As ernstige breinskade jou geliefde in ‘n vreemdeling verander, kom jy voor moeilike keuses te staan, sê Shanda Luyt in ons 20 Maart-uitgawe. Hier is nog wenke
Shanda Luyt
Rehabilitasie en terapie is baie belangrik, maar die meeste mense het beperkte begrotings, sê Maretha Labuschagne, arbeidsterapeut van die Cape Gate-terapiesentrum.
"Gesels eerlik met jou dokter oor die mate van herstel wat verwag kan word en stel daarvolgens prioriteite vir terapie wat julle gaan aanpak. Vra jou dokter om jou te help beplan watter terapie in die bepaalde stadium van herstel prioriteit behoort te geniet.
“Maak ’n afspraak met ’n konsultant van jou mediese fonds om uit te vind vir watter voordele jou geliefde kwalifiseer. Kry vooraf ’n ICD-10 kode van jou dokter. Dit is ’n kode wat jou geliefde se toestand beskryf. Mediese fondse het dit nodig om te bepaal watter voordele toegestaan word. Daar is sekere toestande (VMV) wat vir sekere minimumvoordele kwalifiseer.”
Praktiese raad vir die gesin
Maretha het die volgende praktiese raad om deur die eerste paar maande ná die breinskade te help:
• In die eerste weke ná ’n besering is dit belangrik om op posisionering te let. “Maak seker die persoon lê nie vir langer as twee uur in dieselfde posisie nie. Die drukking op die vel kan skade veroorsaak en tot druksere (bedsere) lei wat, as dit eers ontwikkel het, baie moeilik genees en ’n risiko vir infeksie inhou. Let veral op plekke soos die stuitjie en hakke. Laat weet dadelik jou dokter of verpleegkundige as jy ’n verandering in kleur van vel (rooi, wit of blou) sien.”
• Probeer so na as moontlik aan jou geliefde se roetine te hou: Dit help om hom of haar te oriënteer. “Maak die gordyne oop sodat hy of sy kan sien of dit oggend, middag of aand is. Noem dit ook aan die persoon. Wanneer dit etenstyd is, noem dat dit ontbyt of middagete is en wat op die spyskaart is. Noem in die oggende die dag van die week en wat julle gewoonlik dan doen, byvoorbeeld: ‘Vandag is Sondag – Piet en die kinders is gou kerk toe.’”
• Moedig onafhanklikheid aan tydens die herstelproses. “Moenie take by jou geliefde oorneem wat hy of sy dalk self kan doen nie, al neem dit langer of al lei dit tot ’n gemors soos wanneer hy of sy self probeer eet. Gee keuses by die kies van klere of haarstyle en sorg vir persoonlike higiëne – as die persoon nog selfversorgend kan wees, verleen so onopsigtelik as moontlik hulp waar nodig. Maak aanpassings in sy of haar kamer, die badkamer en gesinskamer sodat die pasiënt sover moontlik self kan funksioneer.”
• Gebruik kort en duidelike sinne wanneer jy met jou geliefde kommunikeer. Maak oogkontak en praat duidelik.
• Stimuleer jou geliefde deur oor dinge te gesels waarin hy of sy ’n belangstelling gehad het, al lyk dit dalk vir jou of daar nie reaksie is nie.
• Omring jou geliefde met dinge wat bekend is – foto’s en gunstelingvoorwerpe.
• Blaai saam deur boeke en tydskrifte en luister na musiek, of wat ook al lyk of dit reaksie by die pasiënt ontlok.
• Gesels sonder om te praat asof jy dink die persoon verstaan nie meer wat hy of sy voorheen verstaan het nie.
• Sorg vir veiligheid in die huis, afhangend van die persoon se vermoëns. “Afhangend van die fisieke en verstandelike vermoë moet gevare soos die temperatuur van badwater, gly in die bad, gevaarlike trappe en warm kastrolle op die stoof altyd as ’n risiko beskou word.”
• Skep sover dit moontlik is ’n koesterende en gelukkige atmosfeer in die huis. “Breinbeserings presenteer op verskillende maniere en affekteer al die huisbewoners. As die persoon begrip toon, moet daar nooit situasies ontstaan wat hom skuldig kan laat voel nie, en moet die ander gesinslede ook nie benadeel voel nie,” beklemtoon Maretha.