos Klein Constantia Vin de Constance.
Na watter land wil jy reis om meer oor kosmaak en bak te leer?
Frankryk
Hoe sal jy jou kookstyl tuis beskryf – is jy ewe goed met bakwerk en kosmaak?
Ek maak eenvoudige, vinnige kos, gestoomde groente en romerige pastadisse is iets wat ek baie maak.
Watter gebak maak jou knieë lam?
Soet soufflé, daar is min gebak wat daarby kom.
By wie het jy jou grootste bakles geleer?
Definitief by my ma: noukeurige, presiese werk is nodig om uitstaande gebak te bak.
SOURCES
Verskaf