Willie Burger vertel vandeesweek van drie boeke wat jy gerus op jou boekrak kan hê en wat jy weer en weer sal lees
DIE LEWE EN WERKE VAN KABOUTERS en DIE OPROEP VAN DIE KABOUTERS
Wil Huygen en Rien Poortvliet, Protea
"Hoe gloot is ’n kaboutel?" My seuntjie het die vraagsin onder die knie gehad voordat hy die "r" kon uitkry. En toe hou die stroom vrae nie op nie: "Wattel taal plaat kaboutels?" "Waal woon kaboutels?"
Ongelukkig is sy pa nie verbeeldingryk genoeg om blitsvinnig antwoorde te bedink nie. Die teleurstelling en ongeloof op sy gesig as ek nie vinnig genoeg oortuigende antwoorde kan verskaf nie, het aan my selfbeeld as pa gevat. Maar tydens ’n besoek aan België sien ek die ongelooflikste boek oor kabouters by ’n vriend se huis: ’n soort ensiklopedie oor kabouters. Mat al die antwoorde en nog baie meer inligting – aangebied soos ’n wafferse antropologiehandboek: Die geskiedenis van kabouters (hulle kom waarskynlik uit die Skandinawiese lande en duik so teen 395 nC in Nederland op!); hul voorkoms (’n Boskabouter is 15 cm lank, ’n volwasse kabouterman weeg 300 g en ’n volwasse kaboutervrou 250-275 g); hul kleredrag, hul gewoontes en gereedskap … Alles word breedvoerig beskryf en deur die ongelooflikste illustrasies aangevul. Hierdie boek, het ek dadelik besef, moet ek eenvoudig huis toe neem! Vir my klein kêreltjies, maar ook vir my en my vrou!
Die probleem was dat ek die boek in geen boekwinkel kon kry nie. Al die boekwinkelassistente weet dadelik van Will Huygen en Rien Poortvliet se boeke oor kabouters en spreek hulle bewondering uit as jy navraag doen, maar haal dan hul skouers op: "Die boeke is uit druk". (Al is die twee boeke nou al 60 keer in Nederlands herdruk!)
Uiteindelik in Oostende, in ’n muwwe tweedehandse boekwinkel, kry ek al twee die boeke. Die eienaar van die winkel sien die glans in my oë toe ek met hande wat bewe van opwinding die boeke vir hom aangee en hy maak die prys hopeloos te hoog. Vir my is hulle teen enige prys egter ’n winskoop. Aande lank het ek die Nederlands stamelend verafrikaans en vir my seuntjies daaruit voorgelees. Hulle kon ure lank staar na die hoogs tegniese illustrasies van hoe die kabouters huise bou.
My seuns is nou al heeltemal te groot om nog in kabouters te glo. Maar vandat hierdie boeke pas in Afrikaans vertaal is, kan hulle self weer alles lees. Steeds boei die vertellings oor die kabouters se stryd teen trolle en ’n moeisame reis deur Siberië hulle. Hierdie twee boeke is ’n moet vir enige huis met kinders (en vir huise sonder kinders). Hoe anders gaan jy weet dat ’n kabouter op 275 jaar in die fleur van sy lewe is? Want kabouters, so word ons in die voorwoord meegedeel, weet presies hoe om ongesiens hul gang te gaan, sodat die meeste mense nie eers meer in hul bestaan glo nie.
Gelukkig het Poortvliet en Huygen ’n kabouter met die naam Tomte Haroldson bevriend en hy het hulle gehelp om wat andersins maar net ’n oppervlakkige studie oor kabouters sou wees, in ’n deeglike studie te omskep en ’n kans gekry om die kabouters se lewensbeskouing te verduidelik. Saam met Tomte besef ’n mens dat versoening tussen mens en kabouter onmoontlik is omdat ons "vooruitgang" heeltemal verskillend verstaan, omdat mense die wêreld oorbevolk en die balans in die natuur versteur. Gelukkig is al die inligting oor en die noodsaaklike oproep van die kabouters nou ook in Afrikaans beskikbaar.
Internasionale literatuur AUSTERLITZ WG Sebald, Penguin London
Die Duitse skrywer WG Sebald het vir die grootste deel van sy lewe (wat ontydig op ouderdom 57 in ’n motorongeluk geëindig het) in Engeland gebly. Miskien het dit daarmee te doen dat sy werk byna dadelik in Engels vertaal is en baie wye aanhang in die Engelsprekende wêreld geniet.
Die invloed van sy werk op talle ander skrywers (onder andere Marlene van Niekerk) is opvallend.
Min skrywers kan ’n stemming skep soos Sebald dit doen. Herinnering is een van die sentrale temas in sy werk. In Austerlitz word die rol van herinnering in die manier waarop ons onsself ken, meesterlik ondersoek. In ’n ontroerende vertelling (waarin feit en fiksie onontwarbaar raak) oor die hoofkarakter wat as jong Duitse kind ná die Tweede Wêreldoorlog na Engeland gebring is en daar by ’n kinderlose pastoriepaar grootword, word die dwang wat ’n mens ervaar om te onthou, terwyl ’n mens ook dikwels op ambivalente manier juis nie wil onthou nie, ondersoek. Die effek wat hierdie worsteling met herinneringe op identiteit het, is fassinerend en laat ’n mens nadink oor jou eie verlede en oor die manier waarop ’n mens jou persoonlike (maar ook die kollektiewe) verlede onthou.