Een van die duidelikste beelde wat ek uit my kinderjare van my pa oproep, is die stories wat hy saans uitgedink het en slapenstyd aan my en my drie broers vertel het.
Een van die duidelikste beelde wat ek uit my kinderjare van my pa oproep, is die stories wat hy saans uitgedink het en slapenstyd aan my en my drie broers vertel het. Die avonture van Rooikopbus wat die wêreld vol gery het, en kon praat, sal my altyd bybly.
Hy is ’n siviele ingenieur, wat in paaie spesialiseer en dit is dus nie verbasend dat ek tot op ’n laat ouderdom gedink het alle pa’s stop langs die pad om padoppervlakke te inspekteer as die gesin op vakansie gaan nie. In my wêreld het pa’s paaie en lughawens ontwerp. Ek dink ek kon “bitumen” spel, voor ek die woorde in my graadeenleesboek kon ontsyfer, ’n waterpas gebruik voor ek vyf was en het geweet hoe om sement aan te maak, voor ek geweet het waar babas vandaan kom.
Dié week gee ons spesiaal erkenning aan die rol wat pa’s in die lewe van hul kinders speel. Grethe Fox is een van die bekendes wat herinneringe van haar pa in Maretha Botes se artikel op bladsy 18 met ons deel. Sy vertel dat hy ’n impak op elke deel van haar lewe gehad het. Corlia Fourie, onthou onder meer hoe haar pa, Mikro, geblom het as een van sy vriende of kennisse gesê het hy het oulike dogters.
ons op die een of ander manier beïnvloed nie
Een van die belangrikste dinge wat ek by my pa geleer het, is dat voor jy enigiets doen, jy moet dink wat die invloed daarvan op die wêreld sal wees as alle mense jou voorbeeld sou volg. Tot vandag toe onthou ek hoe hy die boodskap geïllustreer het deur te verwys na mense wat rommel by motorvensters uitgooi. In my verbeelding het ek die hope rommel sien rondlê en sy boodskap glashelder verstaan. Dis ook by hom wat ek geleer het wat momentum en ’n behoorlike volgafstand tussen motors is (iets wat ek wens meer pa’s wil doen). Die grootste invloed wat hy egter tot nou toe op my lewe het, is sy openlike bewondering vir my. Dit het my laat glo dat ek tot enigiets in staat is en my geleer om van myself te hou.
Ons kan nie ontken dat ons ouers se doen en late ons op die een of ander manier beïnvloed nie. So ’n paar Sondae gelede kuier ons saam met ’n baie goeie vriend oor middagete en een van die gesprekke gaan toe juis daaroor en die vriend raak ’n wysheid kwyt, wat ek dink ons almal ter harte kan neem. In ons almal se kinderjare is daar voorvalle wat ons voel ons ouers anders kon hanteer het, maar niemand van ons kan tyd terugdraai nie. Ouers maak soms foute en doen dinge wat hulle op ’n gegewe tydstip dink die regte ding is om te doen. Jy kan bly worstel met dinge uit jou kleintyd wat pla, of jy kan van onnodige bagasie ontslae raak, deur eenvoudig te vra: Het ek ten spyte van wat my ouers gedoen het, gevoel hulle is lief vir my? As jou antwoord “ja” is, moet jy, volgens my vriend, ophou wroeg en sonder onnodige bagasie wat jou reis bemoeilik, aanbeweeg.
Tot volgende week.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.