Vroue kyk deesdae die kat goed uit die boom voor hulle die groot stap neem of besluit om die pad solo te stap
JB Roux
Kim Williams (34) is opgewonde besig om haar tasse vir ’n “vakansie van ’n leeftyd” te pak. ’n Peperduur voëlkykekspedisie in Gambië is nie juis almal se idee van die perfekte vakansie nie, erken sy. Al wat saak maak, is dat dit iets is wat sý graag wil doen. Dis nie nodig dat enigiemand haar keuse van ’n vakansie moet goedkeur nie – veral nie ’n man nie.
“Ek is dol oor diere en ek wou nog altyd so ’n ekspedisie meemaak,” sê Kim. “Ek het nie ’n man of kêrel wat weier om saam met my te kom en dan kerm omdat hy by die huis moet bly terwyl ek die pad vat nie. Ek doen wat ek wíl doen – en dis hoe dit gaan bly.
“Ek was nooit die moederlike tipe nie en wou nooit kinders hê nie,” sê Kim verder op die webwerf www.dailymail.co.uk. “Ek het ’n skoonheidsalon geopen toe ek 23 was en ek is besig om ’n kolwyntjie-onderneming op die been te bring. Ek het twee jaar gelede vir grade in sielkunde en kriminologie ingeskryf – ek is dol daaroor om te studeer.
“Wanneer ek pret wil hê, moet dit op my eie voorwaardes wees. My vorige verhouding was ’n paar jaar gelede en ek het tussenin met ander mans ook uitgegaan. Ek het besef dat om deel van ’n paartjie te wees, nie regtig is wat ek wil hê nie. My kêrel wou nooit die dinge doen wat ek wou doen nie, soos om te reis of te gaan dans. Ek wou my nie deur so iemand laat inperk nie.
“Mans toon gereeld belangstelling in my. Ek het onlangs ’n oulike man in ’n kroeg ontmoet en hy wou my selfoonnommer hê. Toe hy ’n foto van my hond op my selfoonskerm sien, sê hy dat hy nie van honde hou nie. Toe dink ek: Hoekom sal ek vir so iemand my selnommer gee? En ek het nie!
“Ek hou my nie op met iemand wat nie van dieselfde goed as ek hou nie. Dit klink dalk kras, maar dit is hoe dit is. Om uit vrye keuse enkellopend te wees, ondermyn nogal die idee dat ’n vrou ’n ridder op ’n wit perd nodig het om ’n vervulde lewe te kan lei.
Wat babas kry betref, stel nog ’n alleenlopervrou dit baie reguit: “Daar is vandag wetenskaplike metodes om swanger te raak sonder om jou enkelstatus prys te gee.” *
’n Langer wag
Al hoe meer vroue voel soos Kim, maar daar is ook ’n ander tendens: Vroue wat trou, wag dikwels tot hulle heelwat ouer is voor hulle kansel toe loop. Jennifer se pa het gestraal van vreugde toe hy saam met sy dogter in die kerk se gangetjie afgeloop het. Hy het lank gewonder of hierdie dag ooit sou aanbreek, maar sy dogter gaan eindelik trou – op 40.
’n Studie wat in Brittanje uitgevoer is, dui daarop dat die gemiddelde ouderdom waarop vroue trou, besig is om te styg. Die aantal vroue wat eers in hulle laat dertigs of in hul veertigs trou, het die laaste dekade verdubbel. En al is hulle nie meer so jonk nie, verkies dié vroue die tradisionele wit troue waaroor hulle as dogtertjies gedroom het.
Jennifer, nou 42, en haar man James se baba is agtien maande gelede gebore. “Ek wou nog altyd trou en ’n gesin hê,” sê sy, “maar ek het nie doelbewus gewag tot ek 40 is nie. My ouers is amper 50 jaar getroud en hulle is die perfekte voorbeeld van ’n gelukkige huwelik. Hulle hou steeds hande vas as hulle êrens heen loop. Ek het altyd gehoop dat ek ook ’n lewenslange, liefdevolle verhouding met iemand sou kon hê. Gelukkig het dit nou gebeur, al moes ek lank wag!”
Jennifer het, voor sy James ontmoet het, amper die spreekwoordelike knoop deurgehaak, maar nie een van haar vorige verhoudings was suksesvol nie.
“Ek was amper 30 toe ek die eerste keer ’n langtermynverhouding gehad het,” sê sy. “Ek was te besig om die lewe te geniet om aan ’n verhouding te dink. Baie van my skoolvriende het in hul vroeë twintigs getrou en met ’n gesin begin, maar dit was eenvoudig nie op my agenda nie.”
In haar dertigs het die druk om te trou, toegeneem. “Vriendinne wat, soos ek, gelyk het of hulle oujongnooiens gaan word, het getrou en begin babas kry. Dit het gemaak dat ek al hoe ernstiger aan trou begin dink het.”
Jennifer ontken dat sy, wat mans betref, te kieskeurig was.
“Al het ek geweet ek wil kinders hê en al was ek amper 40, was ek vasbeslote om nie met iemand te trou net sodat ek ’n gesin kan hê nie. Ek sou nie voor ’n kansel gaan staan voordat ek nie my sielsgenoot ontmoet het nie – en ek was bereid om te wag.
“Ek het deur die jare gesorg dat ek fiks en gesond bly sodat ek op ’n relatief gevorderde ouderdom ma kon word. My ouers is ’n bewys dat daar iets soos ’n suksesvolle, gelukkige huwelik is. Dis iets wat ek nog altyd self ook wou hê.” **
En die tendens in Suid-Afrika?
Al hoe meer Suid-Afrikaans vroue verkies om later in hul lewe te trou – of glad nie. Maar volgens Louise van Coller, huweliksberader en persoonlikheidsanalis, is dié tendens hier by ons nie naastenby so hoog soos in ander wêrelddele nie.
“Die meeste jong Suid-Afrikaanse vroue verkies om binne ’n tradisionele gesinstruktuur te funksioneer en hul rol as ma en eggenoot voluit uit te leef. Die redes hoekom baie Suid-Afrikaanse vroue tog verkies om nie te trou nie, is min of meer dieselfde as vir vroue in ander lande: die ekonomiese realiteit verskil baie van dié van ons ouers en grootouers.
Die grootste oorsaak is egter kinders wat ’n negatiewe belewing van die huwelik het, veral kinders wat die trauma van hul ouers se egskeiding moes deurmaak. Kinders se blootstelling aan rolmodelle vorm tot ’n groot mate hul doelwitte en ’n toekomsvisie. Die hoë egskeidingsyfer – sowat 50% – beteken dat geweldig baie kinders aan die verskriklike hartseer van ’n mislukte huwelik blootgestel word.
Sekuriteit is daarby baie belangrik vir moderne vroue, sê Louise, ook om ’n eie, unieke persona te hê. Daarom werk hulle hard om hul loopbane te vestig. Hulle wil nie van ’n lewensmaat afhanklik wees nie. Dié onafhanklikheid gee hulle die selfvertroue om binne die raamwerk van finansiële onafhanklikheid besluite te neem en self te kies wanneer om iets te doen wat die res van hul lewe gaan beïnvloed – soos om te trou.
“Die georganiseerde samelewing soos ons dit ken, is besig om te verdwyn. Die wegkwyning van die tradisionele gesinstruktuur is net die begin en dit sal ons kinders se opvoedingspeil en emosionele stabiliteit benadeel. ’n Kind het ’n ma én pa as rolmodelle nodig. Sonder sulke rolmodelle raak kinders verward en sonder ’n normale gesinstruktuur sal morele waardes verdwyn en stuur die samelewing op ’n ramp af.”
Baie jong vroue beskou die huwelik as ’n instelling wat ’n vrou se vryheid van haar wegneem, maar volgens Louise is dié siening ’n illusie wat veral onder vroue voorkom wat in ’n gesin grootgeword het waar vroue ’n uitgediende rol speel, en hul ma’s en oumas nie baie vryheid gehad het nie.
“Vandag werk dinge anders: ’n Vrou bepaal haar eie lewenspad en as sy kies om te trou en ’n gesin te hê, beteken dit nie dat sy haar vryheid of ’n deel van haar vryheid moet prysgee nie. Mans én vroue het die reg op gelukkige, vreugdevolle lewens. Vroue kan self bepaal hoe gesinslede hulle moet behandel of toelaat om hulle te behandel. Die meeste vroue sal altyd die behoefte hê om deel van ’n gesin te wees en om liefde met ander te deel. Daarsonder is daar altyd ’n hunkering na iets meer.
“Aan die ander kant is dit glad nie waar dat ’n mens jou lewe met iemand móét deel om gelukkig te wees nie. Geluk lê daarin om in volkome vrede met jouself te leef, alleen óf saam met iemand anders, maar dit is regtig ’n voorreg om saam met iemand vir jy regtig lief is, oud te word.”
Louise glo ma’s moet hul dogters se siening oor die lewe en huwelik vorm. “’n Groot deel van mawees is om ons kinders binne ’n beskermende omgewing, met onvoorwaardelike liefde en aanvaarding groot te maak.
Enkelouers
Maar wat van vroue wat doelbewus besluit om enkelouers te wees? Watter impak het so ’n besluit op ’n kind of kinders? Daar is baie voorbeelde van goeie alleenouers, maar is dit wys om te besluit om ’n enkelma te wees sonder dat daar ooit ’n pa in die prentjie was of sal wees?
“Die meeste enkelma’s het nie besluit om hul kinders alleen groot te maak nie en sal enigiets gee om deel van ’n gelukkige gesin te kan wees, met iemand wat haar en haar kinders liefhet. Maar soms kom daar nie so ’n geleentheid oor ’n alleenma se pad nie.”
Dat vroue op ’n al hoër – en dalk verstandiger – ouderdom trou, beteken nie dat minder egpare gaan skei nie. “Mense maak foute of hulle 20, 30 of 40 is. Nie eens volwassenheid kan keer dat iemand skei nie. Mense trou en mense skei – dis nou eenmaal hoe die lewe werk. Al manier om die egskeidingsyfer te laat daal, is om kinders van jongs af oor die huwelik te leer en oor wat om binne ’n huwelik te verwag.”
Bronne
* The Forever Singles in die Daily Mail
** Wife begins at 40! in die Daily Mail