Die hertog van York wil kort ná sy ouer broer, Edward, koning van Engeland geword het, weet hoekom hy so sukkel om hom in die hande te kry. Vir Bertie, soos sy naby familie, Lionel, sy Australiese spraakterapeut, en ek in hierdie skrywe hom noem, is dit nie maklik om die vraag te vra nie.
Die hertog van York wil kort ná sy ouer broer, Edward, koning van Engeland geword het, weet hoekom hy so sukkel om hom in die hande te kry. Vir Bertie, soos sy naby familie, Lionel, sy Australiese spraakterapeut, en ek in hierdie skrywe hom noem, is dit nie maklik om die vraag te vra nie. Nie omdat hy skrikkerig is vir die nuwe koning nie – dis immers sy broer saam met wie hy deur ’n rits nannies grootgemaak is, maar Bertie hakkel sedert hy kan onthou en elke gedagte neem ’n wyle om oor sy lippe te kom. Hy moet dink voor hy kan praat.
Dié toneel in die rolprent The King’s speech, speel in die wynkelder van Balmoralkasteel af, waar gaste bo in een van die 100 vertrekke prettig partytjie hou aan huis (paleis) van die koning en sy Amerikaanse geliefde, die sosiale vlinder Wallace Simpson. Die koning is vinnig om sy broer, met ’n tipiese droë Britse sin vir humor te antwoord: “I’m busy kinging.” Dié humor kon ek nog altyd waardeer, hoewel die hele adelstandgedoente my nie beïndruk nie. My vermoede is dat as jou bloed blou is, jy met jou titel en nie noodwendig met jou vaardighede nie jou brood, botter en jêm kry (verdien beteken immers jy’t soos ons gewone sterflinge daarvoor gewerk).
Die koning is haastig om verder partytjie te hou, sy stotterende broer se vrae raak lastig en hy raak geïrriteerd met dié se gesukkel om verbaal gestalte aan sy gedagtes te gee. Hy raak gemeen en koggel Bertie oor sy spraakprobleem – nes toe hulle klein was – en binne sekondes is al Lionel se harde werk om Bertie se selfvertroue op volwasse ouderdom te herstel en hom aan die praat te kry, tot niet. Ek gee toe, die koning het reeds heelwat van sy beste 1923-wyne agter die blad, wat hom besonder spraaksaam maak en die arme man is onder groot druk. Hy moet kies: Wil hy koning-koning speel of wil hy met Wallace Simpson, vir wie hy lief is, trou ná die afhandeling van haar tweede egskeiding? Om koning te wees mét Wallace as sy vrou aan sy sy, is nie ter sprake nie. Die biskoppe sê nee, want hul stemme is die hardste en boonop maak hulle mos sommer die reëls van toentertyd af al. Maar dis nie die punt van my storie nie.
Wie van ons is nog nie geraak deur wrede woorde nie? Ek is seker ons kan almal voorvalle onthou waar die skerp tong van ’n medemens dit reggekry het om ’n stukkie van ons selfvertroue af te beitel. En as ’n mens genoeg kere onder daardie tong deurgeloop het, raak jy stil, begin jou selfvertroue stotter. G’n wonder daar is soveel terapeute wat die emosionele letsels van ondeurdagte woorde probeer heel nie. Maar selfs al was, of is, ons soms aan die ontvangkant, weerhou dit ons nie daarvan om ook wonde met woorde toe te dien nie – bewustelik of onbewustelik.
Soms is ons net te spraaksaam, eien ons ons die reg toe om te sê wat ons wil en raak ons dinge kwyt wat eerder kon gebly het. Omdat ons kwaad is, gespanne is, die mag het om dit te doen, dink ons is snaaks, of bloot net omdat ons dalk gemeen is.
En só kry ons dit reg om ander se stemme stil te maak. Dalk moet ons besef dat dit wat oor ons lippe kom, ons kinders se persoonlikhede help vorm, ons lewensmaats se siening van die liefde raak en medemenslike respek beïnvloed. Of jou bloed blou of rooi is, of jy ’n titel voor jou naam skryf of nie, of jy ryk of arm is, of jy ’n senior of ’n junior posisie by die werk beklee, of jy ’n bekende of onbekende is, ons almal is net mense wat deur ander se woorde geraak word en dikwels is die effek daarvan blywend. En terloops, om te sê wat jy wil, maar die gerieflike sinnetjie by te voeg dat dit nie persoonlik opgeneem moet word nie, is ook sinloos, want om mens te wees beteken jy is ’n persoon, so dit is persoonlik, maak nie saak hoe ons dit probeer regverdig nie.
Miskien moet ons almal soms stotter en soos Bertie huiwer voor ons iets sê, of dalk gewoon net dink voor ons praat.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.