DH Lawrence se bekende boek Lady Chatterley’s lover is in 1928 in Frankryk gepubliseer. Dis eers in 1960 wat Penguin Books die storie van die verhouding tussen ’n getroude vrou uit ’n hoë sosiale stand en ’n man uit die werkersklas in Engeland gepubliseer het.
DH Lawrence se bekende boek Lady Chatterley’s lover is in 1928 in Frankryk gepubliseer. Dis eers in 1960 wat Penguin Books die storie van die verhouding tussen ’n getroude vrou uit ’n hoë sosiale stand en ’n man uit die werkersklas in Engeland gepubliseer het.
Publikasie van dié boek is eers toegelaat nadat die saak in die hof gaan draai het. ’n Paar mense in hoë posisies het gemeen die taalgebruik en intieme tonele tussen die twee hoofkarakters is immoreel. Hulle wou vir die samelewing besluit wat hulle mag lees en wat hulle nie mag lees nie. Gelukkig het die jurielede besluit dat alle mense toegang tot die boek kon kry en het dit uit die getuienis in die hofsaak geblyk dat die werk literêre waarde het en ’n menslikheid uitbeeld wat tot almal spreek. Interessant genoeg is drie miljoen kopieë van die boek binne die eerste drie maande verkoop.
Dis in dieselfde hofsaal wat die briljante Oscar Wilde 65 jaar tevore, in 1895, twee keer in die beskuldigdebank gestaan het omdat sy seksuele voorkeur vir mense van dieselfde geslag was. Ná die hofsake het die samelewing in Engeland onverdraagsamer teenoor homoseksuele mense geraak en diegene wat verhoudings met mense van dieselfde geslag gehad het, het in angs begin leef en hul verhoudings geheim gehou. Iets wat baie mense vandag nog uit vrees vir veroordeling doen. Oscar Wilde is twee jaar later vrygelaat, maar hy was bankrot en ontnugter. Hy’t Engeland verlaat en is in 1900 in Parys dood. Hy’t in effek vyf jaar tevore die doodstraf gekry.
In 2010 storm ons minister van kuns en kultuur uit ’n kunsuitstalling waarin die werk van twee vroue uitgestal word. Sy meen die kunswerk, wat met foto’s vroue se intimiteit met mekaar uitbeeld, is pornografies en sy sien dit as immoreel, aanstootlik en teen nasiebou. Miskien verstaan ek pornografie anders as sy. En ons gaan waarskynlik verby mekaar praat as die gesprek oor moraliteit en nasiebou gaan, want ek het ’n ander idee daaroor.
“Corrective rape” is ’n begrip wat die afgelope paar jaar ’n werklikheid in Suid-Afrika geword het. Swart, lesbiese vroue word deur mans verkrag om hulle van hul seksuele voorkeur te “genees”. Sommige van hulle word ook daarna vermoor. Is dit ’n morele samelewing?
In Kanada word ’n Suid-Afrikaanse psigiater tans daarvan aangekla dat hy oor ’n lang tydperk sy professionele posisie misbruik het en mans seksueel uitgebuit het. Dit blyk dieselfde man te wees wat in die apartheidsjare in die Suid-Afrikaanse weermag toegelaat is om skokterapie te gebruik om gay mans te “genees”. Ek is stomgeslaan.
In die rolprent Brokeback Mountain wat oor die jare lange, geheime liefdesverhouding tussen twee mans gaan, is daar iets wat my bybly. Dis wanneer die een man vir sy sielsgenoot sê hul verhouding is “private and got nothing to do with other people”.
Die aanklaer in Oscar Wilde se hofsaak het in ’n stadium vir Oscar gevra: “What is ‘the Love that dare not speak its name’?” Oscar Wilde se antwoord het ’n luide applous en ’n paar mense se misnoeë ontlok. Hy’t onder meer gesê: “‘The love that dare not speak its name’ in this century is such a great affection … as there was between David and Jonathan, such as Plato made the very basis of his philosophy, and such as you find in the sonnets of Michelangelo and Shakespeare. It is in this century misunderstood, so much misunderstood that it may be described as the ‘Love that dare not speak its name’, and on account of it I am placed where I am now. It is beautiful, it is fine …. There is nothing unnatural about it. The world mocks it and sometimes puts one in the pillory for it.”
Sy prokureur het sy betoog afgesluit deur die jurie te vra: “… gratify those thousands of hopes that are hanging on your decision… and clear from this fearful imputation one of our most renowned and accomplished men of letters of today and, in clearing him, clear society from a stain.”
Carla van der Spuy se artikel “Gay is geen vloekwoord” het my weereens tot die besef gebring dat daar in mense se verhoudings met mekaar een faktor is wat die geluk daarvan bepaal. En dit het nie met rykdom, sukses of jou geslag te make nie – dit gaan oor die liefde.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.