“Hoe lyk dit asof die katte jou kos afgeneem het?†vra ek Maandag vir ’n kollega (eintlik al ’n vriendin) wat by my kantoor inloer. “Dink jy ek’s te oud vir paaldans?†antwoord sy met ’n teenvraag.
“Hoe lyk dit asof die katte jou kos afgeneem het?” vra ek Maandag vir ’n kollega (eintlik al ’n vriendin) wat by my kantoor inloer. “Dink jy ek’s te oud vir paaldans?” antwoord sy met ’n teenvraag.
Wel, as jy by die lees van die skrywe soos ek besig was om ’n sluk koffie te neem, het jy waarskynlik ook nou byna verstik. En dalk om dieselfde rede as ek – nie van verbystering oor paaldans iets is wat ’n mens net fluister nie, maar van die lag. Want, soos ek, het sy ook reeds haar 50ste verjaardag gevier en ek kan nie rêrig een van ons twee om of op ’n paal sien dans nie. Ons lees liewer. En dit beteken hoegenaamd nie ek sou minder van haar hou as sy sal besluit om wel die stokperdjie op te neem nie – trouens, dan sou sy waarskynlik nie soos ek op dié Maandagoggend beswaarlik die trappe kon uitklim nadat ek en my geliefde die naweek in die tuin gewerk het nie. Ek kan my voorstel dat jy nogal soepel en fiks moet wees vir sulke toertjies.
“Daar’s iewers in my huis ’n waterpyp wat lek,” sê sy toe ek ophou lag. “En nou gaan dit weer geld kos, wat ek nie het nie, om die probleem op te los.” Dis duidelik dat haar Maandag blou is. As ek geld gehad het, het ek die pyp vir haar laat regmaak, maar soos die meerderheid van mense in die land, klop my begroting ook nie. Ek kan dus net na haar luister en saam die humor probeer sien in alledaagse gebeure wat ’n mens soms moedeloos maak.
Geld het ’n vreemde uitwerking op ’n mens se gemoed. As jou bankbalans goed lyk, is ’n lekkende waterpyp nie ’n probleem nie, hoogstens ’n irritasie, wat ’n loodgieter vinnig kan uitsorteer. Maar daar is situasies in die lewe wat ’n stywe bankrekening nie kan oplos nie en waar ’n mens op ander meganismes moet staatmaak om sin aan die lewe te gee.
Oorlog is een daarvan. In pak jou tas op bladsy 48, reis ons dié week saam met Maryke Roberts Kroasië toe. Net ná die einde van die oorlog in die destydse Joego-Slawië, het ek dié pas gewonde wêrelddeel besoek en in die kronkelstraatjies opgekyk na geboue met hul eie gapende wonde waar vensters in hul ongeskonde dae uitsig op ’n wonderlike landskap gebied het. Mense het tekens van honger, lyding en verlies duidelik op hul gesigte met hul saamgedra. Hulle het geweet wat dit beteken om swaar te kry en moes uit die rommel opstaan en met die lewe aangaan al is verminkte geliefdes en rye grys grafte barre getuienis van onmenslike lyding.
Dis ’n probleem wat ’n lekkende waterpyp op ’n Maandagmôre na kinderspeletjies laat lyk, want as daar oorlog heers, is geld niks werd nie, is daar geen water in die pype om te lek nie en is al die pale ook gebruik om wapens mee te maak. Dan moet jy put uit iets wat geld nie kan koop nie – menslike interaksie. Daarsonder is ons almal arm. Of ons saam lag of saam swaarkry, as jy weet daar is mense wat omgee, maak dit als soveel beter. Ons vergeet so dikwels om na mekaar uit te reik, om sommer net uitbundig saam te dans, om saam te lag. Ons moenie toelaat dat ’n oorlog ons dit moet leer nie.
“Ek dink nie ’n mens is ooit te oud vir paaldans nie,” skree ek agter haar aan toe my vriendin na haar kantoor toe loop. “Dankie,” skree sy terug … en lag.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.