Hoe gemaak as jou droomman trouplanne het nog voor jy kans gehad het om jou vlerke te sprei en die wêreld te verken?
Shanda Luyt
Jy is lief vir hom – daaroor twyfel jy nie. Jy wil graag met hom trou. Dis net … jou jongmenslewe het pas begin en voor jou wink die lewe met al sy uitdagings en ’n wêreld om te ontdek en verken. Moet jy regtig tussen die liefde van jou lewe en jou drome kies?
Jonk getroud: soms werk dit, soms nie
Vir Corné Gerber van Humansdorp was dit geen keuse nie. Sy is op 20 direk vanuit haar ouerhuis in die getroude lewe in. Haar man, Morné, was net 21. Hulle is 19 jaar later steeds gelukkig getroud en sy was nog nie ’n oomblik spyt nie. “Ek was so verlief, ek het nie eers gedink aan goed soos om die wêreld te verken nie!” skerts sy.
Corné vertel sy het destyds sekerheid in haar hart gehad en nie ’n oomblik getwyfel nie. Sy het ook nog nooit sedertdien gevoel sy het iets gemis nie. “Dit help dalk dat ons alles saam doen. Hy is my beste maat.”
Sy sou wel jong paartjies vandag aanmoedig om eers klaar te studeer voor hulle trou. “Dinge is deesdae anders. Ons het studeer terwyl ons getroud was, maar om te studeer terwyl jy ’n huishouding hanteer, is moeilik.”
Lindie de Waal* is op 19-jarige ouderdom met ’n man drie jaar ouer as sy getroud. Ook sy vertel sy was aanvanklik so verlief dat sy nie twee keer gedink het oor alles wat sy moontlik kan mis as sy so jonk trou nie. “Hy was my eerste liefde en ons het saam beplan hoe ons gaan trou.”
Lindie sê sy is nie 100% oortuig dat haar jeug die rede vir hul egskeiding enkele jare later was nie.
“Ek dink hy was bloot die verkeerde persoon. Omdat ek so jonk was, was my oordeel seker nie so goed soos dit moes wees nie, want ’n mens kom eers met lewensondervinding agter wat jy uit ’n verhouding wil hê. Ek was jonk en dom en verlief en het nie verder gedink nie. Die dag voor ons getrou het, het ek geweet ek wil dit nie meer doen nie, maar alles was klaar gereël. As ek ouer was, sou ek die selfvertroue gehad het om voet dwars te sit, maar op daardie ouderdom het ek nie eers die selfvertroue gehad om dit met iemand te bespreek nie.”
Sy het gou vasgedruk gevoel, vertel Lindie. “My maats het almal toe studeer en dan praat hulle van uitgaan en partytjie hou. Omdat hy ouer as ek was, het hy al daardie goed klaar gedoen en wou hy dit nie saam met my doen nie.
“Ek het gevoel ek het ’n deel van my jongmenslewe gemis. Dit was vreeslik. Ek het ná twee en ’n half jaar uitgetrek.”
As jy móét kies
As jy met só ’n keuse gekonfronteer word, moet jy mooi oor jou basiese lewensfilosofie oor trou en lewensmaats nadink, sê Johan Ferreira, sielkundige van Johannesburg. “Glo jy daar is net een regte maat vir jou of is daar ‘regte maats’ tydens verskillende seisoene van die lewe?
“Wanneer jy op 18 die ‘regte’ persoon ontmoet, is dit dalk die regte een vir daardie tyd in jou lewe. Deel hy jou drome, of is sy verwagtings heeltemal anders as joune? As sy drome baie van joune verskil, is hy dalk nie so perfek vir jou nie.”
Johan glo nie dis altyd nodig om ’n keuse te maak tussen ’n moontlike lewensmaat en om ‘die lewe eers ’n bietjie te geniet’ nie. “Ek dink as julle dieselfde oor verhoudings dink, kan julle albei jul brood aan albei kante gebotter hê!
“Dit gaan ook afhang van hoe jy die lewe sien. As jy voel daar kan ’n paar ‘regte lewensmaats’ vir jou wees, sal jy minder obsessief oor die huidige maat wees en dalk makliker ooreenkom dat julle die verbintenis stadiger sal laat ontwikkel, omdat julle nog so jonk is.
“Vind uit of jou maat nie dalk jou drome saam met jou wil uitleef terwyl julle in ’n minder ernstige verbintenis is nie en só saam die opwinding van volwassewording kan beleef nie. Besluit dalk om wel ‘saam’ te wees, maar mekaar steeds toe te laat om byvoorbeeld nog te gaan reis en te studeer.”
Ouer en wyser?
Tradisioneel maak ouer mense beter keuses omdat hulle hopelik emosioneel meer volwasse is, sê Johan.
“Die kanse is dus statisties beter om ’n meer ingeligte besluit oor ’n verhouding te neem as ’n mens ouer is, hoewel sommige die keuse baie vroeg maak en dit wonderlik werk. Daar is egter ’n hoë persentasie (50% in SA) van huwelike wat dit nie maak nie. As ons dus veranderlikes oorweeg, is ouderdom beslis een wat met tyd beter word.”
Volgens ’n verslag in Amerika skei sowat 48% van mense wat trou as hulle jonger as 18 is en sowat 40% van mense wat trou as hulle 18 of 19 jaar oud is. Vanaf 20 jaar verbeter die situasie dramaties met slegs 29% wat uiteindelik skei.
Sielkundige Jeffrey Jensen Arnett skryf in Emerging adulthood dat baie jongmense liewer later trou omdat hulle bang is ’n huwelik sal hulle keer om hul eie identiteit te ontdek, of dit nou is om voor die verantwoordelikhede van die volwasse lewe pret te hê of net om lewenservaring op te doen.
Iets wat jong huwelike moeiliker maak, is dat ’n mens aan die begin van jou werkslewe staan. Dis makliker om jou loopbaan te bou en gereeld laat te werk as jy eenlopend is, terwyl dit as getroude konflik kan veroorsaak. Of as jy vir bevordering moet verhuis, waar dit andersins met jou lewensmaat se loopbaanplan kan inmeng. Iemand wat reeds sy stempel in die werksplek afgedruk het, sal dalk meer gewillig wees om opofferings te maak as iemand wat nog met sterre in die oë ’n loopbaan begin.
Mense wat direk uit hul ouerhuis in die huwelik getree het, voel ook soms dat hulle ’n belangrike stap gemis het. Hulle het nooit die geleentheid gehad om op hul eie bene te staan en die gepaardgaande vaardighede baas te raak nie.
Om jou loslitdae en jongmeisiedrome te vinnig vir ’n ring aan die vinger te verruil, het langtermyngevolge, maan Johan.
“In die meeste gevalle kom hierdie verlies aan drome eers veel later in ’n mens se lewe ter sprake – gewoonlik hier in jou laat dertiger- of vroeë veertigerjare, waar jy dan moontlik ’n middeljarekrisis kan beleef. Wat ook kan gebeur, is dat jy jou drome deur jou kinders probeer uitleef.
“Die situasie is baie positiewer vir diesulkes wat eerder ’n bietjie langer wag en self hul identiteit deur ervaring vind.”
Dit beteken glad nie dat mense wat jonk hul lewensmaats vind en trou nie uiters gelukkig en vervuld kan leef nie, benadruk Johan. “Hul uitdaging is om op die duur saam te groei en nie weg van mekaar te ontwikkel omdat hulle mekaar so lank ken nie.”
Om vroeg te trou bring unieke vreugdes. In plaas van om alleen die lewe en wêreld te verken, kan jy dit nou met iemand deel en uitdagings word met die ondersteuning van ’n maat aangepak.
Hoe besluit jy?
Al voel jy hoe verlief, vra jouself die volgende vrae af, sê Johan.
1 Wat is jou verwagtinge en behoeftes?
Weet jy regtig al wat jy van jou lewe wil hê en pas hierdie persoon daarby in? ’n Verhouding is beslis deels opoffering, maar voor hierdie verbintenis gemaak word, kan ’n evaluasie van jou eie behoeftes baie help om te bepaal hoeveel jy sal moet prysgee vir die verhouding om te werk.
2 Kom die opoffering van albei kante af?
Kyk mooi of die ander persoon darem ook wil doen en ervaar wat vir jou belangrik is.
3 Hoekom is jy in die verhouding?
Wat is jou motivering om in die verhouding te wil wees? Hardloop jy na ’n verbintenis toe of hardloop jy van een of ander iets af weg? Dink twee keer oor die verhouding as jy aan die weghardloop is. Nog verkeerde redes om nou te trou, sluit in: Jy is bang om alleen te wees, jy voel die toekoms sal makliker met ’n maat aan jou sy wees of jou maat dreig om jou te los as jy nie met hom trou nie.
4 Kan jy kies voor jy ervaring gehad het?
Daar is gewis baie visse in die see en dit is ’n insig wat werklik net met tyd kom. Dis soms moeilik om te weet wat presies jy uit ’n verhouding soek as dit jou heel eerste verhouding is.
5 Wat sê jou vriende en ouers van die verhouding?
As hulle daarteen gekant is, is daar dikwels genoeg rede om twee keer oor die wenslikheid daarvan te dink.
Laat dit werk
Om te trou hoef nie te beteken dat jy al jou drome prysgee nie, maar jy moet besef dit kan soms moeiliker wees om hierdie drome waar te maak as jy iemand anders in ag moet neem.
As jy dit steeds kies, moet jy besef dat dit baie harde werk verg om die verhouding oor tyd in stand te hou, sê Johan. “Jy gaan nie vir altyd verlief bly nie en sal ander dele van die verhouding moet ontwikkel om dit te laat werk.”
Daar moet altyd pret in ’n verhouding wees, maak nie saak hoe oud jy is nie, sê Johan.
*Skuilnaam