12 vrae aan die skrywer Rudie van Rensburg, wie se vyfde spanningsroman, Kamikaze, pas by Queillerie verskyn het:
Waar kom die naam vir die boek vandaan en van jou vorige titels soos Kopskoot en Pirana?
Kamikaze sinspeel op die uitgebreide betekenis van die woord, naamlik roekelose gedrag wat tot rampspoedige gevolge kan lei, wat perfek inpas by die moordenaar se optrede. Met Kopskoot se titel het ek letterlik deur die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls geblaai om ’n geskikte naam te kry en ’n TV-program oor piranhas het my op die titel van Pirana laat besluit.
Jy woon nou 30 jaar in die Kaap en Kassie se moorde speel in en om die Kaap af. Is dit belangrik vir jou om die omgewing waaroor jy skryf, persoonlik te ken?
Dit is belangrik om die omgewing waaroor jy skryf, te ken, want jy mag jou lesers nooit onderskat nie. Die omgewing wat jy beskryf, is ook aan baie van hulle bekend. Dit verg soms dat jy daar moet gaan rondry om van die fyner besonderhede (soos straatname en geboue) seker te maak en om die atmosfeer van die spesifieke plek self te ervaar. Wanneer ek oor ’n ander wêrelddeel waar ek nog nie was nie skryf, doen ek geweldig baie navorsing om dit geloofwaardig te hou.
Watter rituele het jy met jou skryfwerk?
Ek drink dalk ’n rapsie te veel koffie wanneer ek skryf. En ’n te stil omgewing laat my te veel aan die versmorende stiltes van eksamenlokale dink. My TV is gewoonlik aan en as daar byvoorbeeld ’n kriekettoets is, sal ek gereeld kyk wat die telling is. Ek begin elke oggend stiptelik om 07:00 en werk gewoonlik tot 15:00. Hoewel ek al teen 05:00 op is, lees ek eers my oggendkoerant (in papierformaat) van hoek tot kant voordat ek gaan stort, aantrek en gereed is vir my rekenaar.
LEES OOK: Tien vrae aan Karin Brynard en Deon Meyer
Hoe werk jou skryfproses – eers navorsing en dan skryf of is die twee ineengevleg?
Ek het ’n andersom skryfproses. Ek skep eers die omgewing vir die verskillende storielyne voor ek die karakters skep en dan kom die storie heel laaste. Ek het nooit voorheen geglo as skrywers sê die storie skryf homself nie tot ek self begin skryf het. Ek weet regtig teen die helfte van die boek nie waarheen die storie gaan nie, maar laat my deur die storie lei. Soms skryf ‘n mens jou in ’n hoek vas, maar ek wroeg nie vir dae of verloor slaap nie. Dis wanneer jy in ’n hoek vasgeskryf is, wat nuwe idees ontwikkel en jou op paadjies neem wat voorheen nie moontlik was nie.
Lees jy self graag spanningsverhale en wie is jou gunstelingouteurs?
Ek is mal oor lees en lees ook ongelooflik wyd. Ek is mal oor die spanningsgenre en lees graag ander Suid-Afrikaanse outeurs soos Deon Meyer, Chris Karsten en so meer en kon nie wag vir Etienne van Heerden se nuwe boek nie. Ek kry sommer lus om te skryf as ek ’n goeie boek lees – nie om soos daardie outeur te skryf nie, maar net om te skryf. My ander gunstelingskrywers is Etienne Leroux, Jeanne Goosen, Jo Nesbo, Stieg Larsson, Henning Mankell, Evan Hunter, Norman Mailer en John Updike.
Skryf en herskryf jy baie, of is jy baie doelgerig as jy voor die rekenaar inskuif?
Ja, ek is nogal doelgerig en werk soggens aan my boek en lees die vorige dag se werk weer deur en bring veranderinge aan. Met my eerste boek het ek baie herskryf, maar dit word gelukkig al minder.
Lees jy ooit weer jou boeke?
Nee, nadat ek dit tallose kere herlees het voor dit gedruk word, is ek so moeg vir die storie dat ek dit nie weer in die oë kan kyk nie. Teen daardie tyd het ek myself ook oortuig dat die storie eintlik swak is – seker maar die gevolg van die baie herlesery.
Het jy ’n lêer met karakter-idees waarin jy gaan delf as jy begin skryf?
As oud-koerantman is ek verknog aan gedrukte koerante en fisiese uitknipsels. Ek verslind elke dag die koerante en knip enigiets uit wat dalk later ’n idee kan wees. Ek het verskeie lêers waarin ek idees bêre.
LEES OOK: Helena Hugo
Wat is vir jou die belangrikste elemente in ’n spanningsroman?
Ek dink al die elemente wat maar in alle spanningsromans moet wees: skurke, goeie ouens, ’n interessante storielyn, kinkels, aksie, hope spanning en ’n lekker ontknoping. In my geval poog ek met elke boek om die storie ´n effe vinniger pas te gee. Lesers mag nooit verveeld raak nie en moet deurentyd geprikkel word om verder te lees.
Wie is jou gunstelingakteurs?
James Gandolfini, Dustin Hoffman, Jack Nicholson, Gene Hackman, Meryl Streep, Sandra Bullock.
Vir wie skree jy voor die kassie?
Die Cheetahs-rugbyspan en die Knights-krieketspan.
Wat is jou gunsteling-TV-programme?
The Sopranos, Breaking Bad, The Office, Kwêla, Homeland.