Dis ‘n kuns en uitdaging om onderhoude met mense só aan te bied dat dit die leser boei. Willie Burger kyk onder meer na twee sulke boeke
Om ’n onderhoud met iemand te voer, is nie maklik nie. Sommige mense praat moeilik. Ander praat te veel. Party mense raak net vervelige opmerkings kwyt. Ander probeer die ondervraer se werk oorneem. Om dan uit ’n gesprek wat jy met iemand gevoer het ’n boeiende leeservaring vir jou leser te maak, is nog ’n groter uitdaging.
Die onderhoud is ’n joernalistieke genre wat op sy beste byna ’n soort eietydse geskiedskrywing is – ’n bietjie insig in die wêreld van ’n ander mens. Op sy swakste is dit die vestiging van die aandag op die onderhoudvoerder en is dit uiteindelik niksseggend oor die persoon met wie gepraat word of sy of haar wêreld.
GESPREKKE MET MERKWAARDIGE MENSE
Murray La Vita, Tafelberg
Goed, die helfte van Murray La Vita se onderhoude in Gesprekke met merkwaardige mense is onderhoude met skrywers. Die Kanadese skrywer Jean Royer het eens opgemerk dat die waarde van ’n onderhoud met ’n skrywer of digter eintlik daarin lê dat dit ’n portret van die skrywer bied en dat dit ’n inleiding tot die skrywer se werk is. Die onderhoud word vir Royer ’n literêre portret – ’n verslag waarin die persoon wat die onderhoud voer op die agtergrond bly. Wanneer dit goed gedoen word, redeneer hy, bied die weergawe van die gesprek tussen die onderhoudvoerder en die skrywer ’n samevatting van die skrywer se idees. Boonop stel Royer die eis dat só ’n onderhoud nie maar net ’n transkripsie van die vrae en antwoorde moet wees nie, dit moet sélf uiteindelik ook literêre meriete hê, sodat die leser ’n unieke ontmoeting met die skrywer ervaar.
In van die beste onderhoude met skrywers kry La Vita dit beslis reg en kan sy onderhoude met skrywers soos Hennie Aucamp, André Brink en Ingrid Winterbach inderdaad as lewendige literêre geskiedskrywing gereken word en ’n mens is bly dat hierdie onderhoude nou geboekstaaf is.
Hy voer ook onderhoude met ander merkwaardige mense, akteurs, kosmakers, kunstenaars, musiekmense en meningsvormers.
Hy slaag telkens daarin om iets van die persoon se idees saam te vat en die persoon se werk en opvattings bekend te stel.
HANLIE RETIEF GESELS MET
Hanlie Retief Protea Boekhuis
Hanlie Retief se gesprekke (wat in Rapport verskyn het) met ’n uiteenlopende klomp mense – van James Dalton, Os Durand, Piet Koornhof en PG du Plessis tot Kurt Darren en Piet Beyleveld – is onderhoude van ’n ander aard as dié van La Vita, wat telkens iets van ’n literêre pretensie bevat. Ek het Retief se onderhoude aanvanklik effens skepties begin lees. Ek het nie regtig enige belangstelling in talle van die mense met wie sy onderhoude gevoer het nie. Trouens, van talle van hulle het ek nog nooit eers gehoor nie (of al weer heeltemal vergeet en dit kan ’n probleem met ’n boek soos hierdie wees: dat sommige van die “celebrities” wat in die nuus was, ’n paar jaar later eintlik al vergete geraak het).
Ek het egter met al meer belangstelling gelees. Nie altyd omdat ek noodwendig in die mense belangstel nie – ek het geen behoefte om meer van Vernon Koekemoer of Yolanda Barnard te weet nie. Retief slaag egter daarin om die onderhoude só interessant aan te bied, dat die persoon self ook nie noodwendig die fokus word nie, maar ’n tydperk, ’n idee, ’n samelewingstendens deur die gesprek belig word. Sy kry dit reg om heeltemal op die agtergrond te verdwyn en byna uitsluitlik deur die woorde van die persoon met wie sy die gesprekke voer, ’n beeld van hulle aan die leser te gee, so natuurlik dat jy nie dadelik agterkom hoe fyn sy die gesprek manipuleer nie. As daar ’n boek voorgeskryf moet word vir joernalistiekstudente oor hoe om onderhoude te skryf, sal hierdie versameling beslis as voorbeeld kan dien.
OLD MASTERS
Thomas Bernhard Penguin Books, Londen
Die uitgewer Penguin het onlangs ’n reeks Central European classics bekendgestel. Talle skrywers van wie ek nog nooit eers gehoor het nie, se werk is in hierdie reeks beskikbaar: Karel Capek, Hyula Krúdy, EM Cioran, Ota Pavel, Slawomir Mrozek en ook hierdie roman van die Oostenrykse skrywer, Thomas Bernhard.
Old masters is een van die snaaksste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. Maar ook, juis in hierdie stadium, is dit ’n baie relevante boek – miskien veral vir ons hier in Suid-Afrika waar tans nogal baie oor die aard en belang van resensies nagedink word. Die hoofkarakter is ’n musiekkritikus wat die meeste van sy tyd in ’n Weense kunsmuseum deurbring. Die hele roman is een lang paragraaf en bestaan hoofsaaklik uit herinneringe wat die hoofkarakter se vriend het aan die menings wat die kritikus oor die jare heen gelug het.
Enige resensent, enige kunsliefhebber, veral diegene wat heimlik hoog opgee oor hul goeie smaak in musiek, kuns of boeke, behoort hierdie boek te lees.