Jean Désiré Gustave Courbet is in 1819 in die Franse dorpie Ornans gebore.
Johan Myburg
In 1839 is hy na Parys en in die 1840’s het hy verskeie selfportrette, straks nog met ‘n sweem van die Romantiek, geskilder.
Dit was op besoek aan Nederland en België in die laat 1840’s waar hy na aanleiding van die skilders van die Goue Eeu, soos Rembrandt en Hals, gesnap het skilderkuns gaan oor die lewe!
Ná die sukses van sy Begrafnis in Ornans, 1850, het Courbet iets van ’n glanspersoon geword in die Paryse gemeenskap. Meer as sy uitgesprokenheid omtrent realisme in die kuns het hy ook vonke van politieke anarchisme aangeblaas in sy skryfwerk.
In 1855 het hy 14 tamaai-doeke ingeskryf vir die Exposition Universelle aan die Champs-Élysées in Parys. Drie daarvan, waaronder Begrafnis in Ornans, is afgekeur omdat dit te groot was. Courbet het sy werk onttrek en reg langs die amptelike Exposition sy eie uitstalling met 40 van sy werke aangebied.
Gustave Courbet se Jong vroue op die oewer van die
Seine, 1856, olie op doek. Dié werk han in die Paryse
Petit Palais.
In die tyd van die Frans-Pruisiese oorlog het Courbet in 1870 betrokke geraak by die Paryse Commune, ’n revolusionêre regering wat Parys vir ’n wyle beheer het. Hy het onder meer voorgestel dat die die gedenknaald vir die seges van die Franse leër, opgerig deur Napoleon I op die Paryse Place Vendôme, gesloop moes word.
Ná die skade wat in 1871 tydens grootskaalse onluste in Parys aangerig is – die naald op die Place Vendôme is inderdaad omgetrek – is Courbet tot ses maande tronkstraf gevonnis vir sy aandeel.
Nadat hy sy straf uitgedien het, het hy uitgewyk na Switserland waar hy in 1877 dood is.