Vind jy dit moeilik om geld te spaar? Volg ons vyf spaarwenke hier – kyk in die tydskrif vir nóg 20 wenke
Shanda Luyt
1 Vergelyk pryse
Hoewel advertensieblaaie jou soms onnodig in die versoeking lei, kan dit wel nuttig wees om pryse van verskillende winkels te vergelyk. Moenie by die eerste beste plek koop nie, maar doen moeite om te kyk waar jy dit die goedkoopste kan kry of afslag kan beding.
2 Stel kortterymyndoelwitte
Langtermyndoelwitte kan soms onbereikbaar ver en moeilik voel as dit by jou spaargeld kom. Stel dus liewer vir jou maandelikse doelwitte, byvoorbeeld “ek wil elk maand R500 spaar”. As jy ’n jaar lank dit reggekry het, vier jou sukses!
3 Spaar met verskillende doelwitte
As ’n mens net heeltyd vir ’n langtermyndoelwit spaar soos aftrede, kan jy later moed verloor. Aan die ander kant, as jy net spaar vir vakansies of luukshede, is dit nie regtig spaar nie. Kry ’n balans tussen jou langtermynspaardoelwitte, soos ’n kommervrye aftrede, en korttermynspaardoelwitte soos jou jaarlikse vakansie of jul Kersgeskenke en bêre die gelde hiervoor in aparte rekeninge, maar waak daarteen om vir te veel verskillende goed op een slag te spaar.
4 Gee jouself visuele aanmoediging
Plak ’n foto van die motor waarvoor jy spaar of jou ideale aftreehuis op ’n plek waar jy dit gereeld kan sien. Hierdie visuele herinnering sal dit makliker maak om by jou spaardoelwitte te hou en vir onnodige uitgawes en luukses nee te sê.
5 Moenie moed opgee nie
As jy alleen voel in jou stryd om te spaar, gaan lees op die internet hoe ander mense te werk gaan om hul rande te rek. Die geheim is om vas te byt en getrou elke maand ’n ietsie eenkant te sit, maak nie saak hoe klein nie. Uiteindelik sal jy wel die vrugte van hierdie opofferings pluk!