Die duurste kunswerke op dié skou kos R40 000, hoewel talle werke vir minder as R5 000 beskikbaar is
Johan Myburg
As jou oogmerk nog altyd was om kuns te versamel, maar jy weet nie waar om te begin nie, is die 2015 Turbine Art Fair (TAF15) dalk net die plek. Die derde TAF word van 16 tot 19 Julie in die Turbine Hall in Newtown, Johannesburg, aangebied.
Glynis Hyslop, besturende direkteur van The Forum Company, die maatskappy wat dié kunsskou organiseer, het drie jaar gelede met die plan vir die TAF15, geskoei op die lees van die Londense Affordable Art Fair, vorendag gekom. Die duurste kunswerke op dié skou kos R40 000, hoewel daar talle werke vir minder as R5 000 beskikbaar is.
Benewens die geleentheid wat die TAF die publiek bied om kontemporêre kunsstukke van waarde aan te skaf, is die verdere oogmerk ook om ’n gemoedelike omgewing te skep waar die voorste galerye en kunstenaars onder een dak byeen is. Daar is vanjaar meer as 50 kunsgalerye betrokke, daar is daagliks musiekgroepe wat optree, asook die keurigste eet- en drinkgoed. Vir kinders is daar genoeg vermaak, onder meer ’n hoekie waar “jong kunstenaars” na hartelus kan teken. Dié diens aan ouers word deur Staedtler aangebied. Daar is ook spesiale rondleidings vir kinders.
Die Fresh Produce-program waarmee die netwerk vir visuele kunste in Suid-Afrika (Vansa) verlede jaar begin het, word vanjaar voortgesit. Zanele Mashumi het as die kurator van dié program wyd en syd gereis en die werk van opkomende kunstenaars regoor die land byeengebring.
Mashumi was die stukrag agter die eerste “pop up”-galery in Soweto in 2013 en sy het al verskeie uitstallings in die Nex Dor-restaurant in Soweto aangebied. Van 2012 tot 2014 was sy ’n assistent-produksiekurator van die Joburg Art Fair en verlede jaar het sy ’n uitstalling van werk van Partrick Kagiso Mautloa tydens die Johannesburgse kunsweek aangebied.
Die kunstenaars wat aan Fresh Produce deelneem, kry die geleentheid om mentorskap te van Assemblage ontvang, ’n niewinsgewende organisasie in Newtown wat die visuele-kunstegemeenskap help deur inligting en raad te deel.
In samewerking met die Sylt-stigting word ’n kunstenaarsverblyf in Duitsland aan een van die kunstenaars toegeken wat aan die Fresh Produce-uitstalling deelneem.
Hentie van der Merwe, kunstenaar en senior lektor in visuele kunste aan die Universiteit van Stellenbosch, is die kurator van Emerging Painters, ’n uitstalling van skilderye deur afgestudeerde kunstenaars aan die universiteite van Rhodes, Stellenbosch en die Witwatersrand.
Die Johannesburgse Kunsmuseum beplan om ’n uitstalling uit sy permanente versameling van grafiese werk ten toon te stel.
Meer inligting
TAF15 kan op Vrydag 17 Julie van 10:00 tot 20:00, Saterdag 18 Julie van 10:00 tot 18:00 en Sondag 19 Julie van 10:00 tot 17:00 besigtig word.
Toegang is R85 by die deur en R75 voor 1 Julie by www.webtickets.co.za. ’n Naweekpas kos R180.
Die skemerkelk-openingsgeleentheid op 16 Julie kos R495 per persoon en sluit ’n ligte ete en wyn in.
Vir nog besonderhede besoek die webwerf www.turbineartfair.co.za of die Turbine Art Fair se Facebook-blad.
In ’n neutedop
• The Forum Company is ’n Johannesburgse maatskappy wat sy stempel afgedruk het as ’n konferensiesentrum asook ’n spysenieringsbedryf. Besoek die webwerf www.theforum.co.za.
• Die Turbine Hall in Newtown was in die 1920’s Johannesburg se kragstasie en is steeds ’n integrale deel van die stadsargitektuur.
• Parkeerplek is op die perseel van die Turbine Hall beskikbaar. Die ingang is by Ntemi Pilisostraat 65, Newtown.