Ons vier Vrouedag op 9 Augustus en het met ’n paar vroue gesels oor die vroue wat hulle bewonder
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Leandie du Randt-Bosch, aktrise, aanbieder en skrywer
Ek bewonder enige vrou wat 100% haarself is. Die mooiste vrou is iemand wat glad nie bang is om net te wees wie sy is nie en nie voorgee om iemand of iets te wees wat sy nie is nie. Ook ‘n vrou wat haar uniekheid vier en dinge doen soos sy wil. Ons almal is anders en dit is om soos ‘n magic van jou eie te hê. Moenie jouself met ander vroue vergelyk nie, want niemand is soos jy nie. #NoOneCanBeatYouAtBeingYou
Zoë Brown, Expresso– en KFM-aanbieder
Ek is gelukkig om ‘n paar vroue te ken wat ek bewonder. Ek salueer veral die werkende ma’s wat kinders grootmaak terwyl hulle hul eie ambisies vervul. Dankie dat julle die rigting wys vir vroue wat ma’s wil wees, maar ook ‘n loopbaan wil volg.
Sorina Erasmus, sangeres en aktrise
Ek bewonder my ma. Sy is dalk in ander mense se oë doodgewoon, maar ek sien haar liefde vir haar medemens, haar passie vir haar werk en haar ondersteuning vir haar familie. Sy is my beste vriendin, my oor wat altyd luister, my anker as my skip in stormwaters beland en my veilige vesting as ek bang is vir die toekoms. Ek hoop dat ek ook eendag soos sy kan wees!
Janine Janse van Rensburg, stigter en eienaar van Poise Brands
Daar is nie een spesifieke vrou wat ek bewonder nie, maar verskeie. Ek dink die wêreld het baie ongelooflike, wonderlike, dinamiese vroue. Vroue is ongelooflik sterk en het ‘n wonderlike vermoë om gesinne, vriende en uitgebreide familie bymekaar te trek. Ek bewonder vroue wat soveel dinge kan balanseer en steeds ‘n sin vir humor behou.
Diane Nel, Mev Mzantzi Africa 2017
‘n Rolmodel is net ’n gewone mens wat bereid is om ongewone dinge te waag en te doen – om ander se belange op die hart te dra. Haar lewe is nie noodwendig maanskyn en rosegeur nie, nes ons s’n. Wat haar anders maak is haar bereidwilligheid om dit te gebruik om ander te help. Lady Diana Spencer was so ‘n vrou. Ek het haar al as kind bewonder. Sy het altyd gestraal en die manier hoe sy ander behandel het, motiveer my. Haar liefdadigheidsprojekte inspireer my steeds om meer met my eie projekte te doen.
Bailey Schneider, Radio- en TV-aanbieder, stemkunstenaar en blogger
Ek bewonder my kleinsus Tandi Bruyns. Ek sê altyd dat sy die ouer suster moes wees, want sy het soveel wysheid en gee die beste raad. Niks is ooit vir haar moeite nie en sy laat almal spesiaal en geliefd voel. Ons wêreld kort meer mense soos sy.
Roxy Louw, model en branderplankryer
My ma is vir my ‘n inspirasie. Sy is so ‘n sterk vrou. Sy is vrygewig en gaaf met almal en kla nooit. Sy het vier kinders grootgemaak en was ook ‘n groot ondersteuning vir my pa. Sy skrik nie vir uitdagings nie en hoewel sy klein en fyn is, is sy die langste in die vertrek. Hulle sê dinamiet kom in klein pakkies en my ma is die perfekte voorbeeld.
Jessica Ashley-Cooper, Suid-Afrikaanse swemmer
Ek bewonder die 85-jarige Deidre Larkin. Sy is op 77 met osteoporose gediagnoseer en sy het geweier dat haar liggaam agteruitgaan en het op 78 begin hardloop. Sy het in 2013 die eerste rekord vir vroue oor 70 gebreek. Sy het vanjaar die Geneva-marathon gehardloop en haar eie rekord gebreek. Hierdie vrou is net ongelooflik.
Tarien Joubert, ’n 17-jarige voltydse swemmer
Kayla Itsines inspireer my en so baie ander mense. Ek is gek na haar positiewe lewenshouding en haar bereidwilligheid om gesondheids- en fiksheidswenke met almal te deel.
Al dié vroue is Poise Brands-ambassadeurs. Poise Brands is die eksklusiewe verspreider van Mii Cosmetics, Juliette Armand, Mio en Mamma Mio-velsorg in Suid-Afrika. Besoek www.poisebrands.co.za vir meer inligting
Meer oor Vrouedag
Op 9 Augustus 1956 het duisende vroue in protes teen die destydse paswette na die Uniegebou opgeruk. Dit was ongehoord vir daardie tyd, maar die groep het ‘n petisie aan die destydse eerste minister, JG Strijdom, oorhandig, 30 minute stil buite gestaan en toe ‘n lied gesing.
Vandag ken ons almal die woorde van hul dreunsang: “Wanneer jy ‘n vrou slaan, slaan jy ‘n rots.”