Johan Myburg skryf oor die werk van die skilder en beeldhouer Herman van Nazareth
Johan Myburg
In haar bekendstelling van die kunstenaar het Dirkie Offringa, kurator van die uitstalling, benadruk dat Van Nazareth ongetwyfeld ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar is, “een wat voortgekom het uit die grond van Afrika”.
Hierdie eiening van Van Nazareth is begryplik en die Woordfees-uitstalling lofwaardig, juis omdat dié man in skilder- en beeldhouwerk stilweg gesê het wat die Sestigers destyds in taal verwoord het. En ’n mens hoop dié uitstalling dra daartoe by dat Van Nazareth die wye erkenning kry wat hy verdien.
Van Nazareth, gebore as Herman van Aerde in Evergem in die ooste van Vlaandere, België, het in 1965, op 29-jarige ouderdom, na Suid-Afrika gekom, bykans onmiddellik ’n skildery, Bloedroem, hier geskilder en kort daarna kuns aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad begin studeer.
Bloedroem, soos later ook Bloedroem II, ’n skildery van ’n mansfiguur belaai met militêre eretekens, was ’n kragtoer wat op arrogansie en magsbeheptheid kommentaar gelewer het. Die insluiting van dié werk in die Vyfde Kaapse Salon in Augustus 1965 het wyd aandag getrek, nie net oor die trefkrag van die skildery nie, maar ook vanweë die kunstenaar se besonderse vernuf.
As Van Nazareth se werk kort ná sy aankoms aan die Kaap van verset teen magsmisbruik, eiegeregtigheid, wreedheid en onverdraagsaamheid gespreek het, is dié sentimente dalk eerder deur sy ervaring van die Tweede Wêreldoorlog as deur die rassebeleid in Suid-Afrika geïnspireer.
Nietemin het sy werk binne die Suid-Afrikaanse milieu van die tyd onmiddellik seggingskrag gekry as kritiek op apartheid – ’n aspek wat sy werk later “verloor” het, juis omdat sy werk so universeel is en nie gefokus was op proteskuns soos ’n mens dit in die 1980’s hier ervaar het nie. Sy werk is byvoorbeeld nie in boeke oor proteskuns of die viering van ’n demokratiese bestel opgeneem nie.
Maar teenoor heelparty vroeëre proteskunstenaars wat kommentaar en kritiek mettertyd prysgegee het, is magsmisbruik en vergrype aan mag steeds sentraal in Van Nazareth se werk. Soos hy in ’n vroeëre onderhoud opgemerk het: “Magsmisbruik is tydloos. Net soos ons nie weet hoe om met mag om te gaan nie, weet ons ook nie hoe om met vryheid om te gaan nie.”
In Van Nazareth se portrette – skilderye, beelde en maskers – is dit gesigloosheid wat seëvier. In sy landskappe in gevoelige kleure en kwasgebruik kom dieselfde gestroopheid tereg. In sy bronsbeelde en torso’s, dikwels sonder arms, skuil ’n vormgewing met ’n oer-kwaliteit. Met hul merkwaardige patina word dié figure tydlose getuies van die mens se mindere blyke van menslikheid.
In 1978 is Van Nazareth terug na België en het hy ook in Italië gaan werk. Intussen het hy telkemale teruggekeer en deesdae pendel hy tussen België en Jakkalsfontein aan die Kaapse Weskus.
Of Van Nazareth dan Suid-Afrikaner of Vlaming is, vervaag namate ’n mens let op die stempel wat hy in die kunswêreld afgedruk het; as kunstenaar van sy tyd wat hom met die mediums en simboliek tot sy beskikking teen magteloosheid en magswellus uitspreek; as kunstenaar wat deurentyd die mens in die oog het.
(hooffoto)
Figuur, ’n skildery in olieverf op bord van ’n figuur in ’n landskap deur Herman van Nazareth. Sy werke heet gewoonlik ‘Kop’ of ‘Landskap’ of ‘Figuur’.
Herman van Nazareth
Foto’s: JULIAN KRÜGER