Die belangrikheid van gesinsetes word oraloor gepredik, maar het jy geweet die wetenskap stem saam dat dit noodsaaklik is?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ek gaan eerlik wees. Dit werk net nie altyd so in ons huis dat ons almal saam as gesin eet nie. Soms eet ek en my man sommer staan-staan in die kombuis terwyl die kinders al lankal geëet het.
Maar dit gaan verander nadat ek Anne Fishel, skrywer van Home for Dinner en ‘n professor aan die Harvard Mediese Skool in Amerika, se insigte op die webwerf www.theconversation.com gelees het.
Anne sê verskeie studies het al bevind dat as gesinne saam eet, dit besonder goed vir die brein, liggaam en gees is.
LEES OOK: Eet jouself in ʼn beter bui in
Breinkos
Navorsers het gevind dat gesprekke tydens etenstyd meer vir kinders se woordeskat beteken as wat dit doen om vir hulle ‘n boek te lees. Daar is ook al bevind dat skoolgaande kinders beter presteer as hulle saam met hul gesin eet as kinders wat dit nie doen nie. Daar is ‘n besliste verband tussen gesinsetes en akademiese vertoning – ook onder tieners. Tieners wat vyf tot sewe keer per week saam met hul gesinne eet, is twee keer meer geneig om A-simbole op skool te kry.
Liggaamsbrandstof
Kinders wat gereeld saam met die gesin eet, neem meer vrugte, groente, vitamiene en mikrovoedingstowwe in. Jong volwassenes wat ook as tieners gereeld gesinsetes geniet het, was ook minder geneig om oorgewig te wees en meer geneig om gesond te eet as hulle eers op hul eie is. Studies het ook ‘n verband gevind tussen gereelde gesinsetes en die vermindering van simptome in mediese toestande. Die atmosfeer tydens etes is egter ook belangrik. Ouers moet warm en betrokke wees, eerder as beherend om gesonde eetgewoontes by hul kinders aan te wakker. Die TV moet egter af wees, maan Anne. In een studie, is daar gevind dat kinders wat TV gekyk het terwyl hulle geëet het, was meer geneig om later oorgewig te wees.
LEES OOK: Het jy ‘n gesonde verhouding met kos?
Sielskos
Verskeie studies het ook al gewys dat gesinsetes goed vir kinders se gedrag is. Hoë-risiko-gedrag onder tieners soos rook, drink, dwelmmisbruik, skoolprobleme, eetprobleme en geweld neem af by kinders wat gereelde gesinsetes geniet. ‘n Studie in Nieu-Seeland het gevind dat gesinsetes tot ‘n positiewe houding by tieners bydra. Kinders wat saam met hul ouers eet, ervaar minder stres en het ‘n beter verhouding met hulle.
Volgens Anne lê die ware krag van gesinsetes in die interpersoonlike gehalte daarvan. Gesinsetes sal nie ‘n positiewe voordeel hê as ouers tydens ete met hul kinders raas of as die ete in doodse stilte geskied nie. As etenstyd egter ‘n tyd is waar julle kan gesels, ‘n grappie of ‘n storie deel, is dit ‘n positiewe ervaring vir almal.
BRON: www.theconversation.com