As daar een artikel is wat jy dié week moet lees, is dit Marlize Leyden s’n oor ’n vrou, haar fiets en Afrika.
As daar een artikel is wat jy dié week moet lees, is dit Marlize Leyden s’n oor ’n vrou, haar fiets en Afrika. Ek het Jolandie Rust ’n paar maande gelede saam met my geliefde by een van ons gunstelingrestaurante in Melville ontmoet en, soos wat ek onwillekeurig in restaurante doen, ’n geselsie met dié kelnerin aangeknoop. Toe ek hoor wat sy beplan, het ek haar gevra of sy bereid is om haar storie met Vrouekeurlesers te deel.
Wat laat ’n mens besluit om stoksielalleen op ’n fiets om Afrika te ry? Dis gewis nie iets wat jy sommer op die ingewing van die oomblik doen nie. Wel, nie ek nie. Trouens, dis iets wat ek nie eers ná maande van nadenke gaan doen nie. Daarvoor het ek gewoon nie die lus, motivering of moed nie. Vir my is fietsry iets wat jy op vakansie met ’n swembroek, sarong en plakkies op ’n afgeleë eiland, sonder opdraandes, vir ontspanning doen. Maar dis ek, en my lewensreis het nie dieselfde kinkels in die pad as Jolandie s’n gehad nie. Met die lees van haar storie verstaan jy haar verwysing na die rolprent, Forrest Gump, waarin Forrest drie jaar, twee maande, 14 dae en 16 uur gehardloop het om sin te probeer maak uit die dood van sy ma en sy goeie vriend en die verlies aan die vrou wat hy liefhet, maar wat nie met hom wil trou nie.
Ek kan nie help om aan die gesprek tussen Forrest en sy ma te dink wanneer sy hom moet vertel dat sy besig is om te sterf nie. Op sy vraag aan haar hoekom sy doodgaan, is haar antwoord: “It’s my time. It’s just my time. Oh, now, don’t you be afraid, sweetheart. Death is just a part of life. It’s something we’re all destined to do. I didn’t know it, but I was destined to be your momma. I did the best I could. I happened to believe you make your own destiny. You have to do the best with what God gave you.” Waarop Forrest aan haar vra: “What’s my destiny, Momma?” en sy met die nou alombekende sin antwoord: “You’re gonna have to figure that out for yourself. Life is a box of chocolates, Forrest. You never know what you’re gonna get.”
Dis dalk ’n soetsappige metafoor, maar so waar. Ons weet nie wat die lewe vir ons inhou nie. Dis nie elke keer wat jy ’n sjokolade uit die boks neem en die smaak wat uit die blink papiertjie kom, soet, sag en bekoorlik in jou mond wegsmelt nie. Dikwels is die smaak van die lewe bitter en proe dit wrang op jou tong. Ons het almal ons eie manier om sin te probeer maak uit dit wat met ons gebeur. Ons dink nie te veel oor die lewe as dit met ons goed gaan nie, maar om die lewe in tye van verlies en pyn te probeer verstaan of verwerk is moeilik. Dan wonder ons oor so baie dinge. Tog loop geluk en ongeluk hand aan hand. Dis die lewe. Miskien vat een van die vervaardigers van Forrest Gump, Wendy Finerman, dit raak as sy sê dat dié storie ’n emosionele reis is wat jou laat lag en huil. Dit laat jou lewendig voel.
Jolandie se fietsrit hou gewis baie opdraandes in. Een van haar eerste struikelblokke was om in Angola in te kom en sy moes terugvlieg Suid-Afrika toe om probleme met haar visum uit te sorteer, voor sy terug kon gaan om haar tog om Afrika verder aan te pak. Maar soos sy sê: “Hoe groter die uitdaging, hoe harder sal ek probeer. Ek het ’n passie om voluit te lewe, om vir die sterre te mik en in dinge te glo wat op die oog af onmoontlik lyk. Vir my is alles moontlik.”
Of sy haar droom gaan verwesenlik, weet ’n mens nie, maar dis nie die eindbestemming wat belangrik is nie, dis die reis. En ek hoop dié reis hou vir haar talle heerlike sjokolades in veelkleurige, blink papiertjies in wat só soet is dat dit enige bitter smaak sal oorskadu.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.