Dis telkens vir my skokkend om op sosiale media te lees hoeveel jongmense hul lewens beëindig omdat hulle geboelie is.
Gaan kyk jy na ’n boelie se gedrag op laerskool, gaan jy nie verbaas wees om te hoor dat die boelie reeds van kleintyd af sulke mislike gedrag openbaar het nie. Boelies wurm hulle oral in, van die werksomgewing tot in politieke posisies. Ons hoef maar net te kyk na die man wat tans die septer in Amerika swaai – als aan hom gee my die indruk van ’n boelie. Dis Abraham Lincoln wat gesê het as jy ’n mens se karakter wil toets, gee hom mag. Hierdie wysheid het ek al soveel keer in my lewe in die praktyk gesien en dit verstom my altyd hoe mense wat in magsposisies beland, reageer.
Dit laat my dink aan die briljante Franse filosoof Michel Foucault wat gesê het: Die individu is die produk van mag. ’n Vriendin vertel my onlangs hoe sy tydens ’n werksonderhoud deur een van die paneellede gevra is hoe sy sou verander as sy die (senior) pos kry? My vriendin was terstond met stomheid geslaan en in haar kop het sy dié persoon gevra: “Hoe bedoel mevrou nou?” Het jy in die lewe al van so iets gehoor? Hoekom sou ’n mens moet verander as jy in ’n posisie kom waarin jy “mag” het? Hieroor is ek baie uitgesproke en sien ek nie ’n grys gebied raak nie. As dit is hoe jou kop werk, het ek en jy niks vir mekaar te sê nie. Jy gaan mos jou mag (en titel) misbruik en jou sogenaamde ondergeskiktes boelie.
Die tragiese is, as jy ’n boelie in ’n magsposisie is, gaan jy tien teen een met jou gedrag wegkom. Hoekom? Omdat ons eiehandig mag aan boelies gee. Die einste Foucault het gesê dat mense in magsposisies net mag het as ons hulle toelaat om dit te hê en nie besef dat ons ook mag het nie. Dis hoekom ons so maklik onderdanig is, want ons dink dit is maar hoe dit is. Mense in magsposisies beïndruk my net as hulle alle mense met respek en menswaardigheid behandel.
Ek gee nie om of jy die CEO van ’n maatskappy of die president van ’n land is nie – as jy jou magsposisie misbruik, is jy in my oë ’n boelie. Gelukkig is daar ook mense soos Richard Branson wat sê: Vanaf my eerste dag as entrepreneur het ek gevoel my enigste doelwit is om mense se lewens beter te maak. Dis die einste Richard wat sê niemand noem hom ooit sir Richard nie. En die enkele kere wat dit al gebeur het, was in Amerika en dan het hy telkens gedink hulle verwys na ’n toneelstuk van Shakespeare. Die man se voete is plat op die aarde – g’n wonder die mense wat in sy maatskappy werk, is dolgelukkig nie. Vir sulke mense het ek baie tyd en respek.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.