Die oorsprong van Moedersdag is moeiÂlik om presies vas te stel. Reeds in die antieke tye het EgipÂtenare, Grieke en Romeine op speÂsiÂfieke dae aan vroulike gode hulde gebring wat dié onderskeie nasies as moeÂderÂfigure van hul gode gesien het.
Die oorsprong van Moedersdag is moeilik om presies vas te stel. Reeds in die antieke tye het Egiptenare, Grieke en Romeine op spesifieke dae aan vroulike gode hulde gebring wat dié onderskeie nasies as moederfigure van hul gode gesien het.
Later in Europa, in die Christelike tradisie, is “Mothering Sunday” deur die Anglikaanse en Rooms-Katolieke Kerk as ’n spesiale Sondag daarvoor uitgesonder, laasgenoemde tot eer van die maagd Maria en die “moederkerk”. Die begrip “moederkerk” verwys na die kerke waar families aanbid het, en omdat groot dele van die bevolking in huise van welgestelde mense, ver van hul eie families gewerk het, het dit gebruik geword dat werkgewers hul werknemers op ‘Mothering Sunday’ afgee om hul families (ma’s) te besoek en die dienste in hul moederkerke te gaan bywoon. Blomme is op dié dag in die veld gepluk en in die kerk geplaas en aan ma’s oorhandig. Ook in die Moslem- en Hindoegelowe is daar ’n sterk fokus op die moederfiguur.
Wat ons vandag as Moedersdag vier, is waarskynlik aan Julia Ward Howe te danke wat in 1870 in pasifistiese protes teen onder meer die bloedige Amerikaanse Burgeroorlog ’n dag vir ma’s in die lewe geroep het. Sy wou hê ma’s moet saamstaan en nie meer toelaat dat hul seuns oorlog toe gestuur word om mekaar dood te maak nie. Sy’t gevoel dis ’n futiele oefening en het ’n beroep op ma’s gedoen om haar te ondersteun in die skep van ’n internasionale Moedersdag om vrede en moederskap te vier.
In 1912 het Anna Jarvis ’n handelsnaam aan die begrip “Moedersdag” gegee, ’n dag wat die eerste keer in 1909 gevier is. Sy het ook die Mother’s Day International Association op die been gebring. Sy het nooit getrou nie en die dag geskep om eer aan haar ma te gee wat sy haar lewe lank opgepas het. Met haar ma se dood het sy gevoel ma’s, soos haar eie, moet erkenning kry en in 1914 is die dag dan ook deur president Woodrow Wilson as ’n amptelike vakansiedag verklaar. Tot haar ontsteltenis het dié dag so gekommersialiseer geraak dat Anna tot haar dood in 1948 ’n teenstander van dié dag, wat sy in die lewe geroep het, geword het. Trouens, sy het al haar erfgeld spandeer om die uitbuit van die dag te beveg. Sy is selfs tydens ’n protesaksie vir rusverstoring gearresteer en het voor haar dood gesê sy is spyt sy’t dié dag begin omdat dit so buite beheer geraak het.
Wêreldwyd word daar om die een of ander rede, in die een of ander tradisie, ’n dag ter ere van ma’s gevier, maar ek het ambivalente gevoelens oor die viering van Moedersdag soos ons dit ken.
Aan die een kant is dit ’n manier om erkenning te gee aan ma’s en die belangrike rol wat hulle speel, maar aan die ander kant deel ek Anna Jarvis se mening dat dit so gekommersialiseer geraak het, dat die oorspronklike doel, soos met menige soortgelyke dae, verlore raak.
Jaypee Malherbe vier sy besondere band met sy ma op ’n ander manier. Op bladsy 42 gee hy die agtergrond vir die toneelstuk wat geskryf is om sy ma te bedank vir dit wat sy in haar lewe vir hom beteken het. Sy’t hom nooit laat voel hy’s odd nie en toe die kinders in die skool hom as “skeef” uitgekoggel het, het sy hom laat verstaan dis ’n Engelse woord en omdat al die Engelse mense op die dorp ghrênd was, het hy gedink hy’s ook ghrênd. Sy huldeblyk aan haar, wat hy jaarliks ná haar dood in die advertensiegedeelte van Die Burger plaas, doen hy nie op Moedersdag nie, want soos hy sê: “… vir my en Ma was elke dag Moedersdag.”
Joe Kennedy, Amerikaanse ambassadeur in Londen tydens die bombardering van dié stad in die Tweede Wêreldoorlog, het ’n jong vrou wat by die ambassade gewerk het, genooi om een aand na sy huis te kom om haar ma in Amerika te bel – ongeag die onkoste kon sy praat so lank as wat sy wou. Toe sy aflui, was sy woorde aan haar: “Wat ek nie sou doen om my ma te kon bel en net met haar te praat nie?” Sy ma was toe reeds lankal oorlede.
Miskien is die belangrikste boodskap wat Moedersdag bring dat ons moet onthou om die geleentheid te gebruik om vir ons ma’s, terwyl hulle nog leef, te vertel hoe spesiaal hulle is en dat ons dink hulle is ghrênd en vir die ghrêndes wat nie meer met ons is nie, ’n kersie aan te steek!
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.