Joernalis JB Roux vertel ’n stukkie van sy storie oor depressie en skokterapie
JB Roux
Die oproep om te sê ek kan my aanmeld, kom Woensdag onverwags.
Ek het lankal met die psigiater oor die moontlikheid van elektrokonvulsiewe terapie (EKT) begin praat. Die verskillende soorte medikasie wat oor jare voorgeskryf is, het soms gehelp. Meestal nie. Later glad nie. Al wat oorbly, is om my brein letterlik tot lewe te probeer skok.
Daar is vier beddens in my kamer en ’n platskerm-TV. Daar is twee groot sitkamers met kabel-TV en snoekertafels. En ’n binnehof met ’n fonteintjie.
In die binnehof sit pasiënte (of “kliënte”) en rook. Dit lyk soos ’n straattoneel êrens in Europa. Asof niks verkeerd is nie. Ek gaan sit voor die fonteintjie en stuur ’n SMS vir ’n vriendin op my tuisdorp: The eagle has landed. Sy SMS terug: Crawl through the eye of the needle. Die meeste mense lyk of hulle nie hier hoort nie. Iemand wals kaalvoet en met ’n beker koffie die binnehof binne. Seweuur is besoektyd. Die sitkamers is vol beweging en stemme. Ek mis my honde.
Vrydag
Ek word vroeg wakker gemaak vir my eerste sessie EKT. Die narkose laat my lank slaap.
Daar is geen verligting van die depressie nie, ook nie newe-effekte nie. Ek drink sterk koffie om genoeg “kopenergie” te hê om my notas by te hou. Ek word toenemend bewus van die ander kliënte: afgeleefde huisvroue, jong latte met óú oë, ’n kaalvoetmeisie wat traanloos ween, ’n vermoeide tantetjie. Amper almal is vir depressie opgeneem. So ver ek weet, is ek die enigste een wat EKT kry.
Ek voel reeds effens beter, maar dis nie die EKT nie. Die ander kliënte het feitlik almal ook ná die eerste paar dae begin ontspan. Waarskynlik omdat jy hier “beskut” voel en omdat daar ’n vaste roetine is. Jy mag nie die hele dag op jou bed lê en wens jy gaan dood nie. Om die hele dag met ander depressielyers te sosialiseer, maak jou juis nie meer depressief nie.
Om te loop of te beweeg, is steeds ’n stryd. Depressie is soos om in ’n moeras te leef, ’n dik laag modder wat jou bewegings en selfs jou denke belemmer. Baie van die kliënte is “old timers” (die verpleesters noem hulle “reruns”). Mense wat reeds hier was. Almal lyk tevrede daarmee om hier te wees. Daar heers ’n vriendelikheid, selfs gemoedelikheid.
Eenkant sit ’n lang, aantreklike man, vooroor gebuig deur diep emosionele pyn. Dis die hartseerste ding wat ek nog gesien het.
Maandag
Ek word weer vroeg wakker gemaak en drink ingedagte ’n koppie tee. Ek sal nou nie narkose-EKT kan kry nie. Dit beteken ek moet twee dae langer bly. Ek woon later die oggend ’n lesing oor “lewensverbetering” by.
Dis verpligtend. Ek leer niks nuuts nie, maar die lesings gee struktuur aan die dag.
Dinsdag
Môre is dit weer EKT. Een van die nuwe kliënte wat EKT gaan kry, kom soek my op. Ek vertel hom alles wat ek weet, probeer hom gerusstel. Later kyk een van die kliënte skielik reguit na my en sê: “I love you.” Ek staan op en druk haar teen my vas.
Saterdag
Ek was gisteraand baie gespanne en bedruk: Daar was geen newe-effekte ná drie sessies nie, maar ook geen resultate nie. Die effense verligting wat ek begin voel het, is bolangs. Ek het geen Plan B nie. Volgens die personeel is dit te gou vir resultate.
Ek praat met my “gewone” psigiater. Sy stel gesprekke met ’n sielkundige voor om vas te stel of iets my energie “dreineer”.
Ek het tot ’n paar jaar gelede baie ure by sielkundiges deurgebring – ek weet nie of ek kans sien nie. Die pille wat ek tot
onlangs geneem het, sê sy, is besig om uit my gestel te dreineer terwyl die nuwes nog nie kans gehad het om te begin werk nie.
Maandag
Na die oggend se EKT voel dit asof iets in my brein begin roer: Iets wil tot lewe kom. Ek dink vir die eerste keer in ’n lang ruk aan skryf en ek het skielik ’n amper oorweldigende begeerte om ’n kanarie te kry. Dis ’n goeie teken: Baie lank gelede, toe dit baie goed gegaan het, het ek met kanaries geboer.
Dinsdag
Die psigiater sê die EKT laat ’n mens nie “meteens” beter voel nie. Ek spreek vir die eerste keer die sielkundige wat die kliniek daagliks besoek. Sy wil my verlede oopkrap. Ek is nie lus om dit wéér te doen nie.
Donderdag
Ek word meegedeel dat die mediese fonds my psigiaterbesoeke vanjaar van my hospitaalvoordeel afgetrek het: Ek kan net 19 pleks van die beplande 21 dae bly en net sewe pleks van die beplande agt EKT-sessies kry. Dis verpletterende nuus.
Vrydag
Ná die oggend se EKT kom hoor die dokter hoe dit gaan. Ek voel steeds nie mínder depressief as voorheen nie. Ek bly dink: “Wat doen ek nóú?” Ek moet afskeid neem van ’n paar mense met wie ek baie goed bevriend geraak het en altyd sal onthou. Dis tyd vir hulle om te gaan. Daar is skielik ’n hele paar nuwe gesigte – dis ’n bietjie oorweldigend.
Saterdag
Ek voel steeds baie neerslagtig en vra vir kalmeermiddels – dit help om die wanhoop oor wat voorlê in toom te hou. Die sielkundige sê dis te gou vir resultate.
Sondag
Ek sit in die binnehof na die fonteintjie en kyk. En hoor twee kliënte lag – 19 dae in ’n kliniek vir depressielyers. Wat my die langste sal bybly, is die humor.
Werk dit regtig?
’n Joernalis het self skokterapie beleef en vra hier vrae oor die onderwerp
Hulle maak jou vroegoggend wakker. Jy loop saam met ’n verpleegster in ’n lang gang af. Jy onthou hoe ’n tronkbewaarderin Amerikaanse flieks altyd“Dead man walking!” uitroep wanneer’n veroordeelde na sy teregstellingbegelei word. Die herinnering is onvanpas:Die idee is juis dat jou lewe aanjou teruggegee moet word.
Jy voel … bang? Desperaat? Eintlik voel jy niks, want jy vra nie dat ’n skokgolf deur jou brein gestuur wordtensy jy so depressief geword het dat dit “dood” in jou voel en jy feitlik nie meer in staat is tot emosies wat vir die meeste mense vanselfsprekend is nie.
Al wat oorgebly het, is die oorweldigende sekerheid dat jy nie meer wil leef nie;dat niks meer ’n verskil kan maak nie. In die teater word jy gevra om op ’n smal operasietafel te lê. Die psigiater wag reeds op jou. verpleegsters woel om jou om sensors en elektrodes aan jou slape en bolyf te koppel. ’n Narkotiseur druk ’n naald in jou pols …
Wanneer jy ná die narkose bykom, voel dit steeds asof depressie ’n terminale siekte is en dat dit tyd is vir jou om dood te gaan.
Nog elektriese skokke is al hoop dat jy anders sal begin voel: Miskien is dit te veel gevra om ná die eerste keer al resultate te kry. Vriende en selfs ’n sielkundige se waarskuwings dat elektrokonvulsiewe terapie (EKT) jou brein kan opfoeter, is steeds nie ’n faktor nie – jy het eenvoudig niks om te verloor nie.
Is dit die uitweg?
Wie van ons ken nie iemand wat aan depressie ly nie? Of is nie self met dié verlammende siekte gediagnoseer nie? Kliniese en bipolêre depressie (in teenstelling met “gewone” terneergedruktheid) het ’n epidemie in die meeste Westerse lande én in Suid-Afrika geword.
In haar boek Beveg depressie en leef voluit skryf die bekende skrywer Alta Cloete, wat self aan depressie ly, die skrikwekkende toename in depressie onder meer aan die verdwyning van die uitgebreide gesin, die verbrokkeling van hegte gemeenskappe, die geweldige fokus op materiële welvaart, die toenemende selfgerigtheid van die moderne mens, onrealistiese verwagtings en nimmereindigende mededinging toe.
Natuurlik kan dié siekte beveg en minstens onder beheer gebring word, maar wat as ’n gesonde lewenswyse en medikasie – of ’n kombinasie van verskillende soorte antidepressante – eenvoudig nie meer werk nie? Of as depressie só ver gevorder het dat ’n pasiënt kontak met die werklikheid begin verloor en selfs ophou eet? Wat as ’n drastiese uitweg nóú nodig is?
Dít is gewoonlik wanneer psigiaters EKT oorweeg, dikwels op versoek van ’n pasiënt self.
Maar wat is EKT? Hoe werk dit? Meer nog, wérk dit? Is dit gevaarlik? Hoe akkuraat is die indruk dat EKT ’n soort primitiewe martelmetode is, soos wat dit dikwels in rolprente soos One Flew Over the Cuckoo’s Nest en A Beautiful Mind uitgebeeld word?
Cardiazol, ’n chemiese middel, is vroeg in die vorige eeu gebruik om stuipe (’n “seizure”) in psigiatriese pasiënte te veroorsaak.
EKT is vir die eerste keer in 1938 in Italië gebruik en ’n jaar later na Engeland “uitgevoer” om Cardiazol te vervang. Verskeie psigiatriese toestande is daarmee behandel. Dit is soms gebruik om pasiënte se gedrag te beheer en aggressiewe pasiënte te kalmeer.
Tydens EKT (dit kan amper as ’n beheerde epileptiese aanval beskryf word) word ’n baie flou elektriese stroom deur
die brein gestuur om stuiptrekkings te verkry. Dit is aanvanklik toegedien terwyl die pasiënt by sy of haar volle bewussyn was, maar word lank reeds onder narkose toegepas. Pasiënte kry ’n sterk spierverslapper om “rukkings” te voorkom.
Die gebruik van EKT het afgeneem sedert antidepressante algemeen beskikbaar geword het. Deesdae word EKT veral
as terapie vir behandelingweerstandige endogene depressie gebruik. Of wanneer ’n pasiënt baie erg depressief is en dikwels ernstige selfmoordneigings het en daar nie tyd is om te wag tot medikasie begin werk nie. EKT word as korttermynbehandeling beskou en pasiënte moet ná die behandeling steeds medikasie gebruik.
EKT is steeds omstrede, al word dit veel meer “beskaafd” as in die vorige eeu toegepas. Die rede is dalk dat daar iets
geheimsinnigs daaraan is. Wetenskaplikes weet dat stuipe soos dié wat deur EKT veroorsaak word, daartoe lei dat serotonien en ander “goedvoel”-chemikalieë in die brein afgeskei word. Dit is egter onseker hóékom EKT so ’n reaksie veroorsaak.
Baie psigiaters beskou EKT steeds as die doeltreffendste behandelingsmetode vir depressie. Dit is veral doeltreffend wanneer pasiënte só depressief is dat hulle psigoties raak, of vir dié wat nie medikasie kan gebruik nie. Dit word ook gebruik vir skisofrenie en is baie suksesvol in die behandeling van manie. Pasiënte kry normaalweg ses sessies, gewoonlik drie keer per week en indien nodig nog ses sessies.
Die maksimum is 15 sessies. As die EKT suksesvol is, is opvolgsessies – een keer per maand – gewoonlik nodig. Dié behandeling is dikwels meer suksesvol met ouer pasiënte as met jonger depressielyers.
EKT beskadig nie die brein nie en newe-effekte is tydelik. Die algemeenste newe-effekte van EKT is effense hoofpyn en geheueverlies. Gewoonlik word net die korttermyngeheue aangetas en die geheue keer feitlik altyd gou weer terug. Die vermoë om nuwe inligting te onthou, word ook soms ’n ruk lank ondermyn.
Dié geheueverlies kan nogtans baie traumaties wees.
Isobel* is onlangs met ernstige depressie in ’n staatsinstelling opgeneem.
“Ek het tot dusver drie sessies gekry en voel nog nie beter nie, maar my geheue is amper dadelik aangetas. Ek was ontsteld omdat ek nie die psigiater te sien kry om die behandeling met haar te bespreek nie, tot sy my gesê het dat ek haar wel gereeld gesien het – ek kon dit net nie onthou nie.
Ek het ook, sonder om dit te besef, met elke besoek dieselfde vrae as die vorige keer aan haar gestel.
“Die ergste is dat my pa kort voor my opname oorlede is. Ná elke EKT-sessie het ek letterlik vergeet dat hy nie meer hier is nie. Dis baie traumaties om elke keer van voor af te hoor dat hy dood is.”
Al is die geheueverlies traumaties en al vind sy min troos daarin dat dit tydelik is, wil Isobel met die behandeling voortgaan in die hoop dat dit haar beter sal laat voel.
Vir baie depressielyers is die grootste gevaar van EKT – groter as enige neweeffekte – dat dit dalk nie sal werk nie.
’n Psigiater antwoord
Dr Piet Oosthuizen, bekende psigiater en skrywer van Ontsnap van depressie, reageer op ’n paar algemene vrae oor EKT.
EKT word dikwels as ’n laaste uitweg gesien, byvoorbeeld wanneer medikasie nie wil werk nie. Wat gebeur wanneer EKT óók nie vir so ’n pasiënt suksesvol is nie? Kan so ’n pasiënt voel dat “niks meer oorbly nie”?
In sommige gevalle is die siekte weerstandig teen enige soort behandeling. Dit beteken nie ’n mens moet tou opgooi as
EKT nie werk nie – in so ’n geval is dit nodig om opsies te oorweeg. ’n Mens moet net nie moed verloor nie. Ek glo as jy net aanhou probeer, sal jy by ’n antwoord uitkom.
Gebeur dit soms dat ’n pasiënt voel dat EKT, selfs al het dit verligting gebring, nie die moeite werd was nie omdat die newe-effekte (spesifiek geheueverlies) besonder traumaties was?
Ek het al pasiënte teëgekom wat gevoel het EKT was baie sleg vir hulle, maar dit is ’n klein minderheid en geld vir alle soorte behandeling. Wat vir een mens lewensreddend is, is vir ’n ander onaanvaarbaar sleg. Vir die oorgrootte meerderheid is die newe-effekte van EKT baie min en van verbygaande aard.
Gebeur dit soms dat ’n pasiënt voel dat EKT, selfs al het dit verligting gebring, nie die moeite werd was nie omdat die newe-effekte (spesifiek geheueverlies) besonder traumaties was?
Ek het al pasiënte teëgekom wat gevoel het EKT was baie sleg vir hulle, maar dit is ’n klein minderheid en geld vir alle soorte behandeling. Wat vir een mens lewensreddend is, is vir ’n ander onaanvaarbaar sleg. Vir die oorgrootte meerderheid is die newe-effekte van EKT baie min en van verbygaande aard.
* Skuilnaam
Sloer psigiaters nie soms te lank voordat hulle EKT aanbeveel nie? Hoekom wag tot ’n pasiënt self daarvoor vra – dikwels ná jare se vergeefse behandeling met antidepressante, waarin ’n pasiënt met die amper ondraaglike simptome van depressie én die newe-effekte van medikasie moet saamleef? Of totdat ’n pasiënt se depressie besonder akuut begin word het?
Dit is waar dat psigiaters oor die algemeen ’n konserwatiewe lot is vir wie EKT nie te hoog op die opsielys is nie. Die eenvoudige rede is stigma – daar’s nie regtig ’n wetenskaplike rede nie. ’n Ander groot rede is dat dokters al hoe meer vir “wanpraktyke” gedagvaar word. Ons bedryf dus toenemend defensiewe medisyne.
Daar is ’n lys indikasies vir wanneer EKT oorweeg moet word en ons hou gewoonlik streng daarby.