Die bokant van die korporatiewe leer kan baie ver lyk, veral as jy dit in hoë hakke moet klim! Inge Scholtz het gaan uitvind wat jy kan doen om dit makliker te maak
Inge Scholtz
Vroue in die werksplek het baie meer uitdagings as dit wat hul werkgewer van hulle vereis. Hulle moet die balans tussen werk en hul gesinne handhaaf, maar moet ook stereotipiese denke oor vroue hanteer en dikwels met kleiner salarisse as hul manlike eweknieë tevrede wees.
Vroue word ook dikwels deur hul eie oortuigings en onsekerhede teruggehou. “Vroue bo 40 is geneig om enige salaris te aanvaar,” sê Janice Hanly, ’n lewens- en beroepsafrigter van Johannesburg.
“Vroue van hierdie ouderdom ervaar ook dikwels ’n gebrek aan selfvertroue omdat hulle ’n tyd lank by die huis gebly het om die kinders groot te maak.”
Janice meen egter dat jonger vroue meer selfgeldend is en ook meer selfvertroue het. “Jonger vroue is bereid om te veg vir wat hulle glo reg is en wat hulle glo hulle verdien. In die algemeen is vroue egter nie so sterk soos mans wanneer dit by onderhandelings oor geld kom nie.”
’n Mens kan egter nie veralgemeen oor vroue se onderhandelingsvermoë nie, meen Ian James van Clearsight Coaching wat onder meer in beroepsafrigting spesialiseer.
“My vrou is baie beter daarmee om vir ’n verhoging te onderhandel as ek. Die feit bly egter staan dat vroue wêreldwyd minder vir dieselfde werk betaal word, selfs al verbied wetgewing dit. Die aantal vroue in bestuurs- en ander senior posisies is ook drasties minder as mans.”
Volgens Charles wys navorsing dat vroue slegs vir poste aansoek doen waaroor hulle selfversekerd voel, terwyl mans vir poste aansoek doen wat hulle interesseer. Hulle is ook selfversekerd genoeg dat hulle die nodige vaardighede sal kan aanleer om die pos suksesvol te vul.
“Ek hou van die bekende sakemagnaat Richard Branson se benadering: ‘As iemand jou ’n geleentheid aanbied, aanvaar dit – jy kan later leer hoe om dit te doen.’ Dit behoort op albei geslagte van toepassing te wees.”
Vat die risiko raak
Vroue is dikwels skrikkerig om berekende risiko’s in hul loopbaan te neem, hoewel dit persoonlike groei en ook vooruitgang in hul loopbaan kan meebring.
“Vroue wat nie in ’n verhouding is nie en geen kinders het nie, is meer geneig om risiko’s te neem en geleenthede aan te gryp. Vroue wat wel getroud is en kinders het, is geneig om hul gesin eerste te stel.”
Janice meen egter dat dit die natuur is en die versorgende rol intrinsiek deel van elke vrou is. Hoewel vroue die stimulasie van die werksplek nodig het, sal hulle outomaties hul gesinne eerste plaas en nie soveel risiko’s as mans in die werksplek neem nie.
’n Mens moet egter versigtig wees om risiko’s heeltemal te vermy en sodoende te stagneer. Risiko’s laat ’n mens toe om buite jou gemaksone te beweeg en mag soms aanvanklik ongemaklik voel, maar dit laat jou toe om persoonlik te groei en te leer waartoe jy in staat is.
As jy in die algemeen nie gemaklik voel met risiko’s nie, sorg dat jy dit in klein dosisse kry. Jy kan byvoorbeeld by ’n projek betrokke raak wat jou interesseer, maar nie noodwendig deel van jou posbeskrywing is nie. Op hierdie manier brei jy jou kennis en vaardighede uit en maak jouself aantrekliker as werknemer. As jy selfversekerd voel dat jy die nodige vaardighede bemeester het, kan jy vir ’n meer senior pos aansoek doen.
Wees oopkop oor geleenthede
’n Oopkopbenadering is ’n eienskap wat deure na verskeie geleenthede kan oopsluit.
“Vroue moenie hul opsies tot sekere industrieë beperk nie,” sê Ian. “Baie min poste vereis vandag fisieke krag. Dit gaan oor kennis en is oop vir almal.”
Ian sê hy het in die jare sewentig elektronika gestudeer en dat slegs vyf van die 80 studente vroue was. “Ingenieurswese word steeds as ’n manlike beroep beskou, ongeag die feit dat vroue net so bekwaam as mans is.”
Volgens Ian het Suid-Afrika steeds ’n baie tradisionele en seksistiese uitkyk op manlike en vroulike rolle. “Ouers en loopbaanadviseurs is geneig om meisies van sommige beroepe weg te wys. Een van die grootste foute wat ’n vrou kan maak, is om te doen wat ander mense dink sy moet doen. Moenie jouself in ’n rigting laat boelie waarin jy nie belangstel nie. As jy iets kies waarin jy belangstel, kan jy enigiets vermag!”
Werkgewers beskou ’n oopkop-benadering ook as een van die eienskappe wat ’n kandidaat aantreklik maak. Kenners meen dat mense wat duidelik vir nuwe idees en menings oop is ’n groot bate vir ’n maatskappy is.
Deur vir poste aansoek te doen wat tradisioneel as manlik beskou is, wys ’n mens dadelik dat jy gewillig is om vars te dink. Daar is ook al bewys dat mense wat met ’n oop benadering na die wêreld om hulle kyk, makliker is om mee oor die weg te kom – nog ’n rede waarom werkgewers graag hierdie soort mense aanstel.
Foute wat jou terughou
Jy is altyd soggens betyds op jou pos, jou werk is altyd goed en ’n mens kan jou deur ’n ring trek. Dit beteken egter nie dat jy nie onbewustelik foute by die werk maak wat keer dat jy vir bevordering oorweeg word nie. Hier is vyf foute wat jou dalk terughou:
1 Emosies wat oorneem
Die konsep van emosionele intelligensie beklemtoon dat die vaardigheid om emosioneel op onsself en ons kollegas ingestel te wees, ’n belangrike faktor vir professionele sukses is. Emosie is nie taboe in die werksplek nie, maar ’n mens moet weet wanneer dit gepas is om jou gevoelens te wys en wanneer jy dit moet vermy om met jou hart op jou skouer te loop.
Wanneer ’n mens by die werk emosioneel voel, is dit altyd wys om eers ’n oomblik te stop om af te koel. Emosies oorweldig ’n mens se rasionele brein en maak dit maklik om iets te sê waaroor jy later spyt is of ’n herrie in ’n e-pos op te skop. Wanneer jy emosioneel voel oor ’n situasie in die werksplek, is dit belangrik om niks te doen totdat jou emosies bedaar het nie.
2 Lidmaatskap in die skinderspan
Janice meen dat ’n geskinder by die werk ’n giftige situasie is en ’n mens se loopbaan groot skade kan berokken. Ons hou daarvan as ander van ons hou, maar só kan ‘n mens by skinderpraatjies betrokke raak om deel van die groep te voel. Suksesvolle loopbane word egter nie op skinderpraatjies gebou nie.
Dit beteken nie dat jy jouself moet afsluit van alle gesprekke wat nie oor werk handel nie, maar eerder dat jy grense sal stel en slegs aan opbouende gesprekke deelneem.
3 Te min moed
“Sommige vroue het nie genoeg selfvertroue om self oor iets te besluit nie en het altyd insette van ander mense nodig,” sê Janice. Dit veroorsaak egter dat mense jou as onseker beskou. Wanneer ’n mens jou mening oor ’n onderwerp uitspreek, wek jy die indruk dat jy ingelig is, maar ook dat jy oop is vir voorstelle.
4 Oormatige analise
Janice meen dat vroue dikwels geneig is om situasies oormatig te analiseer. “In Engels sê ons dat so iemand in analysis paralysis verval en onnodige stres vir haarself veroorsaak.”
As jy elke situasie dermate analiseer dat dit jou daarvan weerhou om besluite te neem, lei jy aan analysis paralysis en word jou besluitneming letterlik deur ooranalise verlam.
Voordat jy ’n situasie begin analiseer, dink eers hoe belangrik is dit. Die volgende vrae kan help om die belangrikheid van ’n situasie te bepaal: Sal die uitkoms van my besluit oor ses maande steeds saak maak? Wat is die ergste wat kan gebeur wanneer ek hierdie besluit neem?
Jy kan dan ’n besluit neem op grond van die belangrikheid van ’n situasie en slegs die aandag daaraan gee wat dit verdien.
5 Verdeelde fokus
’n Mens moet leer om jou bekommernis en probleme by die huis te los. Jou werkgewer betaal vir jou tyd en jy moet gefokus genoeg wees om die werk gedoen te kry. As jy tyd nodig het om ’n persoonlike probleem op te los, vat ’n dag verlof en maak só seker dat jou persoonlike probleme nie met jou werk inmeng nie.
Meer inligting
Janice: 082 444 9909 of [email protected]
Ian: 082 947 3193 of [email protected]