Het jou ouers jou ook vertel van die dae toe hulle 25 kilometer skool toe geloop het – kaalvoet, honger en yskoud? As ek dit gehoor het, was ek maar bly vir my bobby socks en blink skoolskoentjies en het ek ophou kla oor die feit dat ek nie kon onderskei of dit vis of hoender op my bord was nie. Ek hoef immers nie oor die Namakwalandse vlaktes spoorgesny het skool toe nie!
Zerelda Esterhuizen
Ek dink dit gebeur nogal teen ’n sekere ouderdom met jou: Daardie teruggryp na die verlede. Daardie onthou wat in jou kom lê. Die wêreld is nie meer dieselfde plek as die een waarin ek en ander hedendaagse ma’s skoolgegaan het nie. In daardie wêreld het ons nog gratis klei gespeel en Juffrou het ons sonder probleme leer spel en somme maak. Vandag kort kinders ekstra lees-, spel- en wiskundeklasse en jy betaal ekstra vir “pottebakkery”.
Vanmelewe se dae was daar net netbal en rugby en ouers het hul kinders doodnormaal langs die veld aangemoedig. Vandag is daar etlike aktiwiteite vir jou kind om uit te kies en ouers is nie juis wat ’n mens besadig sal noem langs die veld nie. Nee, hulle skree op die arme skeidsregter en klim sommer onder Sussie of Boetie in: “Waar is jou oë, Shenique-Bella-Lialé! Daar kom die verdomde bal” of “Juffrou, die bal was in die sirkel. Hemel tog, hoe kyk jy?”
Dalk lyk als makliker as jy retrospektief daarna kyk. Dalk het ons ouers dieselfde probleme of uitdagings as ons gehad. Ek weet wel my ma het nooit gehoor dat ek ’n neurologiese versteuring het omdat ek nie kon touspring nie – iets wat ek nog nooit kon baasraak nie! My oudste was seker so vier jaar oud toe ons ’n ontstellende ouervergadering by haar kleuterskool moes bywoon. Ons dog ons kry ’n rapport met woorde soos: “Sy kleur oulik in en weet wie’s Hompie Kedompie”, maar toe moes ons hoor daar’s ernstige skolastiese probleme. Sy weier om tou te spring en hoepel te swaai en ons hoor woorde soos “neurologiese versteurings” en word yskoud. Ek wou sê ek kon in my lewe nog nooit touspring of “hoelahoep” nie en ek lees van vier of vyf af, maar ek was stom. Enige ouer wil tog hê hul kind moet goed doen. Ons is toe op Juffrou se aanbeveling na al wat kenner is. So om en by R4 000 later het ’n kliniese sielkundige ons vertel daar is niks fout met ons kind se “kognitiewe vaardighede” nie.
Sou dit in my kindertyd gebeur het? My ma sou dit seker net afgelag het en my in ’n ander skool gesit het. Ons het dit wel later gedoen en vandag is sy dolgelukkig by ’n wonderlike skool met ’n plattelandse gevoel.
Dis asof ’n mens vandag toenemend hoor van allerlei stoornisse en etikette. Was dit nog altyd daar of is ons moderne samelewing ’n bydraende faktor? Kinders moet tog net nie sensories oorgestimuleer word nie en jy moet seker maak jy weet presies hoe om hul fyn en groot motoriese ontwikkeling te ontwikkel. Natuurlik is hierdie vaardighede belangrik. Ons ma’s het dalk nie die begrippe geken nie, maar tog is dit by ons deur gewone spel ontwikkel. Net om buite te speel en met ’n skêr te knip en te verf. Dit is wel ‘n pluspunt dat daar vandag regtig hulp vir jou kind is – maak nie saak met wat hy of sy sukkel nie. Toentertyd is dié kwessies dalk net as niks afgemaak …
Nog iets waarmee ons ma’s nie te doen gehad het nie, is die alsiende Facebook. Daar sien jy nou die regte “Ma’s van die Jaar”. Facebook is ’n wonderlike manier om in kontak te bly, maar dit maak jou ook daarvan bewus dat jy te kort skiet. Ernstig te kort skiet.
Facebook wys jou daar’s ouers wat gereeld met hul kinders wonderbaarlike aktiwiteite doen en dit wys jou kinders se partytjies kan inderdaad duisende rande kos. Hul prinses of prinsie se party packs is deur ‘n partytjie-organiseerder gemaak terwyl jou kind s’n ‘n bruin kardoessakkie is met ‘n prentjie wat jy van die internet afgetrek het. Jou foto’s word almal op dieselfde plek geneem terwyl hul gesinsfoto’s of met die klotsende see as agtergrond of iewers in prentjiemooi Europa geneem is. Dit lyk kompleet of ‘n bekame stilis hulle onder hande geneem het.
Dis dan maklik om te voel asof jou kinders aan die kortste ent trek en jou vaardighede as ouer beduidend minder is. Wanneer laas het ek immers saam met die kinders geverf terwyl ander ma’s op Facebook allerlei Pinterest- geïnspireerde kunswerke optower? Ek dink ek’s vreeslik kreatief in die kombuis as ek gaatjie-in-die-eier vir die kinders maak en dan sien ek weer op Facebook hoe ’n ma vir haar kinders ’n wafelgesiggie met bloubessies, gojibessies, aarbeie en Belgiese sjokolade optower. Haar kinders weet wat’s okra en Hoisinsous en myne ken wortels en tamatiesous.
Ja, ’n mens voel skuldig omdat dit altyd voel asof jy meer en beter kan doen, maar tog is “goed genoeg” dalk net genoeg. Dalk is ons oukei as ons net plein, doodgewone ma’s is wat hul kinders heelhuids wil grootkry. Nie almal van ons kan als wat fantasties is doen nie – dis goed as jy kan, maar sommige van ons kort krag net om in die oggend op te staan … Elke nou en dan ervaar Ma van die Jaar ook daai temerige skuldgevoelstemmetjie, want ek wil meer en beter doen, maar dan besef ek weer ek doen eintlik oukei.
Dit besef ’n mens nogal as ’n sagte wangetjie teen joune gedruk word, ’n loom band-bandjie in jou gunstelingkleure om jou arm gesit word en ’n klein stemmetjie vir jou fluister: “Ek is lief vir jou.” Al word jou kinders nou nie optimaal ontwikkel, sensories gestimuleer en neem aan minstens tien buitekurrikulêre aktiwiteite deel nie, al kry hulle noedels en worsbroodjies om te eet en al word hul foto’s altyd teen dieselfde vervelige boom en kragdraad afgeneem.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.