Pierre Greeff deel sy resep vir die perfekte braaibroodjie met ons
Die Heuwels Fantasties word as een van ons voorste musiekgroepe gereken. As jy nog nie liedjies soos Beloofde land of Sonrotse gehoor het nie, maak ’n plan! Sanger en kitaarspeler Pierre Greeff is benewens musiek ook mal oor gholf en om lekker kos te maak. Hy geniet dit veral op om die vuur of in sy Monolith (Weber-kleioond) kos te maak. Pierre is gek na skaapvleis en kabeljou, maar ’n ontbyt of snackwich in die aand maak hom baie gelukkig.
LEES OOK: Jan Braai se braaibroodjie
Bestanddele
6 broodjies
12 snye witbrood
genoeg sagte, gesoute botter
3 tamaties, in skywe gesny
2 uie, in dun skywe gesny
sout en peper na smaak
250 ml (1 k) ses maande verouderde cheddarkaas
125 g (1 pakkie) Kiri-kaas
genoeg Wensleydale-kaas (mango en gemmer)
LEES OOK: Gerolde spinasie-en-kaas-brood
Metode
- Smeer brood met genoeg botter aan binne- en buitekant.
- Plaas tamatie- en uieskywe, sout, peper en cheddarkaas op ses snye.
- Brokkel Wensleydale- en Kiri- oor cheddarkaas.
- Plaas oorblywende ses gesmeerde snye brood bo-op.
- Braai vir ongeveer vyf minute aan albei kante oor kole of totdat kaas goed gesmelt is.
- Sit dadelik voor en geniet.
Wenke
Gebruik ’n riffelbraaipan op ’n stoofplaat as jy nie ’n vuur wil aansteek nie. Die geheim van ’n ekstra lekker braaibroodjie is om dit ook aan buitekante te botter