Jy was op ’n tyd die coolste, wonderlikste mens in jou kind se lewe, maar nou het jy ‘n tiener en skielik is jy nie meer so cool of wonderlik nie.
Hier is 10 wenke vir ouers
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Monja* van Bloemfontein is die ma van twee tienermeisies, onderskeidelik 17 en 14.
“Die een dag het ons nog hierdie oulike dogtertjies gehad wat alles met ons gedeel het en die volgende dag was daar beneukte weses in hul plek wat my kleredrag en die reëls in ons huis gekritiseer het.
“Ek is mal oor my meisiekinders, maar ek moet bieg dis nie aldag maklik nie. Die oorgang na tienerwees was regtig erg vir my en dit het ‘n rukkie gevat om aan die nuwe situasie gewoond te raak. Nou het jy hierdie tieners wat aan hul selfone vasgegom is en wat verkies om op hul eie te eet. Ons moes nuwe grense instel en aan ‘n nuwe normaal gewoond raak. My man sukkel veral met die seuns wat nou pal hier kuier. Ons probeer veral werk aan nuwe gesinsrituele, want wat eens hulle lekker was, is nou nie meer lekker nie.”
Alet* van Kaapstad is die ma van ‘n 15-jarige meisiekind en ‘n agtjarige seunskind.
“Dit voel vir my soms asof ‘n alien my meisiekind se lyf oorgevat het. Dis asof sy in ‘n paar jaar in ‘n ander mens verander het en ek moet myself daaraan herinner dat sy steeds my dogtertjie is. Ons het gelukkig steeds ‘n hegte band en sy gesels met my oor ouens en dinge wat by die skool aangaan. Ons stry wel dikwels –meestal oor haar obsessie oor TikTok en Instagram en haar deurmekaar kamer. Sy is ook nie naastenby so getrou met haar skoolwerk soos wat sy op ‘n tyd was nie, maar ons vorder. Ek preek, spook en spartel maar aan.”
Hier is wenke vir ouers van tieners:
LEES OOK: Trek jou tiener in
1. Konflik is normaal
Tieners probeer onafhanklik wees. Wees bereid om na jou kinders te luister en die wêreld deur hul oë te sien. Wees bereid om ‘n kompromie te bereik en moenie van elke klein geskilletjie ‘n berg maak nie. As jy kwaad raak, probeer om eers af te koel voor jy die gesprek hervat.
2. Gee duidelike riglyne
Verduidelik aan jou kinders wat aanvaarbare gedrag is en nie en wat jy van hulle verwag. Verduidelik waarom sekere reëls nodig is.
3. Respekteer jou kinders se siening
Jy en jou kinders gaan nie oor alle saamstem nie, maar as jy hul sienings respekteer sal hulle meer geneig wees om ook joune te respekteer.
4. Stel belang
Laat jou kinders weet dat jy belangstel in wat by die skool en in hul sosiale kring aangaan. Vra uit en gee jou ondersteuning met skoolwerk. Hou ‘n wakende oog oor vriende, verhoudings en die druk waaronder jou kinders is. Vra uit oor wat in hul lewe aan die gang is.
5. Bestee tyd saam met mekaar
Ja, tieners hou daarvan om hul eie rigting met hul vriende in te slaan, maar dit bly belangrik om tyd saam deur te bring. Doen prettige dinge saam en probeer om elke dag te gesels.
LEES OOK: Tipies tiener
6. Gun tieners ruimte
Almal van ons het nou en dan eietyd nodig. Respekteer jou kinders se privaatheid en onthou hoe dit was om self ‘n tiener te wees.
7. Moedig hulle aan
As jou tiener aan iets deelneem, prys die poging. Probeer ook hul belangstelling in aktiwiteite prikkel sodat hulle ‘n gebalanseerde lewe kan handhaaf. Verseker jou kinders van jou liefde al hoor jy dit nie terug nie.
8. Deel jou ervarings
Vertel vir jou kinders van jou eie ervarings en ook die foute wat jy gemaak het. Help jou tieners besef dat aksies ‘n gevolg het en dat jy nie alle foute net kan regmaak nie.
9. Kyk ook na jouself
Ouerskap is g’n grap nie. Versorg jouself en maak tyd vir jou eie belangstellings. Jy is ook op ‘n lewe geregtig, nie net jou kinders nie.
10. Leer hulle wat verantwoordelikheid is
Tieners moet steeds sekere ouderdomstoepaslike take verrig en moet weet dat hul kamer hul verantwoordelikheid is. Leer kinders dat voorregte met verantwoordelikheid gepaardgaan. As jou tiener jou grense verontagsaam, is dit dalk nodig dat van die voorregte weggeneem moet word.
BRON: www.parentingacrossscotland.org