Dié aanvangsversameling vir die Johannesburg Kunsmuseum sluit werk van die voorste 19de-eeuse Franse en Britse kunstenaars, asook dié van minder bekende Europese skilders in
Johan Myburg
Hoewel die Johannesburg Kunsmuseum in 1910 gestig is, is die gebou in Joubertpark vanjaar 100 jaar oud. Vir dié geleentheid word die museum se aanvangsversameling vir die eerste keer in dekades nou as ’n eenheid vertoon.
Toe dié versameling in die Whitechapel-kunsmuseum in Londen vertoon is voordat dit na Johannesburg gebring is, het kunskritici gekla: Moet ’n mens dan na die kolonies reis om goeie moderne kuns te sien?
Die versameling, in 1915 as meer avant-garde as enige openbare versameling in Brittanje gereken, is grootliks deur sir Hugh Lane, ’n Anglo-Ierse kunshandelaar byeengebring. Lane het sy ridderskap ontvang vir die kunsversameling wat hy vir Dublin (Ierland was ook destyds gereken as ’n kolonie) saamgestel het.
Tydens ‘n besoek aan Brittanje in 1909 het lady Florence Phillips, stukrag agter die kunsversameling en die -museum en vrou van die Johannesburgse mynmagnaat sir Lionel Phillips, vir Lane, toe die direkteur van die Dublinse stadsmuseum, ontmoet. Op die Phillips-landgoed, Tylney, het sy Lane ingelig oor haar planne om op die ‘n kuns-en-kultuursentrum van internasionale standaard Transvaalse Hoëveld te vestig.
Phillips se oogmerk was om ‘n versameling ou meesters aan te koop, maar om terselfdertyd belang in handwerk te stimuleer, sodat inwoners van die Goudstad “hul eie vernuf kon inspan en begin waardeer”.
Lane was maar te bewus van die feit dat die kunsmark van die ou meesters deur die Amerikaners oorheers is en dat werk van dié kunstenaars peperduur sou wees. Daarom het hy haar oorreed om eerder op die werk van eietydse kunstenaars te fokus.
Dié aanvangsversameling vir die Johannesburg Kunsmuseum is die grootste wat Lane byeengebring het en sluit werk van die voorste 19de-eeuse Franse en Britse kunstenaars, asook dié van minder bekende Europese skilders in. Onder die beroemdes in die versameling is Augustus John, Laura Knight, John Everett Millais, Claude Monet, Henry Moore, Camille Pissarro, Alfred Sisley en David Wilkie.
Hoewel Lane die werk van Franse kunstenaars ingesluit het, het hy duidelik gemeen die werk van Britse kunstenaars was die beste voorbeelde van moderne kuns. Dis nietemin jammer dat hy skilders soos Turner en Constable nie in dié versameling ingesluit het nie.
Stukke in die aanvangsversameling kom uit die persoonlike versamelings van Randlords soos Otto Beit, Julius Wernher, Abe Bailey en Sigismund Neumann – gepor deur lady Phillips om kunswerke vir die versameling te skenk.
Teen die einde van 1915 is die Johannesburg Kunsmuseum geopen. Dit was ’n paar maande nadat Lane aan boord van die RMS Lusitania dood is toe dié vaartuig naby die kus van Cork deur ’n Duitse torpedo getref is.
Die kunsmuseum, ontwerp deur sir Edwin Lutyens, was in daardie stadium nog nie klaar nie. Daar was nie geld om aan al Lutyens se planne uitvoer te gee nie.
Die gebou is sonder ’n plegtigheid en sonder lady Phillips geopen. Sy was so ontstoke oor die stadsraad se traak-my-nie-agtige houding jeens die museum dat sy geweier het om die opening by te woon.
Die uitstalling is tot 28 Februarie te sien. ’n Faksimilee van die oorspronklike geïllustreerde 1910-katalogus is by die museum beskikbaar.
(hooffoto)
Die Johannesburg Kunsmuseum vertoon tans die skatte waarmee sy permanente versameling begin is.
Foto: DAVID CERUTI