Jacques Geldenhuys het in September 2013 by die destydse Baleia Bay Wyne aangesluit, wat vandag bekendstaan as Baleia Wyne. Die plaas en kelder op Riversdal in die Suid-Kaap behoort aan pa en seun, Fanie en Jan-Hendrik Joubert.
Maryke Roberts
Jacques het op Elsenburg studeer en vertel dat hy aanvanklik gedink het hy sal met diere boer, maar hoe ouer hy geword het, hoe meer het sy liefde vir wynmaak ontwikkel. Hy droom daarvan om die kelder te bestuur en die Baleia-etiket tot een van die topkelders in die land te laat groei. Maar hy glo dat alle goeie dinge met tyd kom en nie aangejaag moet word nie.
Jacques en Mari woon op die plaas en hy vertel daar is net voordele vir hulle. Jy het spasie vir jou en jou gesin; jy skakel af van die alledaagse, besige dorpsdinge en is in die natuur. Hulle braai graag vleis, geniet ’n glasie wyn en bespreek die dag se dinge. Jacques sê die honde, ’n foksterriër, Robbie, ’n Jack Russel, Blits, en ’n GSP Pionter, Swarovski, kan nie saam werk toe gaan nie, maar in die aande as hy by die huis kom, weet hulle daar gaan ’n draai op die plaas gery word en hulle mag saam.
Hy glo SA wyne is die beste in die wêreld, omdat daar vir die verbruiker iets is waarvan hulle hou en ook omdat daar so ’n groot aanvraag in ander lande vir ons wyne is.
Hy geniet die wyne wat hy maak baie, maar sê as hy saans by die huis kom en ’n vuurtjie kan aansteek en rustig aan ’n glasie wyn teug, is dit die volmaakte einde aan ’n mooi dag.
Wat was sover jou hoogtepunt as wynmaker?
Elke keer as ’n wyn gebottel word, is dit vir my ’n hoogtepunt, maar die grootste hoogtepunt is om wyne van ? nuwe streek te maak en almal se verbaasde reaksie te sien oor goeie gehaltewyn wat in hierdie onbekende wynstreek gemaak word.
Hoe voel jy oor wynkompetisies – euwel of goed?
Wynkompetisies is altyd goed en dit is lekker om ’n goeie prys te verdien; om te sien jou harde werk het vrugte gepluk. Maar dis nie al waaroor dit gaan nie, jou wyn kan steeds baie goed wees en geen pryse wen nie.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Die kompetisie tussen mekaar – eerder as om saam te werk, mekaar te ondersteun en om die bedryf op te tel – in die binne- én buiteland.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Dis hoe die wyne voorgelê word aan die verbruiker. Hiermee bedoel ek dat sekere verbruikers bang is om wyn te proe omdat die persoon wat dit aanbied, te hoë woorde en terme gebruik om die wyn te beskryf en dit laat die minder ervare verbruiker minderwaardig voel, omdat hy nie alles verstaan nie.
Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Die meeste verbruikers is ingelig en wil meer leer. En dit is waarom ons ook proeë aanbied; dis vir die mense wat meer wil leer oor verskillende wynstyle en hoe om dit te geniet.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. skink; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
a) Wyn se temperatuur moet korrek wees, maar tog gaan dit oor persoonlike smaak.
b) Moenie wyne in klam plekke stoor nie – daar kan swamme voorkom. Daar moet ook lugvloei wees en ’n konstante temperatuur.
c) Kossoorte moenie te sterk wees en die wyn oorheers nie.
Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Dit speel ’n groot rol vir blootstelling en bekendstelling, veral as jy ’n nuwe kelder is.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Dat ’n mens witwyn van rooi druiwe kan maak.
Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
’n Goeie of lekker bottel wyn praat vir homself.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Toe ek verloof geraak het en ’n bottel Diesel Pinotage van Beyerskloof saam met my verloofde, Mari, gedrink het.
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n wyn van ander onderskei en laat uitblink?
Balans is die belangrikste faktor. Vrug, suur en tannien moet mekaar komplementeer.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat swael in die wyn mens se kop laat pyn. Lemoensap bevat baie meer swael.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Behalwe die wyn wat ek maak, die Cabernet Sauvignon 2004 van Rombauer, Kalifornië. Ek het daar gepars en verlede jaar dié wyn gedrink. Dit was spesiaal, omdat die wyn na soveel jaar nog so ’n mooi, komplekse karakter gehad het.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ja, ek het my plekkie, dis waar ek en Mari die sonsondergang gaan kyk!
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om eendag as ons kinders het, vir my kinders dieselfde geleenthede te skep as wat ek gehad het.
SOURCES
Verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.