“Nou’t ek ’n glas wyn nodig,†sê ek vir my geliefde toe ons by die teater uitstap nadat ons die intense rolprent Black swan gaan kyk het. Ons ry terstond na een van ons gunstelingrestaurante in Melville, waar ons by kerslig dié rolprent se vele fasette bespreek, want dis, soos my seun en dogter gesê het nadat hulle dit gesien het, “een van die bestesâ€. Natalie Portman verdien gewis haar Oscar.
“Nou’t ek ’n glas wyn nodig,” sê ek vir my geliefde toe ons by die teater uitstap nadat ons die intense rolprent Black swan gaan kyk het. Ons ry terstond na een van ons gunstelingrestaurante in Melville, waar ons by kerslig dié rolprent se vele fasette bespreek, want dis, soos my seun en dogter gesê het nadat hulle dit gesien het, “een van die bestes”. Natalie Portman verdien gewis haar Oscar.
Maar wees versigtig, as jy net ’n mooi, veilige storie met balletpassies soek, is dié een nie vir jou nie, want dit waag en sê veel meer. As jy egter iets van die donker en ligte kante van die lewe wil probeer verstaan, hoort die rolprent op jou moet-kyk-lysie. Dis wonderlik mooi, maar ook erg ontstellend en om al die fasette van dié rolprent te ontleed, gaan veel meer as ’n beskeie 750 woorde beslaan – jy kan ’n tesis oor feitlik elke faset daarvan skryf.
Aan die een kant is daar Tsjaikofski se hemelse musiek vir sy beroemde ballet Swanemeer, wat meesterlik bly en die grasie van balletdansers wat jou in vervoering laat. Aan die ander kant kom jy gou agter dat die bewegings wat balletdansers met oënskynlike gemak uitvoer, letterlik bloedsweet verg om in die balletwêreld te oorleef, soos Marlize Leyden ook in haar artikel dié week uitlig.
Maar dis die donker en lig van die lewe en die balans en wisselwerking tussen dié twee pole wat ons mense maak, wat myns insiens deur die dans van die wit en die swart swaan uitstaande en op ’n verskeidenheid maniere onderstreep word. Daarmee saam die obsessie wat perfeksie kan word en die relatiwiteit daarvan, én die kardinale rol wat ’n ma se eie mislukkings, foute, onvervulde drome en wanpersepsie van dít wat goed en sleg en reg en verkeerd is, in die vorming van haar kinders se selfbeeld speel. Dit word ineengevleg in ’n intense storie waaruit ons net kan leer en onsself en die wêreld waarbinne ons leef beter verstaan.
So dikwels leef ons ons lewe in wit en swart. Ons simboliseer wit met dit wat goed, reg en perfek is. Swart is negatief, verkeerd, imperfek en dikwels boos. Black swan wys meesterlik op die wanpersepsie wat ons van wit en swart het. Ons het inderdaad ’n wisselwerking tussen die twee pole nodig in ’n poging om gebalanseerd deur die lewe te gaan. Dit wys ons dat “perfeksie” juis in imperfeksie opgesluit lê en dat dit vir ons goed is om albei kante te ontgin en in tandem met mekaar te ervaar om balans teweeg te bring – maar dat ons moet waag en nie net binne die veiligheid van die bekende moet beweeg nie. In almal van ons is daar ’n wit en ’n swart swaan. As jy net met die skoonheid van die wit swaan, wat jyself en die gemeenskap as die perfekte voorhou, die lewe dans, gaan jy dit sonder vlerke doen. Ons het die swart swaan in ons nodig om te kan vlieg. Dit laat ons toe om foute te maak, om mislukte drome te verwerk, om passie te ervaar, om onsself te aanvaar – om al die fasette wat ons mens maak te ontgin.
Die ma in Black swan behoort jou twee keer te laat dink oor jou optrede teenoor jou kinders. Geen mens sou sê dat dié ma haar dogter nie liefhet nie, maar die effek van haar kritiek, onderdrukking, manipulasie en uitleef van haar eie mislukte drome deur haar dogter, is skrikwekkend.
Ek het ’n paar vriendinne wat reeds ’n halfeeu agter die blad het. Dis volwasse vroue wat in hul ma’s se geselskap steeds vier jaar oud is. En dié ma’s doen steeds dit wat hulle hul hele lewe gedoen het. Direk en indirek kraak hulle hul dogters, vir wie hulle lief is, af. Niks wat hulle doen, aantrek, sê en hoe hulle optree of dit wat hulle reggekry het, is goed genoeg nie. Hulle weet altyd beter hoe om dinge “perfek” te kry en laat geen ruimte vir “imperfeksie” nie. Dié soort ma’s haal die vreugde uit hul dogters se lewe en laat hulle nie toe om vlerke te groei en te vlieg nie.
Ek is dankbaar dat my ma my toegelaat het om die wit en swart swaan in myself te ontdek en deur haar oë sien sy in my imperfeksie net perfeksie. As ek dít met my kinders kan regkry, is dit een van die beste dinge wat ek in my lewe gedoen het – dis vir my so goed soos ’n Oscar in die storie van my lewe.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.